Rugbyunie-beamptes vas vir bedrog, geldwassery

Die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) (Foto: Eastern Province Rugby Union, Facebook)

Voormalige senior beamptes van ʼn bekende rugbyunie in die Oos-Kaap het Woensdag vlugtig in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery. Die betrokke beamptes het oënskynlik in ʼn sindikaat saamgewerk en die unie uit derduisende rande bedrieg.

Die Valke het Woensdag vroegoggend vir John Scheepers (42), Eldridge Februarie (49), Johnny Oersen (51), Bantwini Matika (51) en Xoliswa Mbengu (48) van die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) in hegtenis geneem.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê daar word beweer dat die bedrog ter waarde van R450 000 in Desember 2019 plaasgevind het toe Februarie die visepresident van die unie en voorsitter van sy klubsake was. Matika was toe ook die visepresident en Scheepers was die klub se sakebestuurder.

“Daar word beweer dat ʼn plaaslike reëlingskomitee gestig is om toelaes van die Nasionale Lotery se verspreidingsfonds (NLDTF) te ontvang. Februarie was die voorsitter van dié komitee terwyl Matika en Scheepers ook lede was,” vertel Ngcakani.

Volgens Ngcakani is alle eise vir betalings ten opsigte van dié projek aan die finansiële bestuurder voorgelê vir verifikasie. Nadat die finansiële bestuurder die betalingsaansoeke nagegaan het, sou die finansiële bestuurder rekwisisies vir elektroniese fondsoorplasing (EFO’s) by Matika of Scheepers indien en dit goedkeur. Dit sou dan laastens aan die president van die unie voorgelê word vir magtiging om die betalings vry te stel.

“Op 12 Desember 2019 is ʼn vals faktuur van R283 000 vir ondernemings met die naam Local Lawncare and Landscaping – ʼn entiteit wat na bewering in Cradock gesetel is – glo aan die unie voorgelê. Die faktuur was vir die huur van sportvelde.

Xoliswa Mbengu (48) op pad na die hof (Foto: NVG Verskaf)

“Daar word beweer dat die bankbesonderhede op die faktuur eintlik aan Oersen behoort het, wat in dieselfde woonbuurt as Februarie gewoon het. Die twee mans was kwansuis kennisse. Daar is later vasgestel dat die adres van dié onderneming glo vervals is.”

Ngcakani sê Oersen het glo geen verhouding met die Local Lawncare and Landscaping-onderneming of die unie gehad nie.

“Die beweerde bedrog- en korrupsie-aktiwiteite het egter nie daar geëindig nie. Mbengu het ʼn spysenieringsonderneming, Noxie General Trading, bedryf wat deurlopende spysenieringsdienste aan die unie gelewer het. Op dieselfde dag in Desember is ʼn faktuur van R174 060 aan die unie voorgelê vir spysenieringsdienste wat na bewering deur hierdie onderneming gelewer is. Daar word beweer dat hierdie dienste nooit werklik gelewer is nie.”

Ngcakani sê hierdie twee fakture is glo deur Scheepers aan die finansiële bestuurder voorsien met die opdrag om dit te verwerk en betalings van die NLDTF te maak. Die EFO’s is ook glo deur Scheepers goedgekeur en deur Matika vir goedkeuring onderteken.

“Die unie se president het egter nie hierdie betalings goedgekeur nie.”

Bantwini Matika (51) en Eldridge Februarie (49) op pad na die hof,(Foto: NVG Verskaf)

Volgens Ngcakani word Mbulelo Gidane in November 2019 die voorsitter van finansies vir die unie. Daar word beweer dat Februarie en Matika hom in Februarie 2020 probeer oortuig het om te help met die magtiging en betaling van die twee fakture. Daar word verder beweer dat Februarie ʼn stap verder gegaan het en Gidane omkoopgeld van R100 000 aangebied het.

Scheepers, Matika en Februarie staan tereg op twee aanklagte van bedrog en Oersen en Mbengu op een klag van dieselfde misdryf. Klagtes van geldwassery staar Scheepers, Matika, Mbengu en Februarie boonop in die gesig.

Februarie word ook aangekla van korrupsie nadat hy Gidane probeer omkoop het.

“Adv. Tjaart van Zyl het nie die beskuldigdes se aansoek om borgtog teengestaan nie omdat hulle met die polisie saamgewerk het en geen strafregtelike skuldigbevindings gehad het nie. Hulle beskik ook oor vaste woonadresse.”

Matika is borgtog van R1 000 toegestaan terwyl die ander op borgtog van R500 vrygelaat is. Hulle sal na verwagting weer op 8 Maart in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Port Elizabeth verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hansie

Dis nog kleingeld daardie. Julle moet verder krap. Daar is nog baie. En dan moet julle sommer WP se kantore ook besoek.

Hannes

Hulle het geleer by die Watsons.

Abie

Baie dankie aan MM vir deeglike gedetaileerde beriggewing soos die berig oor OKRU bedrog.

Casper

Is daar dan nog geld oor na die politiek verontregte Cheeky Watson weg is.Wanneer verskyn hy weer in die hof?

Hennie J

Mooi so. Laat hulle gatte klap!