Russe sluit lugruim vir 36 lande

Die hoofkantoor van die Kharkiv-administrasie in Oekraïne na ‘n aanval Dinsdag. Russiese magte het die middeplein en hoofkantoor van die administrasie vroeër vandag geteiken. (Foto: Oekraïnse departement van nooddienste/AFP)

Rusland het Maandag sy lugruim vir 36 lande gesluit nadat 27 lede van die Europese Unie (EU) asook die Verenigde Koninkryk (VK) en Kanada dieselfde met Russiese vliegtuie gedoen het.

Nie die Russiese lugvaartowerheid, Rosaviatsija, of enige van die Westerse lande het egter ʼn aanduiding gegee van wanneer die verbod moontlik sal eindig nie. Die uitwerking op kommersiële rederye sal na verwagting noemenswaardig wees omdat die Russiese lugruim die hoofroete vir reise tussen Europa en Oos-Asië is.

Nadat Russiese magte Oekraïne Donderdag begin binneval het, was die VK die eerste land om Russiese vliegtuie in sy lugruim te verbied.

Daar sal na verwagting uitsonderings vir humanitêre hulp of diplomatieke sendings gemaak word.

Switserland, wat tradisioneel neutraal staan, het ook sy lugruim vir alle vlugte van Rusland gesluit, asook vir alle vliegtuie met Russiese registrasienommers. Dit sluit egter vlugte vir humanitêre, mediese of diplomatieke doeleindes uit.

Geen skuilplek in Switserland

Die EU het verlede week streng sanksies teen Moskou ingestel nadat die land met sy inval van Oekraïne begin het. Die EU het daarna sanksies ingestel en Switserland het enkele dae later aangekondig dat hy ook alle sanksies in ooreenstemming met dié van die EU in werking sal stel. Dit teiken hoofsaaklik goedere en geld, hoewel die bevriesing van die bates van mense en maatskappye ook ingesluit word.

Die sanksies is spesifiek gemik op Russiese president Wladimir Poetin, eerste minister Mikhail Misjoestin en minister van buitelandse sake Sergei Lawrof.

Lawrof moes reeds sy reis na ʼn vergadering van die VN se Menseregteraad in Genève kanselleer weens die sanksies wat die EU ingestel het.

Die Switserse minister van justisie, Karin Keller-Sutter, sê vyf oligarge na aan die Russiese president wat noue bande met Switserland het, is ook verbied om die land binne te kom.

Benewens die ander sanksies het Switserland ook ʼn 2009-ooreenkoms oor visumfasilitering vir Russiese burgers opgeskort, hoewel diegene met diplomatieke paspoorte die land steeds sonder ʼn visum mag binnekom.

Sanksies teen Rusland sou nie naastenby so doeltreffend kon wees as Switserland dit nie ook steun nie. Rusland is Switserland se 23ste grootste handelsvennoot, maar Switserse banke is groot gunstelinge van Rusland se ultra-rykes. Switserse banke het teen die einde van verlede jaar sowat $23 miljard van Russe gehou.

Die meeste van Rusland se oliesake word boonop deur Switserland gedoen, terwyl sy graan en metale ook in Genève verhandel word.

Die sanksies kom egter ook teen ʼn groot koste vir Switserland. Die Nord Stream 2-maatskappy moes sy hele werkmag by sy Switserse hoofkantoor aflê nadat Duitsland verlede week sy goedkeuring van die pypleiding – wat gas van Rusland na Europa bring – gekanselleer het. Meer as 140 mense is afgedank.

Hoewel Switserland ʼn paar dae geneem het om sy “neutraliteit en vredesbeleid” te oorweeg, was Rusland se “ongekende weermagaanval op ʼn soewereine Europese land” die beslissende faktor.

Switserland het egter benadruk dat hy bereid is om aktief by te dra tot ʼn oplossing vir die konflik.

Talle vlug landuit

Die VSA het Maandag sy burgers gevra om Rusland te verlaat terwyl daar nog geleentheid is om dit te doen en vroeër het die land Amerikaners aangeraai om nie na Rusland te reis nie. Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het gesê daar is al hoe minder opsies vir mense om die land te verlaat terwyl internasionale sanksies inskop en die lugruim vir Russiese vliegtuie al hoe meer beperk word.

Amerikaners is ook gewaarsku teen “moontlike teistering van Amerikaanse burgers deur Russiese veiligheidsbeamptes” en die VSA het gesê sy vermoë om roetine- of selfs nooddienste aan Amerikaners in Rusland te verskaf, is uiters beperk.

Die VSA het reeds nie-noodsaaklike personeel by die ambassade in Moskou toestemming gegee om saam met hul gesinne die land te verlaat.

Verskeie Suid-Afrikaners, veral studente wat uit Oekraïne gevlug het, is in hierdie stadium in Pole, het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) vroeër gesê.

Suid-Afrika se ambassadeur in Pole, Sibusisiwe Mngomezulu, het ook studente wat na Warskou in Pole en Hongarye gereis het, ingewag.

EU-lidmaatskap gevra

Oekraïense pres. Wolodimir Zelenski het Maandag ʼn amptelike versoek om lidmaatskap van die EU onderteken en EU-leiers kan die aansoek moontlik later vandeesmaand by ʼn informele beraad bespreek.

Volgens ʼn EU-amptenaar is die kwessie ʼn belangrike een vir Oekraïne in sy besprekings met Rusland om ʼn einde aan die konflik te bring.

Die proses is egter nog nie van stapel gestuur nie en die amptenaar het gewaarsku dat die kwessie nie vooruit geloop moet word nie. “Dit is uiteraard nog nie ontvang nie, maar die hele kwessie oor die Oekraïne-situasie is iets wat heeltyd in die gedagtes van die leiers is.”

Josep Borrell, die EU se topdiplomaat, sê die onmiddellike prioriteit is om praktiese steun aan Oekraïne te gee om die Russiese inval te beveg, eerder as om langtermynkwessies te bespreek wat jare lank kan duur.

“Ons moet antwoorde in die komende ure gee, nie die komende jare nie,” het hy gesê.

“Oekraïne het ʼn duidelike Europese perspektief, maar ons moet teen ʼn aggressie veg.”

Oekraïne het ʼn verbintenis-ooreenkoms met die 27-lidlande, maar wil ʼn volwaardige lid word – ʼn stap waarteen Rusland gekant is. Om vyandigheid met Moskou te verhoed, is Oekraïne se moontlike lidmaatskap nog nie bespreek nie. Die situasie kan nou verander.

Die groot openbare teenkanting teen Russiese aggressie kan egter ʼn bepalende faktor wees oor hoe die EU reageer op ʼn lidmaatskapaansoek van Oekraïne.

Selfs ballet bly in slag

Die teenkanting teen Russiese aggressie het ook sy tol op balletuitvoerings geëis. In Engeland het die Russiese Staatsballet van Siberië al sy Britse opvoerings in die lig van die inval van Oekraïne opgeskort.

Talle teaters het die optredes van die balletgeselskap gekanselleer, ʼn stap wat uit verskeie oorde verwelkom is.

Nadine Dorries, Britse minister van kultuursake, sê verteenwoordigers van die Russiese staat kan nie voortgaan om in die VK op te tree nie. Sy het haar volle steun toegesê aan teaters wat hulle by die mense van Oekraïne skaar.

Die geselskap se huidige toer, wat klassieke aanbiedings soos Swanemeer en Die Neutkraker insluit, het in Desember begin, maar sal nou na verwagting heeltemal in die hek duik.

Sommige Britse teaters wat produksies van die Russiese Staatsopera sou aanbied, het ook opvoerings van onder meer Aïda en Carmen gekanselleer.

Cadogen Hall in Londen het aan BBC gesê die teater het twee konserte deur Russies gebaseerde orkeste gekanselleer. Die organiseerders het die inval van Oekraïne veroordeel en gesê hy staan in solidariteit met die mense van dié land.

Bronne: Deutshce Welle, AFP, BBC, Dirco, Reuters  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kokerboom ·

Niks wat gedoen word kan die onnodige wrede leed, verdriet en verlies wat gewone onskuldige burgers en kinders van die land aangedoen is wegneem. Die trauma, angs en spanning is wrteed en ongevraagd. Despote soos die man moet uit wereld verban word

Thom ·

Sy eie mense is te slapgat om van hom ontslae te raak maar sy tyd sal kom ___ dwarsdeur die geskiedenis het sulke gemors nog altyd tot ‘n val gekom !

Pierre ·

en ons is mos n stralende voorbeeld om van onbevoegde regereings onstlae te raak

anniekiewiet ·

Dit is hoekom vroue oraloor pleit vir begrip onder mishandeling en dreigemente, maar keer op keer die vrees moet beleef dat hul kinders selfs onder toesig, kwaad aangedoen word.

marius ·

Suid Afrika mag , maar kan nie want daar is nie vliegtuie nie …..

Di ·

Dis net SA wat niks doen nie, Rampie is mos groot vriende met hierdie kommunistiese land – soort soek soort. Hy sal nie teen Rusland gaan nie, hy het hulle nodig as oorlog hier uitbreek. Ons het mos GEEN weermag oor nie, als verwoes

gpsa ·

Nato is besig om Rusland in ‘n hoek in te druk. As Rusland ‘n weermag basis op Amerika se grens wou bou sou Amerika ook teenstand en selfs oorlog gemaak het. Enigste verskil is dat Amerika dan die helde sou wees.

Jean ·

Ek het dieselfde video gesien wa Putin praat, en ek stem saam jou. Maar die arme mense van Ukraine

Luister ·

Daar is NAVO lidlande reg op Rusland se grens. Sien jy enige groot weermag basisse daar van Amerika?

gpsa ·

Al die lid lande se weermagte, insluited Ukraine sin sou hulle lid word. Ook vrye toegang tot Amerika se weermag tot binne die vorige USSR gebied. Hoofstroom media is altyd eensydig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.