Rugbyspeler in hospitaal ná spinnekopbyt in kwarantynfasiliteit

Ruaan du Preez (Foto: Verskaf)

’n Jong rugbyspeler wag angstig om geopereer te word nadat hy oor die naweek vermoedelik deur ’n spinnekop by ’n kwarantynfasiliteit in Boksburg aan die Oos-Rand gebyt is. Hy moes dae lank sonder medikasie klaarkom en het naderhand gesukkel om asem te haal.

Ruaan du Preez (23) het Sondag vanuit Duitsland, waar hy rugby speel, in Johannesburg geland.

Hy en drie ander spanmaats is toe onder verpligte kwarantyn by die Birchwood Hotel in Boksburg geplaas. Die jong mans speel rugby vir ’n Duitse klub en is noodgedwonge na Suid-Afrika gerepatrieer weens die Covid-19-pandemie. Ruaan het egter nie verwag om kort ná sy terugkeer in ’n hospitaal te beland en dít nié weens die nuwe koronavirus nie.

“Ons is deur hel die afgelope paar dae,” vertel Werner du Preez, Ruaan se pa, aan Maroela Media.

Volgens Werner het sy seun hom Maandagoggend gebel om te sê van ’n bytplek aan sy arm. “Hy het gesê hy is bekommerd, want iets het hom Sondag gebyt en dit lyk niks lekker nie,” vertel Werner.

Werner het sy seun gemaan om dadelik vir hulp by een van die gesondheidswerkers by die fasiliteit aan te klop. Volgens Ruaan het hy reeds in ’n ry gestaan van mense wat by die betrokke fasiliteit deur gesondheidswerkers vir Covid-19 nagegaan word. Gesondheidswerkers kon egter nie veel vir hom doen nie.

Toe een van Ruaan se spanmaats Werner later die dag bel om te sê dat sy seun sukkel om asem te haal, het Werner onverpoos begin rondbel om die nodige hulp te ontbied. Werner vertel hy kon ná ’n gespook reël dat ’n gesondheidswerker ’n dokter bel om ’n voorskrif vir die nodige medikasie te kry. Die medikasie sou na die fasiliteit gestuur word. Intussen het ’n gesondheidswerker aangebied om die wond aan Ruaan se arm met soutwater skoon te maak.

Die bytplek aan Ruaan du Preez se arm. (Foto: Verskaf)

Teen Dinsdagoggend was Ruaan se arm bloedrooi, sy kop ontsettend seer en het hy steeds gesukkel om asem te haal. Ruaan het egter in dié stadium steeds geen medikasie ontvang nie en slegs ’n pynpil gedrink wat een van sy spanmaats by hom gehad het. Werner het weereens oproepe gemaak en is ingelig van ’n probleem met die bestuurder wat die medikasie sou bring. Daar was glo onduidelikheid oor wie die brandstofkoste van die rit sou dek. Daar was glo ook ’n probleem met die bybetaling by die apteek.

Werner vertel dat hy uit desperaatheid Dinsdagmiddag die bestuurder van die Birchwood Hotel gebel het, wat daarin kon slaag om ’n verpleegster te ontbied om na Ruaan se arm te kyk.

“Die verpleegster het uitgefreak toe sy Ruaan se arm sien en gesê hy moet dadelik hospitaal toe gaan,” vertel Werner. Ruaan is die betrokke middag omstreeks 16:00 eindelik na ’n hospitaal in Alberton geneem. Daar gekom, kon hy egter nie dadelik opgeneem word nie aangesien sy Covid-19-toetsresultate nog nie bekend is nie. Die jong man is met sy aankoms by die kwarantynfasiliteit vir die virus getoets.

“Ruaan is in isolasie, met ’n drup aan sy arm, geplaas en het geen kos gekry nie,” vertel Werner. Om sake te vererger kan Ruaan se ouers hom ook glad nie by die hospitaal besoek nie, aangesien hy onder kwarantyn is.

Weereens moes Werner talle oproepe maak voordat Ruaan eindelik omstreeks 21:00 opgeneem is. Hy wag intussen om geopereer te word. Die wond moet gedurende die operasie oopgemaak en ontsmet word.

Ruaan du Preez (Foto: Verskaf)

“Dit gaan nie goed nie. Ruaan het Woensdag heeldag sonder kos gewag om geopereer te word. Dit kon toe nie gebeur nie omdat hulle nog wag vir sy toetse. Hy het darem gisteraand kos gekry en wag nou weer om geopereer te word,” vertel Werner Donderdagoggend.

Volgens Werner het sy seun niks by hom in die hospitaal nie. “Hy het nie ’n tandeborsel nie. Hy het nie ’n handdoek nie. Hy het net die klere aan sy lyf waarmee hy hospitaal toe moes gaan.

“Dit is baie erg. Die ergste van alles is dat die mense wat weet hoe om hom te help in hierdie omstandighede ’n veer voel vir só ’n geval. Daar is net geen dringendheid nie. Ek is op.”

Dit is nog nie duidelik watter soort spinnekop Ruaan gebyt het nie.

Die bestuur van die Birchwood Hotel wou nie kommentaar lewer nie en het Maroela Media verwys na die Gautengse departement van gesondheid. Dié departement het nog nie op navrae gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Tiaan ·

Ruaan en familie, byt vas! Ons bid dat hy die nodige behandeling ontvang. Dit is jammer om the noem dat sulke gebeurtenisse is aan die orde van die dag is by staatshospitale. Die corona virus mag nie as ‘n verskoning gebruik word om nalatig te wees met ander mediese gevalle nie.

Werner ·

Die realiteit is dat hierdie gebeur in n privaat hospitaal. Ek sidder om te dink hoe dit in ‘n staat hospitaal sou gaan.

Johanncb ·

Ek hoop iemand, ‘n weldoener, in Alberton kan asseblief vir Ruaan help en sy ouers gerusstel!

Jaco ·

Ek raak nou keelvol vir hierdie drakoniese reëls!!! Vervlaks man, so as jy n noodgeval het maar onder kwarentein is moet jy maar doodgaan.. of as jy wel nie onder kwarentein is nie en hospitaal toe moet ry vir n noodgeval word jy dalk afgetrek en aangerand deur die polisie/weermag omdat jy nie n “phemet” het nie. Ek sien VREK baie hofsake aan die broei!!! Ek raak so opgewerk dat ek sommer wil begin drink….

Raakvatter ·

Weet jy Jaco, sou ek simptome van die virus wys, bly ek DOODSTIL, gaan koop iets by die apteek en hoop ek word gesond. Not the heck gaan ek enige iemand iets vertel nie.

My Mening ·

Dis asof geen ander siekte nou bestaan nie. Lyk my as jy nie die Carona virus het nie moet jy maar daar in ‘n hoek gaan sit en hoop jy word op jou eie gesond. Sterkte aan Ruaan en sy familie.

Lizanda ·

Ek wil gil as ek nog een keer die woord Covid 19 hoor – hierdie arme kind, ek hoop van harte hy word gou gesond, hoe vinnig hy in elkegeval uit daai hospitaal kan kom hoe beter vir hom.

Ou Baardbek ·

.Raaiskoot? Dit is in alle waarskynlikheid ‘n “Viool spinnekop”. Die gif is sititoksies en val die weefsel aan.
Kry kundige hulp so gou moontlik!

sterk soos n beer ·

lyk na vioolspinnekop byt hulle dink net aan corona virus nie eens aan spinnekopbyt nie

Ansie ·

Dankie Vader dat die Birchwood Hotel se bestuurder beskikbaar was. Watse soort “gesondheidswerkers” het hulle by daardie kwarantyfasiliteit?

daniel ·

Dit klink vir my of die departement geeñ kundiges in diens het nie, of is dit st velkleur?

Agge nee ·

Net weer ‘n bewys van hoeveel die regering vir ons lewens omgee. Daarom sal ek my nie laat toets vir Covid nie, want ek gaan my nie in ‘n plek laat opsluit nie. Jammer, dan gaan ek liewer in my eie buitekamer dood. Geen sorg geen hulp, geen medisyne en geen gevoel van ons gesondheidsdiens nie.

Mieke ·

En dan wil die regering ‘n nasionale gesondheids fonds op die been bring!!! Hulle kan die arme man nie eers help nie – wat van die res??

Gemaskerde Sopbeen ·

Sterkte en byt vas. Kry regsadvies en dagvaar die Minister van “Gesondheid” in sy persoonlike hoedanigheid.

sterk soos n beer ·

as ek na sy arm kyk lyk dit na vioolspinnekopbyt

Cobus ·

Dit lyk soos n Sakspinnekop byt…was 5 Dae in Hospitaal…op my enkel…omdat dit op die arm is is dit naby aan vitals…selfde gif as pofadder…sitotoksies en neurotoksies…sodra die gat oop en skoon is moet dit behandel word om weet toe te groei….Kan weke vat selfsaande afhangend van die skade…baie sterkte met julle en jul seun…geheim is om klere uit te skud en om te dop voor jy dit aantrek…Sakspinnekop kom oral in huise en kantore voor…

Jaco ·

Nie een van die kommentare hier noem die regte rede vir sy slegte behandeling nie. Dis baie eenvoudig:
VERKEERDE VELKLEUR

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.