Rusland vier 30 jaar se vriendskap met SA

Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa en Russiese pres. Wladimir Poetin tydens ‘n beraad in 2019. (Argieffoto: Sergei Chirkov/AFP)

Die Russiese ambassade in Suid-Afrika het Maandag in ʼn skrywe 30 jaar van diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande gevier.

“Rusland en Suid-Afrika vier vanjaar ʼn belangrike herdenking. Op 28 Februarie 1992 het ons twee lande diplomatieke betrekkinge gevestig. Ons wens ons Suid-Afrikaanse vriende geluk met dié geleentheid. Vir 30 jaar lank loop ons twee lande al saam op die pad van gemeenskaplike begrip, respek en vriendskap,” lui ʼn verklaring wat op die ambassade se webwerf gepubliseer is.

“Vriendskaplike bande tussen ons twee lande dateer tradisioneel terug tot die tye van ʼn struggle teen die apartheidsregering. Die vertroue en menseverhoudinge wat ons in daardie stadium gevorm het, het oor die jare heen net al hoe sterker geword. Ons kan vol vertroue sê: Dit is die basis van ons betrekkinge – ons mense het nog nooit apaties gestaan jeens die noodlot van mekaar nie.”

Die ambassade sê talle prominente ANC-lede, “ringkoppe van die revolusie”, soos Josiah Gumede, Moses Kotane en John Beaver Marks het in die 1920’s – 1930’s die Sowjetunie besoek. “Hierdie interaksie tussen ons mense het voortgegaan tot in die 1960’s en die 1980’s toe die USSR bystand verleen het aan vryheidsbewegings wat teen apartheid baklei het – eerste en hoofsaaklik aan die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en die ANC. Die Sowjetunie het humanitêre, finansiële en organisatoriese ondersteuning verleen, asook opleiding vir militêre en siviele spesialiste onder die swart bevolking van Suid-Afrika. Intussen het Sowjet-diplomate onverpoosd gewerk om die internasionale gemeenskap se aandag te vestig op die anti-menslike aard van die regime van rasse-segregasie. Dit is ten volle ondersteun deur die algemene burgers van die Sowjetunie, wat self die gruwels van die Nazi’s se boosaardige rasseteorieë beleef het.”

Volgens die verklaring voel Rusland geëerd met die feit “dat Suid-Afrikaners die nagedagtenis gekoester het van dié Sowjet-burgers wat hul lewens verloor het in die vryheidstryd in Suid-Afrika”.

Die verklaring verwys spesifiek na die Russiese gedeelte op die Muur van Name by Vryheidspark in Pretoria waarop die name van 67 weermagspesialiste van die Sowjetunie pryk. Dié muur is op 13 Desember 2018 onthul.

Die verklaring verwys ook na bilaterale betrekkinge tussen die twee lande, spesifiek ʼn vriendskapsooreenkoms en vennootskap uit 2006 en ʼn ooreenkoms wat in 2013 aangegaan is; samewerking op politieke vlak; en handel- en ekonomiese samewerking wat al hoe sterker word. “Heelwat groot Russiese maatskappye, soos Renova, Kaspersky, Severstal en Transmashholding is bedrywig in Suid-Afrika. Net so is Naspers, SABMiller en Mondi ook aktief in Rusland. Volgens Russiese statistieke is die algehele omset ná drie kwartale van 2021 ongeveer US$1,04 miljard. Die handelsvennootskappe tussen ons twee lande toon ʼn positiewe dinamika en op dié gebied is daar nog groot geleenthede wat ons kan ondersoek.”

Die verklaring verwys ook na Rusland en Suid-Afrika se suksesvolle samewerking in die internasionale arena binne die raamwerk van verskeie internasionale forums soos die Verenigde Nasies, G20 en Brics, toe Suid-Afrika in 2010 by dié vereniging aangesluit het. “Ons twee lande, en die ander Brics-vennote, het mettertyd voordelige samewerking ontwikkel in politiek en sekuriteit, ekonomie en finansies, en op die humanitêre gebied.

“Samewerking binne Brics is vir Rusland baie belangrik, omdat dit vandag een van die voorste verenigings is wat ʼn meer regverdige wêreldorde voorstaan gebaseer op die beginsels van nakoming aan internasionale reg, nie-inmenging in huishoudelike sake, gemeenskaplike respek en begrip. Ons beskou Suid-Afrika as die Afrika-vasteland se stem in Brics – ʼn platform wat drie vastelande saambind, naamlik Eurasië, Afrika en Suid-Amerika, en meer as 40% van die wêreldbevolking.

“In die volgende jaar (2023) sal Suid-Afrika voorsitterskap van Brics bekom. Ons is oortuig dat die herdenking XV Brics-beraad en ander geleenthede binne Brics baie suksesvol sal wees.”

Die eerste Rusland-Afrika-beraad is in 2019 in Sotsji gehou. “Ons is verheug dat ons Suid-Afrikaanse vriende belangstelling getoon het in en dié inisiatief ondersteun het. Die president van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, het die beraad bygewoon en gesprekke gevoer met die Russiese president Wladimir Poetin. Ons beskou dié beraad as ʼn platform om ʼn nuwe blaadjie om te blaai in Rusland se betrekkinge met die Afrika-kontinent. Ons is vol vertroue dat ons saam met Suid-Afrika, en ander Afrikalande, dié bladsy in die geskiedenis absoluut wonderlik kan maak. Ons in Rusland is verbind om daardie doelwit te bereik met die tweede Rusland-Afrika-beraad wat vir 2022 geskeduleer is.

“Ons wil ons Suid-Afrikaanse vriende weereens gelukwens met die 30ste herdenking van diplomatieke betrekkinge tussen Rusland en Suid-Afrika. Ons wens vir julle vrede, geluk en voorspoed toe. Met ʼn ryk geskiedenis van bilaterale bande wat ons reeds het, is ons gereed om dié nalatenskap verder uit te brei, en nuwe maniere en gebiede van samewerking te vind tot voordeel van ons twee lande. Laat die 30ste herdenking nuwe krag wees vir ons betrekkinge.”

Die verklaring maak geen melding van die onlangse aanvalle wat Rusland teen Oekraïne geloods het nie.

Daar is ook nie enige melding van die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) se versoek dat Rusland sy magte onmiddellik uit Oekraïne moet onttrek in ooreenstemming met die VN se handves nie. Dié departement – onder leiding van min. Naledi Pandor – se verklaring het pres. Cyril Ramaphosa en die ANC glo briesend gehad en daar word sedertdien oënskynlik geskarrel om Suid-Afrika se verhouding met Rusland weer te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Anel ·

Tweegatjakkels!! Nie inmeng in ander se huishoudelike sake nie!! Wat doen julle nou in Oekraïne?? En hoeveel onse het jy in jou pond? Ek is baie beslis nie een van hulle nie!! En julle bly maar nog steeds die rooi gevaar!!!

Jaco ·

Rusland beskerm basies 2 etnies Russiese “volkstate” in die Ukraine. Die ANC sê niks. Die ANC is ook ten gunste van ‘n eie staat vir die Palestyne. Die ANC is ook groot vriende met China, wat ‘n groot mate van selfregering en outonomie aan Hong Kong en Macao gee. . NET ‘n volkstaat vir Afrikaners/wit mense in SA is blykbaar verkeerd. Hoe dan nou? Dis mos dubbele standaarde

minnie muis ·

jy kan nie redeneer met n huursoldaat en terrie wat in 94 sy ak moes in gee en toe n pen en papier gekry het en gese stout seun … nou moet jy soet wees

Marthinus W ·

Dis ekonomiese oorlewing. Sonder om te spog kan ons argumenteer dat ons witmense steeds vir n groot deel van die ekonomies groei verantwoordelik is. Indien ons n eie staat het, gaan ons BNP groter word as SA s’n.

Deon ·

Ek lees die berig as volg, “anc onthou julle ons het julle gehelp, so nou is dit tyd om reg te staan as ons as rusland die gunste wil begin inroep”… En natuurlik word alle hoeke gedek van die verhouding

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Hoeveel mense het aan die hand van die “Apartheidsregering” gesterf? En hoeveel miljoene mense het aan die hand van Russiese kommunisme gesterf? En huidiglik val kommunistiese Rusland soewereine Oekraïne wat die demokratiese pad wil stap, aan onder die vaendel van vele groot leuens!
Waarom het ons die “Koue Oorlog” in die 20ste eeu gehad? Omrede Rusland het ten doel gehad die uitbreiding van kommunisme wêreldwyd. Vandaar hul steun aan die SA Kommmunistiese Party. Die ANC was bloot ‘n meevallertjie. En so figureer kommunisme in SA onder die rookskerm van sosialisme. Wie regeer regtig in SA? Die ANC? Regtig? Die klein kommunistiese-elite in Suid-Afrika? Beslis. Ek twyfel of Ramaphosa goed onderlê is in geskiedenis. Kommunisme is ‘n euwel.

Marthinus W ·

Die meerderheid Russe was en is nie kommuniste nie. Die leiers het hulle in toom gehou met die geheime polisie: eers die Tsjeka, toe sy opvolgers die NKWD en die berugte KGB. As dit nie vir hulle was nie, sou dit nie n kommunistiese staat gewees het nie. (Bv Wasili Blochin, een van Stalin se NKWD-laksmanne, het gedurende 1940, vir 28 aaneenlopende dae, 7000 offisiere doodgeskiet met Duitse Walther pistole – in die nekholte. Nikita Chroesjtjof se skoondogter, Ljoeba Sedoech, is só erg aangerand, dat sy gesterf het. Kalinin was die president van die Sowjetunie, terwyl sy vrou deur Stalin in die tronk gegooi is. Hy moes aangaan asof niks verkeerd was nie.)

Die meerderheid Russe is Christene, en n menigte is vermoor vir hulle geloof. Hulle glo vandag dat God hulle gered het van die kommuniste. Poetin is n erkende Christen. Ek sal miskien uitgelag word, maar Rusland het in Sirie en Oekraine toegetree ondermeer om die Christene te beskerm teen die ateistiese EU/VSA/Navo.

Leon ·

Vriendskap met Rusland, veral in die lig van huidige gebeure, is eerder ‘n skande as iets vir gelukwense. Maar as jy met n muishond speel dan moet jy verwag om netnou soos die muishond te stink.

Michele ·

Meng jou met die semels…. Wat anders het ons verwag van ons cANCer goewerment….

Yvonne ·

Ek sou nie my hoop ooit op die ‘vriendskap’ bou nie….kyk net om ons…dis die resultaat…tragies

Waarnemer ·

28 Februarie 1992!!!Wie het daardie dokument onderteken?Daardie tyd was de Klerk se regering nog aan bewind dus se dit mos vir my duidelik dat die NP destyds al geheul het met kommunisme.

Luister ·

Kommunisme het teen daai tyd geval. Niemand het geweet dit sal weer opgang maak onder Poetin nie.

Alfred E Neuman ·

Waar is die kommunisme in Rusland waarna jy verwys. Vals propaganda.

Janee ·

En hieroor moet ons handeklap? Of gaan ons S A se “lugmag” stuur om Rusland in hul “nood” te help?

Di ·

Rampie is nie dom nie, hy hou sy vrienskapsbande met Rusland want hy weet SA het geen weermag oor nie. Rusland gaan kom help as oorlog hier uitbreek

minnie muis ·

wat van die soldate wat deur rusland se toedoen in angola vermoor is…… wys dat anc maar tog in grein n terreur organisasie is al hou hulle hulsef voor as elfwe ….. en skreeu apartheid !

JohanR ·

Net die ANC sal soe iets vier, terwyl volksmoord deur Rusland op die mense van Oekraïne uitgevoer word!

Johann ·

My ouma het altyd gesê: ‘Jy sal aan jou vriende geken word”!

Chris dupreez ·

Sekerlik vriendskap met die anc leiers, beslis nie met die mense van SA nie

Axel ·

Die GOVERMENT en die sogenaamde grootste mediese fonds Maatskappy DRA DIE LAND EN RUSLAND EN INDIË. Werk ook vir Maatskappy wat Guptas ……… velilig hou

Porseleintjie ·

Gewaande vriendskap. Jyt ons uitverkoop cyril. Een vd dae sal die geveg seker tussen Rusland en China wees en dit oor ons eie land. Wie gaan jou steun kry?

N ·

Wees asb meer duidelik, vriendskap met SA? Nie dalk met die ANC nie? Klomp puppets

Samuel ·

Watter gemors!! Ons President en die hele kabinet is arms om die skouer met die spul kommuniste. SA’ners beteken net mooi niks vir CR nie.

Leoni ·

Sjoe! As dit darem nie die toppunt van kruip is nie! Wat hier dus eintlik staan is dat ons (as Suid-Afrika) die Russiese inval in Oekraïene moet goedkeur? Hulle soek op die verkeerde plek goedkeuring. SA het geen mag teen die Weste nie. Maar nou verstaan ek waarom Cyril niks teen hierdie inval sê nie. Die Russe se beursie praat harder as ordentlikheid. Wat ‘n siek wêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.