ʼn Man het homself aan die polisie oorgegee nadat hy Maandag glo sy vriend in Johannesburg se middestad met ʼn skerp voorwerp doodgesteek het.
Ao. Xoli Mbele, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die verdagte het homself Dinsdag omstreeks 16:00 aan die polisie oorgegee.
Sibusiso Nala (30) is Maandagmiddag by die Calcium-gebou op die hoek van Goud- en Jeppestraat een keer met ʼn mes in sy bolyf gesteek.
“Die oorledene en die verdagte was vriende,” het Mbele gesê. “Hulle het glo ʼn rusie gehad oor ʼn vermiste selfoon. Hulle het begin baklei en die verdagte het ʼn mes uitgepluk en sy vriend gesteek.”
Nala is op die toneel dood. Die verdagte het na Alexandra gevlug. Hy gaan na verwagting Donderdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.