Rugbyspeler sterf ná besering

Robyn Fritz neem in ’n roerende huldebyk op Facebook afskeid van haar geliefde Kyle Barnes. Foto: Facebook

Die Kaapse klubrugbyspeler wat Sondag ná ʼn besering breindood verklaar is, het Donderdagoggend op sy tweeling se verjaardag gesterf.

Kyle Barnes (31) het die besering Saterdagmiddag in ʼn wegwedstryd van Goodwood se eerste span teen die Strand opgedoen. Hy is sedertdien op lewensondersteuning in die Mediclinic Vergelegen op Somerset-Wes gehou.

Barnes, wat verlede jaar van sy vrou, Tremaine, geskei is, se tweeling, Cayleb en Caylin, het vandag agt jaar oud geword.

Sy vriendin, Robyn Fritz, het kort ná sy dood op Facebook vriende, familie en belangstellendes vir hul ondersteuning bedank.

Sy skryf Barnes was iemand wat ander altyd gehelp het. “Jy het die lewe aan twee ander gegee deur jou organe te skenk. Ons weet dis wat jy sou wou hê.”

Fritz vertel in haar inskrywings dat sy Barnes Saterdag beloof het om deurentyd in die hospitaal by hom te waak. “Ek het tot die einde by jou gebly, want dis vir ons belangrik om beloftes na te kom.

“Verlede week het ek vir jou gesê: ‘My hart het by jou gestop,’ en dis beslis so. Ek sal nooit die eerste keer vergeet toe ek kom kyk het hoe jy rugby speel nie. Nadat julle die wedstryd gewen het, het jy teen die paviljoen opgehardloop en my ʼn soen gegee. Ek gaan die manier mis waarop jy vir my van die veld af gewaai en oog geknip het,” skryf sy.

“Maar die belangrikste is hoe perfek ons gepas het wanneer ons gecuddle het en hoe jy my hand vasgehou het terwyl ons geslaap het.”

Sy skryf sy en Barnes was 18 jaar lank beste vriende, maar net ʼn maand lank is hulle liefde, vreugde en geluk gegun. “Ons was so opgewonde oor al die toekomsplanne wat ons gemaak het, maar die Here se plan vir jou was anders, my lief.”

Fritz sukkel om sin te maak van sy skielike dood. “Ek verstaan dit nie op hierdie oomblik nie en dis verskriklik moeilik om te aanvaar, maar ek probeer met alles wat ek het.

Kyle en sy eksvrou, Tremaine, by hul tweeling, wat op sy sterfdag agt jaar oud geword het. Foto: Facebook

“Jou pragtige hart, aansteeklike glimlag en vonkelende oë het harte gesteel waar jy ook al gegaan het. Jy het ʼn uitwerking op soveel lewens gehad en ander altyd met liefde en deernis behandel.”

Fritz sê Barnes was nie net sy ma, Shirley Barnes, se “sonskynkind” nie, maar het sonskyn in almal om hom se lewe gebring.

“Ek weet jy was nie perfek nie,” skryf sy, “maar jy het altyd jou bes gedoen en nooit moed opgegee nie. Die Here het jou kom haal terwyl jy besig was met die een ding waaroor jy absoluut mal was.”

Sy skryf hoewel hy in die vlees nie meer by sy geliefdes sal wees nie, “weet ons ons het ʼn beskermengel gekry wat altyd oor ons sal waghou.

“In ons laaste gesprek in die hospitaal het ek vir jou Psalm 121 en Jeremia 29:11 voorgelees. Ek het toe gevra of jy my hoor en of jy verstaan dat die Here ʼn plan met my lewe het. Jy het geantwoord en gesê: ‘Ja, ek weet dit.’”

Barnes, wat in Ravensmead gewoon en by die departement van gesondheid gewerk het, is Sondag geopereer omdat hy baie drukking op die brein gehad het, sê Goodwood se klubvoorsitter, Johann Vorster. Hy het uit die saal gekom en nog in ʼn stadium gereageer, maar is later breindood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ander Annie ·

Ai dit is so hartseer. Innige simpatie aan sy geliefdes, familie en vriende.

mc ·

Dis so ongelooflik hartseer, baie baie sterkte aan Kyle se familie en geliefdes. Julle is in ons gebede en gedagtes.

Hannelie ·

Ai dis so verskriklik hartseer. Vandag gee Maroela Media ons net hartseer nuus. Eers die jongman wat gebrand het, toe die 2 mans in die vliegtuig en nou Kyle. Mag jul 4 in vrede rus en jul families vertroosting ontvang. Sterkte aan die 4 gesinne en families.

Al ·

My hart gaan uit na sy geliefdes. Dis hartseer dat kinders nou sonder ñ pa moet grootword.

Katerina ·

Ai my hart is seer saam met sy geliefdes. Klink of hy n briljante siel was. Sy arme kindertjies ook..Vreeskik hartseer nuus. In n samelewing soos Suid Afrika is dit n ware tragedie wanneer so n goeie ordentlike liefdevolle mens sterf. My innige simpatie aan sy geliefdes.

AP ·

So verskriklik jammer, simpatie met sy familie, kinders en vriende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.