Rugbyster deur leeu aangeval

Scott Baldwin. Foto: Via Twitter

Vra maar vir die All Blacks – ʼn Britse en ʼn Ierse Leeu is nie ʼn maklike gedierte nie. Ook nie ʼn regte Suid-Afrikaanse leeu nie. Dít het Scott Baldwin van die Ospreys-rugbyspan vandeesweek agtergekom.

Baldwin, die haker van die Ospreys wat Vrydagaand teen die Cheetahs in Bloemfontein sou gespeel het, het op die moeilike manier agtergekom dat die Suid-Afrikaanse leeu heelwat meer byt in hom het as die Britse en Ierse Leeus se rugbyspan.

Die Ospreys het Woensdag op ʼn besoek aan die Weltevreden Wildoord buite Bloemfontein onder meer met klein leeutjies gespeel en na die grotes gekyk.

Vir die grote Baldwin, wat 114 kg weeg en reeds 34 toetse vir Wallis agter die blad het, het die oord se leeus agter die tralieheining egter nie gevaarliker as sy spanmaats gelyk nie.

En dis tóé dat hy besluit die passiewe diere agter die heining lyk so rustig en wollerig … Hy het sy hande deur die omheining gesteek, die leeu gestreel – en die gevolge ervaar.

Die leeu het met sy poot Baldwin se arm vasgedruk en hom behoorlik gehap. Baldwin het van die pyn geskreeu, maar hom darem gelukkig binne oomblikke losgewikkel.

Sy hand is ontsmet en hy het ʼn klomp steke gekry, maar moes die Ospreys se wedstryd teen die Cheetahs van die kantlyn af dophou. Die Vrystaters het met 44-25 gewen.

“Dit is seker die simpelste ding wat ʼn speler nog gedoen het waarby ek as afrigter betrokke was,” het Steve Tandy, afrigter van die Ospreys, aan verslaggewers in Bloemfontein vertel.

“Scott was sommer baie dom. As jy jou hand deur ʼn omheining by leeus steek, moet jy verwag dat jy gebyt sal word. Gelukkig is dit nie te ernstig nie en sal hy oor ʼn paar weke weer kan speel.”

Tandy het die wildoord van alle blaam onthef. “Die toerspan is duidelik gewaarsku waar hulle moet staan en om nie hul hande deur die tralieheining steek nie,” sê die afrigter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Maanhaar ·

Rooi kaart is te straf……geel kaart is genoeg en ‘n lekker stuk rumpsteak vir die ou grote terwyl hy wag om weer op te draf…..

jan_alleman ·

ons gaan nog n paar lekker grappe hieroor hoor , maar ek moet se die man is nogal braaf of hy net baie van wilde katte

LMF ·

Nee wat ek sal hom net n geel kaart gegee het hy moes geweet het om nie sy hand deur die draad te gesteek het nie daar is n rede hoekom daar n draad tussen hul was

LG Erasmus ·

Hoe lekker lag ek nou. Het nie gedink iemand sal so dom wees nie, maar hulle sê mos in Europa dat die leeus los rondloop in SA se stede, m.a.w. dus moet dit mak wees.

Jj ·

Nou wonder ek net: Gaan die mense nou daai oord ook boikot? Vra net!

A. Mac ·

Seker gedink dis van die leeus wat in Suid Afrika se strate loop saam met die olifante en renosters.

Lcom ·

Die leeu het hom Slegs gehap. (Proe).waar is die aanval.
Is daar enige melding gemaak oor n skoon broek?????????????????

Boet Fasie ·

Hy ken wragtig nie die verskil tussen ‘n leeu en ‘n huiskat nie -shame mens moet hom jammer kry , sy naam is nou met ‘n plank geslaan.

Johan Bester ·

Ek hoop nie die leeu word gestraf nie oc doodgeskiet nie eerder die dom vent.
Hulle was aangesê om n ent wegtestaan sê sy afrigter wat ook sê dit was stupid.

Boet Fasie ·

Daai leeu is nou behoorlik in die sop, poging tot moord in Suid Afrika, glo nie hy gaan maklik op borg vrygelaat word nie.

willie ·

Jj jy het maaf ñ siek sin vir humor!
Jammer vir hierdie Leeu speler, maar hy moet besef SA is leeu wêreld, hier bollie ñ tier!

Andrea ·

Gelukkig wou hy nie die leeu n soentjie gee nie. Dan was daai mooi gesiggie daarmee heen.

Adele ·

Opskrif moet dalk eerder lees: Stupid is as stupid does. Leeu het nie aangeval nie, speler het hand deur heining gedruk. Wilde diere is nie huiskatte nie

John ·

‘n Mens moet glo ook nie eers aan ‘n dooie leeu of een onder verdowing vat sonder handskoene aan nie, waarsku veeartse. Leeus se vel is uiters onhigienies en kan jou siek maak. Die bloed en vleis van gevrete diere bly vaskleef en vrot aan hul lywe.

Fritz ·

Bewys jou net een ding. Rugbyspelers is nie almal so slim nie.

Dries ·

Die groot katte van die veld van SA is nie die katte wat hulle in flieks soos Lion King sien nie, mens mors nie met hulle nie.

Vermeende ·

Hy moet sy sterre dank, dit kon die einde van sy loopbaan gewees het, die bakterie onder n leeu se naals en in sy bek is vreeslik.

Riette ·

Afrika is nie vir sussies nie. Ek het die video gesien. As jy stupid is moet jy maar die gevolge dra.

George ·

Dink die opskrif moet wees, leeu word aangeval deur dom speler.

Kaspaas ·

As ons in ń groep saam Scot Baldwin deur ń leeu sou aangeval word , sal ons niks oorkom nie, want Scot sal die leeu probeer “tackle”.

Michelle ·

Hoe stupid kan ‘n mens nou wees.
Wilde diere is nie speelgoed nie. Ek myself kom nie eers naby ‘n wildplaas of diertuin nie.
Ek persoonlik verkies die see.
Lieflik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.