Rugbyspeler se lewe eersdaags gedenk

Gert Roets. Foto: Verskaf

Gert Roets (23), die belowende Wolwe-rugbyspeler van Kempton Park wat Saterdag dood is nadat hy in ʼn vermeende mislukte rooftog geskiet is, se lewe word Maandag op sy tuisveld gevier.

Jaco Lombard, ʼn afrigter van die Wolwe-rugbyspan en die familie se woordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê Gertjie, soos wat sy geliefdes hom noem, se gedenkdiens vind om 14:00 by die Wolwe se rugbyklub in Greenlaan in Zuurfontein plaas.

“Sy familie het versoek dat sy gedenkdiens by die rugbyklub gehou word aangesien dit ʼn hele aantal mense kan akkommodeer en omdat die klub vir hom soos ʼn tweede huis was,” het Lombard gesê.

“Enigiemand is welkom om die diens by te woon en só Gertjie se nalatenskap te vier. Mense wat die diens wil bywoon word versoek om blou denims en wit hemde te dra. Blou was Gertjie se gunsteling-kleur.”

Roets word ná die diens in die Zuurfontein-begraafplaas ter ruste gelê.

In aanloop tot Maandag se diens gaan daar voor Saterdag se wedstryde een minuut se stilte vir Roets gehou word.

“Gertjie se familie het gevra dat ons almal bedank vir hul ondersteuning die afgelope week. Almal wat gebel het, gaan kuier het, Facebook-boodskappe gestuur het en dié wat skenkings gemaak het. Hulle waardeer dit uit die diepte van hulle harte. Hulle wil ook baie dankie sê vir Tembisa-hospitaal, die dokters en die verpleegpersoneel wat na Gertjie omgesien het en hom versorg het.”

Intussen gaan ʼn spesiale konsert vanaand [Vrydag] voort wat die Boeremusiekgilde se Witwatersrand-tak gereël het waartydens die Afrikaanse sanger Brendan Peyper gaan optree. Die konsert vind om 18:30 by Laerskool Birchleigh plaas.

“Alle geld wat ingesamel word gaan vir Gertjie se begrafnis en dit wat oorbly sal geskenk word aan iemand wat deur ʼn soortgelyke tragedie is.”

Maroela Media het vroeër berig Roets is op 7 April omstreeks 05:30 in Van Riebeeckpark in Kempton Park geskiet. Roets, Devan Kruger (23), ʼn vriend wat saam met hom vir die Wolwe uitgedraf het, en ʼn vriendin is die oggend by Kruger se huis afgelaai ná ʼn aand uit saam met vriende.

Roets en Kruger het volgens die familie ná die kuier saam met hul vriendin na haar huis toe geloop om haar veilig tuis te besorg. Kruger se huis is sowat 500 m van die treinstasie in Van Riebeeckpark en die vriendin woon sowat 500 m anderkant die treinstasie.

Nadat die vriendin veilig by haar huis terugbesorg is, het twee verdagtes op pad terug na Kruger se huis lukraak op Roets en Kruger losgebrand. Albei vriende het gevlug en die verdagtes het later ook op die vlug geslaan.

Die hoofslagaar in Roets heup is tydens die voorval afgeskiet. Hy was verlede Saterdag nagenoeg nege uur lank in die teater in ʼn poging om die slagaar te herstel. Hy is onder verdowing gehou en was aan dialise en ʼn ventilator gekoppel. Sy been is op 13 April noodgedwonge geamputeer in ʼn poging om sy lewe te red, maar hy het Saterdag in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Kapt. Lesibana Molokomme, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê die saak van poging tot moord is nou na moord verander. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

Molokomme het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om met enige inligting na vore te kom wat die Norkem Park-polisie in hul ondersoek kan bystaan. Bel die polisie by 011 391 1814/5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lee ·

Ai dis tragies. En altyd die normale antwoord van SAPS – Nog niemand is in hegtenis geneem nie. Het die SAPS nie meer speurders wat bekwaam is om leidrade op te volg nie??? Iemand by een van die huise om die stasie sal defnitief CCTV kameras ophê. Doen julle werk SAPS. Dis tyd dat julle wakker word of gee ‘n belonging uit. As geld betrokke is sing almal soos canaries!!

AG ASSEBLIEF TOG ·

Ag ou baas speurder Faber, as jy so baie van polisie werk af weet, hoekom neem jy nie die ondersoek oor nie? Of is jy soos menige van die “keyboard grootmonde” wat heeldag sit en kritiseer en kla en kerm oor alles? Kry eerder vir jou n ou stokperdjie. Want duidelik weet jy minder as niks van polisie werk af nie.

AG ASSEBLIEF TOG ·

Baas speurder Faber, was jy al by die huise daar gewees, dat jy so seker is dat hulle “definitief” kameras sal wees? Want dit wil voorkom asof jy oornag n kenner in ondersoek werk geword het.

MOEG VIR DIE ONDANKBARE MENSE ·

n Goeie speurder vat sy tyd om n ondersoek te doen. Hy volg al sy leidrade stelselmatig op. Hy hou die media in die donker oor die vordering van sy ondersoek. Want dit is belangrik om net met die media te praat as dit die ondersoek kan bevorder, anderste s’ns nie. So, jy het regtig nie nodig om te weet of daar al arrestasies gemaak is of nie. Al wat jy hoef te weet is om jou uit die saak te hou, dankie.

Willa ·

En so het die lewe en die noodlog nóg ‘n familie ‘n lelike streep getrek. :( :(

Marinda ·

Baie hartseer storie die.
Sterkte aan sy ma en die res van die familie.

Oom Kalahari ·

Die jongman was in die fleur van sy lewe en soos verstaan ‘n kranige rugbyspeler vir sy plaaslike rugby klub. Regtig hartseer dat mens nie eers meer vryelik kan rondbeweeg sonder om ‘n teiken te wees nie. Alle simpatie aan Gert se Ouers, broers, susters, familie, vriende, rugby klub maats en afrigters asook werks kollegas en mag jul almal berusting vind en die hartseer verwerk oor die verlies van ‘n geliefde. Sterkte en mag sy ster vir altyd by jul skyn. Hoop graag daar sal oorweging geskenk word om ‘n gedenk plaat ter ere van Gertjie opgerig word. RIV in die Huis van God Gertjie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.