Russiese seiljag raak ʼn ‘internasionale verleentheid’

Alexei Mordasjof se luukse seiljag, Nord, in Hongkong se water (12 Oktober 2022) (Foto: Peter Parks/AFP)

Die Suid-Afrikaanse regering se “skandalige besluit” om die luukse seiljag van een van die rykste Russiese oligarge in Suid-Afrika toe te laat, is ʼn “internasionale verleentheid”.

Darren Bergman, die DA se skaduminister oor internasionale betrekkinge en samewerking, sê internasionale media, soos die Wall Street Journal berig reeds oor die kwessie en het spesifiek daarop gewys dat Suid-Afrika die vaartuig in sy waters sal toelaat ondanks Amerikaanse en Europese sanksies teen die eienaar.

Maroela Media het vroeër berig Nord, ʼn superseiljag van $500 miljoen wat met die Russiese miljardêr Alexei Mordasjof verbind word, is op pad na Suid-Afrika nadat dit twee weke gelede uit Hongkong vertrek het waar dit vir drie weke geanker was. Mordasjof is glo ʼn nabye vriend van pres. Wladimir Poetin en is een van die Russe teen wie die VSA, die Europese Unie en Brittanje sanksies ingestel het ná Moskou se inval in Oekraïne.

“Die Demokratiese Alliansie stem heelhartig saam met Kaapstad-burgemeester Geordin Hill-Lewis se versoek aan die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, om te verhoed dat die seiljag in Suid-Afrika vasmeer.”

Alexei Mordasjof (Foto: Kremlin.ru via Wikimedia Commons)

Bergman sê die Vrye Wêreld het ʼn doelbewuste besluit geneem om ʼn einde te probeer bring aan Rusland se onwettige inval in Oekraïne en enige pogings wat nie dié poging ondersteun of aanmoedig nie, is immoreel.

“Deur Russiese geldmagnate en hul speelgoed in Suid-Afrika vrylik toe te laat, lok ons ʼn mark wat onnodige en ongewensde aandag na ons kusgebied kan bring. Dit kan lei tot meer terreurwaarskuwings, langer gryslys-periodes en selfs ʼn aanloop tot hiperinflasie.”

Die DA sê hy is genoop om maniere te vind om die vaartuig in Suid-Afrikaanse water te arresteer, aangesien die Suid-Afrikaanse regering tans aan die verkeerde kant van internasionale wetgewing is. “Net soos wat die Suid-Afrikaanse regering nie wettig gebonde is deur die VSA- of EU-sanksies nie, is ons ook nie wettige gebonde daaraan om die seiljag toe te laat om vas te meer nie. As die party wat die nasionale regering aanspreeklik hou, voeg die DA sy stem by Kaapstad-burgemeester Hill-Lewis en ons doen ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa en minister Pandor om op te staan vir internasionale wetgewing en om toegang te verbied vir hierdie seiljag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

JohanR ·

Waaneer het ‘n ANC al ooit skaam gekry, of gebloos? Sal nie verbaas wees om Cyril en ‘n paar ministers op die boot te sien nie.

Samuel ·

Hierdie oligarg gaan verseker vergoeding betaal aan Pandor en Ramaphosa. Dit is die rede waarom Nord in SA waters toegelaat gaan word.

Hans ·

Ukrop Khokhols en NAVO Skend net soveel menseregte. DA is eenogig.

Johan ·

Natuurlik Hans, maar jy mag dit nie sê nie. Onthou dat meeste mense in SA en die weste net glo wat vir hul op massa media gesê word.

Gaitsigubib ·

Genade Hans, ja dit is so maar ek wed jou hier is min mense wat gaan weet waarvan praat jy nou. Navo het gaan krap waar dit nie jeuk nie en die DA is regtig nie n faktor nie of jy nou iets dink van hulle of nie. Oorlog moet altyd n laaste uitweg wees.

Hoekom ·

Nee Hans, ek het nog nooit van NAVO gehoor of gesien hoe hulle doelbewus onskuldige burgers se huise bom, mense in die straat vermoor en in massa grafte gooi nie. As vir jou stelling oor Ukrop Khokhols, die Russe verdien elke liewe “iets” wat die dapper troepe van Ukraine aan die gewentenlose wrede Russiese indringer MAGTE doen. As daar omkruid in jou tuin groei ruk dit wortel en al uit. Teenstrydig maak Ukraine nie onskuldige russiese burgers dood nie…

Republikein in die Wes Kaap ·

Hoekom, in 2014 is meer as 14 000 Russiese sprekers in die Dombass deur Oekraïnse soldate om die lewe gebring. Navo het die Serwiëse hoofstad 20 of wat jaar gelede gebombardeer.

Windhond ·

Ja laat hulle , hulle naam gat maak – op een of ander stadium gaan hulle met hulle broeke om die enkels gevang word – dan gaan ek die spring mielies nader trek……………

Johann ·

Die woord of begrip “verleentheid” bestaan nie in die ANC nie. Nog minder as die spreekwoordelike “skip” met geld letterlik aan land kom met ‘n meevallertjie vir die bankrot ANC. En ‘n kern korrup gewetenlose kader kamp gee bloot nie om hoeveel mense vernoor word deur hulle Comrade nie. SIEK!

Johan ·

Onthou maar julle oordeel as jul weer iets sê oor die grensoorlog waarin julle Angola met geweld ingeval het. Terloops eks pro neutraal bly met almal wat moontlike vriende is, insluitend en veral Rusland, ongeag wat die weste vir ons probeer voorskryf.

Kokerboom ·

Die ANC regering is ‘n absolute verleentheid vir land. Hul rakleeftyd is lankal verby. Hul verdien niks meert as veragting.

Andries ·

Waar het enige poging, om iets teen die russiese inval, vrugte afgewerp. Hierdie is nogeens ‘n publisiteitsfoefie om aandag af te lei. Groot ophef van ‘n boot en bemanning van 15 in die hawe maar duisende stroom oor die noordelike en Lesotho grens.

Lillian ·

Die skandelike regering van SA is hand om die blaas met enige Jan rap en sy maat by wie hul kan bakhand staan vir ‘n paar miljoen.

Karina ·

Die Rus gaan seker vir ANC baie geld skenk om hul onderduimse streke te beplan om ander raadslede uit hul stoele te lig, mense om te koop om vir hulle te stem, soos altyd.

Neestemmer ·

SA moenie deel word van die Nato konflik met Rusland nie, dis nie ons geveg nie en het sy oorsprong deur die verbreking deur die Ukraine vd Minsk verdrag. Die media gee nie beide kante vd storie nie, en enige geveg het 2 kante. Neutraal is die beste posisie in hierdie geval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.