Rugbywedstryd gestop toe toeskouer mes inlê

Argieffoto. (Foto: Shutterstock)

ʼn Klubrugbywedstryd tussen twee Bolandse spanne, Never Despair en Porterville, moes Saterdag beëindig word nadat ʼn toeskouer een van Never Despair se spelers glo met ʼn mes op die veld bygekom het.

Die voorval het tydens ʼn A-spanligawedstryd by die Alfastraat-stadion in Malmesbury plaasgevind. Dit was halftyd.

Bennie van Rooi, president van die Boland Rugbyunie, sê die toeskouer is deur Never Despair se voorsitter, Lance Levendal, agternagesit en met behulp van ander spelers voorgekeer. Hy is daarna aan die polisie oorhandig. Dit is nie bekend wat tot die voorval aanleiding gegee het nie.

“Die ondervoorsitter van die klub, mnr. James Davids, ʼn paramedikus, het die gewonde speler behandel totdat hy per ambulans na die hospitaal geneem is.”

Luidens die unie se verklaring is die betrokke speler Sondag uit die hospitaal ontslaan. Sy naam en die omvang van sy beserings is nie bekendgemaak nie.

“Ná ʼn gesprek tussen bestuurslede van die twee klubs en die wedstrydbeamptes is die wedstryd afgelas omdat die skeidsregters te getraumatiseerd was om voort te gaan. Randall Swarts, voorsitter van die besoekende klub, Porterville, het aan Boland bevestig dat die gasheerklub se veiligheidsplan in plek was, met sigbare sekuriteit,” het Van Rooi gesê.

“Die traumatiese gebeure, alhoewel ʼn geïsoleerde geval, word in ʼn baie ernstige lig beskou deur die unie, wat onmiddellik in gesprek getree het met die klub om ʼn volledige verslag te kry om by die kern van die gebeure uit te kom.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Ons het ‘n geweldadige kultuur in SA.
Destyds toe my pa langs die rugbyveld vir my geskree het “steek hom!” het hy dit nie so bedoel nie… mens kan nie eers ‘n skeidsregter of speler wees deesdae sonder vrees nie.

George ·

Stop maar alle rugby liggas in die Kaap, nie die eerste keer nie, ook nie die laaste nie.

Boer ·

Mens weet dit is vir ons lekker om Klub Rugby te kyk by die stadions en dit is sulke mense wat dit gaan maak stop.

Henry ·

Nee wat stop klub rugby, Genoeg is genoeg of As n span se ondersteuners hulle nie kan gedra nie, Skors die klub vir n jaar . Hulle moet hulle mense opvoed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.