Rusie lei glo tot moord

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Man wat na bewering sy vriend op ʼn kleinhoewe naby Vanderbijlpark vermoor het voordat die liggaam in ʼn vlak graf begrawe is, is in hegtenis geneem danksy inligting wat deur die plaaslike AfriForum-buurtwag aan die polisie verskaf is.

Ao. Simon Mofokatsana, polisiewoordvoerder in Vanderbijlpark, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn 40-jarige man en ʼn 29-jarige vrou Donderdagmiddag in verband met die moord vasgetrek is. Mofokatsana wou nie veel inligting oor die moord bekendmaak nie uit vrees dat dit die polisieondersoek mag benadeel.

Volgens Mofokatsana het die moord Dinsdagaand op ʼn kleinhoewe in die omgewing plaasgevind. Die verdagte, ʼn man, het glo by ʼn vriend gekuier en dié twee het in ʼn stryery betrokke geraak voordat die vriend vermoor is. Die oorledene se liggaam is later in ʼn vlak graf in ʼn veld in Vaalpark gevind.

Corne Cronje, AfriForum se veiligheidsvoorsitter in Vanderbijlpark, het aan Maroela Media gesê ʼn vrou wat van die moord kennis gedra het, het AfriForum gekontak om hulp te vra.

“Ons het die nodige inligting by haar gekry en dit deurgegee na ons kontakte in die gebied sodat hulle almal op die uitkyk kon wees vir die verdagte se motor. Ons het ook die inligting aan die polisie deurgegee wat onmiddellik ʼn soektog na die verdagte van stapel gestuur het,” het Cronje gesê. Hy het gesê die verdagtes is binne 17 uur nadat AfriForum inligting oor die moord ontvang het in Riverstraat vasgetrek.

Mofokatsana wou nie sê hoe die tweede verdagte, ʼn vrou, na bewering by die moord betrokke is nie, maar het gesê albei verdagtes sal Maandag op ʼn aanklag van moord in die hof verskyn. Hy wou ook nie die naam van die oorledene bekendmaak nie.

Cronje het gesê die vinnige inhegtenisneming is danksy AfriForum en die SAPD se goeie samewerking. “As ons nie die korrekte inligting kon kry en vinnig aan die relevante persone versprei nie, sou die polisie nie so vinnig kon optree om die verdagtes vas te trek nie. Ons is trots op die samewerking van die onderskeie partye,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christa ·

Ek hoop die ANC en ander partye sal nou kan sien Afriforum is NIE aardsvyande nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.