Rugbyspeler kan been verloor ná skietvoorval

Gert Roets en sy boetie Kobus. Foto: Verskaf

Gert Roets (23), ʼn belowende rugbyspeler van die Oos-Rand, kan moontlik sy been verloor nadat hy oor die naweek vermoedelik tydens ʼn mislukte rooftog geskiet is.

Carlene Horn (47), ʼn familievriend, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die voorval het Saterdag omstreeks 05:30 in Van Riebeeckpark in Kempton Park plaasgevind.

Roets, Devan Kruger (23), ʼn vriend wat saam met hom vir die Wolwe-rugbyspan uitdraf, en ʼn vriendin is die oggend by Kruger se huis afgelaai ná ʼn aandjie uit saam met vriende.

“Devan se huis is sowat 500 m van die treinstasie in Van Riebeeckpark. Die vriendin woon sowat 500 m ander kant die treinstasie. Gert en Devan het saam met hul vriendin na haar huis toe geloop en haar veilig daar besorg,” het Horn gesê.

“Toe hulle die eerste keer verby die stasie gestap het, het hulle twee mans op stoele daar sien sit. Dit het vir hulle gelyk of die mans uniforms aangehad het en hulle het aangeneem dit was veiligheidswagte. Toe hulle terugloop na Devan se huis toe het die mans nie meer daar gesit nie.”

Horn het gesê die twee jong mans was skaars 500 m van Kruger se huis af toe twee aanvallers hulle van agter af genader en bloot op hulle begin skiet het.

“Devan het in die veld in gevlug en Gert het in die pad af gehardloop. Nog twee skote is gevuur, waarvan een Gert in die heup getref het. Die koeël is reg deur hom en het sy hoofslagaar afgeskiet. Hy het geval, maar kon daarin slaag om op te staan. Hy het in die veld in gevlug waar Devan was, maar het toe in ʼn groot gat geval.”

Kruger het intussen gesien hoe die aanvallers sy vriend agterna sit. Die aanvallers het egter na Kruger begin soek toe hulle Roets in die gat sien val en hom vir die dood agtergelaat.

“Devan het hulle uitoorlê deur in die water in die waterkanaal in te sak sodat hulle hom nie kan sien nie. Toe hy uiteindelik sien die aanvallers is weg, het hy huis toe gehardloop en hulp ontbied,” het Horn gesê.

Die polisie is ontbied en was spoedig op die toneel. Roets moes met die hulp van die plaaslike brandweer uit die gat gehaal word, waarna hy in ʼn kritieke toestand met ʼn ambulans na die Tembisa-hospitaal geneem is vir mediese behandeling.

Gert Roets tans in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Gert was Saterdag van 07:00 tot 16:00 in die teater vir ʼn operasie. Hy is daarna in die hoësorgeenheid opgeneem waar ʼn ventilator aan hom gekoppel is en hy onder verdowing geplaas is.”

Sy ma, Yolanda Laas (59), en stiefpa, Louwtjie Laas (62), waak sedertdien by sy hospitaalbed.

“Die dokters het ná sy operasie aan sy ouers gesê hulle sal moontlik sy been moet amputeer aangesien sy hoofslagaar afgeskiet is. Dit het egter nog nie plaasgevind nie want hulle wil eers hê hy moet ʼn bietjie herstel ná die operasie.”

Volgens Horn het Roets Maandagoggend ʼn terugslag gehad toe sy hart gaan staan het, maar dokters kon hom deurhaal en hy veg steeds om sy lewe.

Jaco Lombard, ʼn afrigter van die Wolwe-rugbyspan, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Roets het as flank, agsteman en slot uitgeblink en het vanjaar vir die Wolwe se eerstespan uitgedraf. “Hy sou deel wees van die liga wat op 21 April afskop en toe gebeur dit. Ons is almal geskok oor wat gebeur het.”

Lombaard beskryf Roets as nederige, plat op die aarde persoon waarna mense opsien. “Hy is ʼn baie harde speler en gee altyd 110% vir sy span as hy op die veld is. Dis regtig ʼn groot terugslag en ons is baie bekommerd oor hom.”

Roets het nie ʼn mediese fonds nie en sy vriendekring en familie het saamgespan om pogings aan te wend om genoeg geld in te samel sodat hy so gou moontlik na ʼn private hospitaal oorgeplaas kan word vir spesialisbehandeling. Roets se werkgewer het ʼn bankrekening beskikbaar gemaak waarin skenkings inbetaal en bestuur kan word. Vir meer inligting, besoek Horn se Facebook-profiel of die Facebook-blad Help vir Gertjie.

Kapt. Lesibana Molokomme, polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Die Norkem Park-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.

Molokomme het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om met enige inligting na vore te kom wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Bel die polisie by 011 391 1814/5.

Gert Roets. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Gestremde ·

My innige simpatie met die onskuldige slagoffer. So gaan nog die hele blanke nasie uitvermoor word. Mense ek ken die persoon van geen kant af nie, maar doen nogsteeds ‘n beroep op die publiek om die persoon finansieël te help. As ek finansieël in staat was sou ek ook ‘n bydra gelewer het. Die persoon kan sy been verloor en daarna as ‘n gestremde geen toekoms hê nie of hy kan ook septiese wonde ontwikkel met erger komplikasies.

Mieke ·

Ai tog, sterkte aan die familie en vriende. Mag die jong man die nodige mediese hulp kry en spoedig herstel.

Kan nie glo daar word net summier geskiet nie, VIR WAT!!? Ons land is besig om in chaos te verval met hierdie sinnelose geweld. Ek skryf dit toe aan sekere politici wat onverantwoordelike uitsprake maak en geweld aanhits. Dit kweek ”n kultuur van haat en onskuldige mense betaal die prys.

Magda ·

Dit is so hartseer. N belowende sportster se toekoms verwoed omdat die regering NET NIE OMGEE NIE!!! Sterkte aan hom en sy ouers.

Loraine ·

Stel ‘n eis in teen minister van Polisie. Dit kan nie so aangaan nie. Is ons dan nou wild wat gejag moet word?

Andrea ·

Probeer keer dat sy been nie geamputeer word nie, asb. Dis dalk nie die enigste oplossing nie. Wag tot hy by privaat hospitaal kan uitkom, asb. Die verlies vañ n ledemaat is oorweldigend.

Ronelle Mollentze ·

Dis sooooo hartseer. Kan “Good morning Angels” nie asb betrokke raak nie?

Koos ·

Ongelooflik. Mag die onmense wat dit gedoen het gou aan die pen ry.

Theresa B ·

Dis vreeslik. My hart breek vir die jong man en sy geliefdes. Hoe kan ‘n mens positief bly in hierdie land………….??!!

Piet ·

Nou waar kom hulle daar aan dat dit enige iets met roof uit te waai het? Hulle is geskiet want hulle was wit.

Nita ·

Die tipe onsinnige aanval word veroorsaak deur die politici se uitsprake teen wittes. Hulle blaas haat teenoor wittes aan. Openlik! En geen haan kraai daarna nie.

Gatvol ·

Vriende, en mede Suid Afrikaners.
Wit, swart, bruin….
Tyd dat ons die regering aanvat en dagvaar vir elke aanval wat teen ons gemaak word.
As jy onder ‘violent crime…’, deurgeloop het, neem hierdie mense wat joú…óns, nie kan beskerm na die hof, en EIS!
Ons is belastingbetalers en is geregtig op beskerming van die regering….(Polisie)
As hulle dit NIE kan bied nie, moet HULLE alle regskostes ook betaal, sowel as eise… of ONS hou op met belasting betaal, omrede NIKS positiefs met ONS geld gedoen word!
Hierde arme seun wat sy been moontlik gaan verloor??!!
Hoekom moet HY daaronder ly, dat hy in hierdie patetiese omstandihede leef??
Sy ouers, familie, vriende.. betaal en betaal en betaal vir jaaare!!
Nee. Dis onaanvaarbaar!
Slaan hulle waar dit die seerste maak.
Hulle gee nie om vir lewens nie.
NET VIR HULLE BEURSIES!

Ouma ·

Kry hom so gou moontlik in ‘n private hospital sodat ‘n vaskulêre chirurg die aar kan herstel en hy die beste sorg deur ander chirurge kan kry. Sterkte. Ek bid jy behou jou been en kan weer rugby speel. Boewe het geen gewete meer nie. Die hel is letterliklik los. Wit en swart loop ewe veel deur onder geweld.

Piet ·

Wit en swart pleeg nie ewe veel geweld nie, Ouma. As jy nie kan sien waar die probleem le nie sal jy ook niks daaraan kan doen nie.

Danie van Zyl ·

Watter gemeenskap moet inligting aan hierdie polisie “baas” verskaf. Gaan oortuig die gemeenskap waaruit die aanvallers kom om met inligting na vore te kom. Jy soek op die verkeerde plek, maar dit maak seker nie saak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.