Rusie lei glo tot huisbrand waarin man sterf

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Man van Rustenburg in Noordwes het Woensdagaand die huis waarin sy vrou, kinders en vriende was, aan die brand gesteek ná ʼn beweerde rusie tussen die egpaar.

Kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in Rustenburg, het aan Maroela Media gesê Rudi Prinsloo (39) het in die brand gesterf, terwyl sy vrou, Anita (43), ernstige brandwonde opgedoen het.

Die egpaar se twee kinders en vriende van die egpaar, Jacques en Adele Bezuidenhout, het ook brandwonde opgedoen. Volgens Augoustides het Adele en die twee kinders slegs geringe brandwonde opgedoen, maar is Jacques in ʼn kritieke toestand.

Maroela Media het vroeër berig paramedici is omstreeks 22:00 na die toneel in ’n veiligheidskompleks in die Cashan-woonbuurt ontbied. Met hul aankoms op die toneel was die vlamme reeds geblus. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê Rudi se liggaam is in een van die kamers aangetref.

Augoustides het Donderdag aan Maroela Media gesê daar het na bewering ʼn rusie tussen Rudi en Anita ontstaan, waarna Rudi gery het om petrol te gaan koop. “Anita het die veiligheidsbeamptes by die hek gevra om nie vir Rudi terug te laat in die kompleks nie, omdat hy gedreig het om hulle dood te maak. Die veiligheidswagte het Rudi probeer keer, maar hy het met sy voertuig deur die omheining van die kompleks gery,” het Augoustides gesê.

“[Rudi] het na bewering teruggekom en die huis met petrol besprinkel voordat hy dit aan die brand gesteek het,” het sy gesê. “Dit is moeilik om nou al te sê presies hoe die gebeure afgespeel het, maar die vermoede is dat van die petrol ook op hom gekom het en dat hy ook aan die brand geslaan het. Hy is op die toneel dood.”

Volgens Augoustides het die res van die mense in die huis na die boonste verdieping gehardloop om te probeer om van die vlamme weg te kom. Hulle kon uiteindelik daarin slaag om uit die brandende huis te ontsnap.

Jacques is tans in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal in Rustenburg, terwyl Anita na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas is.

Augoustides het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen en sake van poging tot moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Luister ·

Tragies. Lyk my die nuutste manier van probleme oplos, is nou om alles en almal te wil verbrand.

Stella ·

Ag die mense is smpel om soiets te doen,,,gebruik nie hulle verstand nie,dink net aan daai oomblik en niks Verder nie

Willa ·

Wil voorkom of brand steek aan die orde van die dag is. Ai, ai!

Tess Riekert ·

Hoe selfsugtig van hom om sy kinders deur al die trauma te sit. Het geen simpatie met die selfsugtige mens nie. Ons bid dat Jacques volkome sal herstel. Hopelik het hul reeds trauma-berading ontvang.

Charmaine ·

Wat ‘n tragedie. Ek wens mense wil gaan vir huweliksberading/sielkundige hulp of woedebeheer klasse voor dit in so iets ontaard!

Ingrid ·

Miskien moet julle eers hoor hoekom en waarom hy dit gedoen het…moet nie te vinnig oordeel en klippe gooi nie….Behalwe as julle hom persoonlik geken het….

Maryna ·

Daar is niks op hierdie aarde wat dit regverdig om jou huis aan die brand te steek terwyl jou kinders daarin is nie. Of jy hom ken of nie.

$ ·

Of jy iemand persoonlik ken of nie… sê jy daar is in sekere gevalle regverdiging vir so ‘n daad? Dis kommerwekkend as dit jou mening is…

Mariet ·

Dis sò tragies en niemand van ons weet wat règtig gebeur het nie. Ons kannie oordeel nie…sterkte aan Jacques en die ander wat beserings opgedoen het…

Jvsplice ·

Dit gaan nie goed met my swaer nie. Ons staats hospitale gee nie meer om vir ons nie. Hulle sê hy gaan nie lank lewe nie so daar is niks wat hulle kan doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.