Rugbyspeler hou aan hoop twee jaar ná gru-botsing

Ulrich Bester voor die ongeluk. Foto: Facebook

Ulrich Bester (26), ʼn kranige rugbyspeler, se lewe het sowat twee jaar gelede onherroeplik verander nadat ʼn gru-ongeluk hom verlam gelaat het.

Nou, twee jaar ná die ongeluk, sê Bester dit gaan goed met hom, al is dit nie altyd maklik nie.

“My gemoedstoestand is goed. Ek het al aanvaar wat gebeur het en my vir alles gereedgemaak. Ek het besef ek lewe darem nog, so dit is nie die einde van die wêreld nie,” het Bester aan Maroela Media gesê.

“Soveel mense het my ondersteun en vir my mediese koste bygedra; dit het my baie gehelp. Ek het ook ʼn meisie ontmoet, dit gaan goed met my,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Bester het vir die Hartbeespoort-rugbyklub gespeel, asook voorheen vir die Pukke en die Luiperds.

“Ek was iemand wat altyd alles self gedoen het, en vir niemand iets gevra het nie. Dit is ʼn groot aanpassing om so afhanklik van ander mense te wees. Daar moet altyd iemand wees om vir my water aan te gee of my skoene aan te trek. Ek moet altyd vir iemand vra as ek iets wil hê, en dis nogal moeilik,” het hy gesê.

Ulrich Bester na die ongeluk (Foto: Facebook)

Bester moet nou elke dag oefeninge doen en kry fisioterapie om sy spiere te oefen en vordering te verseker.

“Wat my betref, vorder ek maar stadig. Dit is nogal frustrerend, maar ek vat dit maar dag vir dag. Ek doen steeds elke dag my oefeninge en sien gereeld fisioterapeute. Ek het darem al ʼn bietjie gevoel in my boarm en aan die kant van my arm,” het hy gesê.

Sowat ʼn jaar gelede kon Bester met behulp van ʼn robotpak weer loop.

“Hulle maak die hele pak aan jou lyf vas, so dit is eintlik die pak wat vír jou bene beweeg. Hulle het ook my hande vasgemaak aan ʼn loopraam omdat ek dit nie self kan vashou nie. En daar was mense wat my gehelp het sodat ek nie val nie.”

Bester sê hy gaan maar net aanhou oefen en bly hoop dat hy nog meer gevoel in sy arms sal terugkry.

“Ek wil graag gevoel in my arms hê sodat ek die rolstoel self kan gebruik. Dit is al waarvoor ek eintlik kan hoop – net om elke dag ʼn verbetering te maak deur te oefen, asook op lang termyn te verbeter.

“Ek het hierdeur geleer om meer geduldig te wees, rustiger te bly en net te besef: ek lewe nog, dit is nié die einde nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fransie ·

Vasbyt. Dit gaan nooit maklik wees nie, maar God het n doel met jou lewe. Daar gaan moeilike tye kom, maar bly glo. God sal jou nooit bo jou kragte laat versoek nie. Wys jou net hoe sterk God weet jy is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.