Rugbyspeler met moord op student verbind

Ntokozo Xaba is moontlik deur haar ekskêrel vermoor. (Foto: Facebook)

ʼn Student wat al vir die Blou Bulle  uitgedraf het, is tans in aanhouding ná die moord op ʼn student aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) in Pretoria.

Ntokozo Xaba was ʼn derdejaarstudent aan die TUT en is Woensdagaand vermoedelik deur haar voormalige kêrel met ʼn mes in haar studentewoning in Pretoria doodgesteek. Dié nuus, met foto’s van Xaba en haar kêrel, word sedertdien wyd op sosiale media gedeel. Hy het verlede jaar vir die Blou Bulle se junior rugbyspan gespeel.

Die verdagte, wie se naam aan Maroela Media bekend is, studeer ook aan die TUT. Hy is tans in polisieaanhouding.

In reaksie op veelvoudige sosialemediaplasings waarin die verdagte by die moord geïmpliseer word, het die Blou Bulle Rugbyunie Saterdag ʼn verklaring uitgestuur. Hierin bevestig die unie dat ʼn jong rugbyspeler wat die span gedurende die Blou Bulle Country Districts in 2022 verteenwoordig het, by die saak betrek word. Die verdagte het nooit ʼn kontrak met die Blou Bulle gehad nie.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie het sy opregte medelye aan Xaba se familie betuig. “As ʼn ouer en oupa kan ek my nie eers indink watter pyn en lyding julle nou deurmaak nie (…) Ek hoop en bid dat God se liefde vir julle berusting in hierdie aaklige tyd sal bring.”

Volgens Strauss kan die unie weens die ernstige aard van die saak tans nie verder kommentaar hieroor lewer nie.

Maroela Media wag nog vir terugvoer van die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.