Runaldo Hendricks was ‘gedrewe, vol lewe’

Runaldo Hendricks. (Foto: Verskaf)

Vir die familie het die werklikheid van die dood van Runaldo Hendricks, bekend as akteur in die TV-sepie Getroud met rugby, nog nie behoorlik ingesink nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Hendricks (27) Saterdagoggend in ʼn motorongeluk in die Wes-Kaap dood is.

Sharmun Erasmus, die familie se woordvoerder, het intussen gesê die akteur was saam met drie ander passasiers op pad na ʼn rugbywedstryd op Tulbagh toe die ongeluk in die vroeë oggendure sowat 6 km buite Saron plaasgevind het. Die bestuurder van die motor het vermoedelik vir iets in die pad uitgeswaai en beheer oor die voertuig verloor voordat dit gerol het.

Hendricks, wat agter in die Ford Bantam-bakkie gesit het, is uit die voertuig geslinger en is na verneem word op die toneel dood verklaar. Die ander insittendes het ligte beserings opgedoen.

Erasmus, ook ʼn familielid van Hendricks, sê hy was ʼn gedrewe persoon wat “vol lewe” was.

Runaldo Hendricks en sy ouma, Magdelena Dankers. (Foto: Verskaf)

“Hy het altyd gelag of gesmile en altyd ’n motiverende, opbouende woordjie vir mense gehad. Hy kon by tye ook net stil wees, en dit was oukei. Hy was iemand wat vinnig onder jou vel kon inkruip.”

Erasmus sê Hendricks se ouma, Magdelena Dankers, is veral deur haar kleinseun se skielike dood geruk.

Hendricks het die afgelope ruk by Dankers in die Paarl gewoon aangesien hy besig was om van Pretoria te verhuis.

Volgens Erasmus was Dankers soos ʼn ma vir Hendricks – veral nadat sy ma, Runishia, in 2017 aan ’n brein-aneurisme dood is. Erasmus was Runishia se neef.

“Sy [Dankers] was baie lief vir hom en hy het dikwels uit Pretoria vir haar en ons as familie kom kuier.”

Erasmus sê die familie sal Hendricks se sprankelende persoonlikheid altyd mis.

Hulle is ook trots op dít wat Hendricks in sy lewe bereik het.

Hendricks se begrafnis vind op Saterdag 14 Mei plaas. Meer inligting sal later op Willy’s-begrafnisdienste se Facebook-blad gedeel word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Althes

Sterkte aan sy familie en in besonder sy ouma.

Chantel

Ai dis so hartseer. Ek dink aan julle in hierdie moeilike tyd. Sterkte aan almal wat vir hom lief is.

Samuel

Berig: Die bestuurder van die motor het vermoedelik vir iets in die pad uitgeswaai en beheer oor die voertuig verloor voordat dit gerol het. En nou het RSA nog n persoon aan die dood afgestaan, wat heel onskuldig saam met vriende in n motor was. My innigste simpatie aan sy naasbestaandes, vriende en kollegas met sy afsterwe. Die bestuurder het vir iets op die pad uitgeswaai? Ek vermoed dit kon dalk n slaggat gewees het.

Madeleine

Baie hartseer
Baie sterkte

Hennie

Tragies. Nie geweet passasiers mag agterop n bakkie vervoer word nie.