Rustenburg: Hof beslis oor onwettige besettings

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Een van die myne in die omgewing van Rustenburg in Noordwes het vandeesweek ’n dringende uitsettingsbevel bekom teen onwettige besetters in een van sy leë mynhuise. Verskeie mynhuise op dié dorp word glo onwettig beset.

Adriaan Wessels, regsverteenwoordiger van die betrokke myn, het aan Maroela Media gesê ’n landdros het Woensdag in die plaaslike landdroshof bevind dat die onwettige besetters die betrokke huis teen Vrydag moet verlaat.

Volgens Wessels is sy kliënt in die proses om ’n dringende uitsettingsbevel vir nog twee van sy mynhuise te bekom.

Wessels wou nie die identiteit van sy kliënt bekend maak nie, maar het wel gesê dat hy nié Sibanye-Stillwater verteenwoordig nie.

Volgens hom is dit ook nie net leë mynhuise wat in Rustenburg beset word nie, maar ook private huise in gevalle waar die eienaar meer as een huis besit.

Die VF Plus het intussen sy kommer uitgespreek oor die toenemende gevalle waar huise deur onwettige besetters ingeneem word.

Abrie Rootman, VF Plus-raadslid van die Rustenburg-plaaslike munisipaliteit, het in ’n verklaring gesê woonbuurte soos Proteapark, Ooseinde en Geelhoutpark word skynbaar geteiken omdat ’n aantal huise van mynmaatskappye daar leeg staan.

Die beweerde aanranding in Proteapark,, Rustenburg. (Foto: Skermgreep)

Volgens Rootman is die VF Plus in Rustenburg bewus van vyf gevalle waar huise deur onwettige besetters ingeneem is.

“Pogings om huise te beset het ook merkbaar toegeneem sedert die algehele landwye afsondering ingestel is. Hierdie besettings is duidelik georkestreer en word gekenmerk deur groepe mense wat in taxi’s, bakkies en motors by huise opdaag en poog om met geweld toegang tot die huise te verkry.”

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig die polisie ondersoek ’n saak van aanranding nadat Henry Holsthyzen (48) glo deur ’n groep mans in Rustenburg aangerand is. Die mans wou na bewering ’n leë mynhuis in Proteapark beset en het die slot van die huis oopgebreek.

Holsthyzen het probeer verhoed dat hulle die huis binnegaan en ’n nuwe slot aangebring. Dit is toe dat nog makkers in drie taxi’s en verskeie motors op die toneel aangekom en Holtzhyzen glo met voorwerpe soos ’n graaf en ’n leer aangerand het. Sy hond, Arrow, is tydens die voorval op sy rug met ’n voorwerp geslaan.

Volgens Rootman het die VF Plus nou die plaaslike munisipaliteit se afdeling openbare veiligheid gekontak en daarop aangedring dat die voorvalle behoorlik ondersoek word en voorkomende maatreëls getref word om inwoners en hul eiendom te beskerm.

Die munisipaliteit het onderneem om in samewerking met die polisie misdaadvoorkoming in die betrokke woonbuurtes te verskerp, het Rootman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Wie onthou dit nog:

1. One man one vote?
2. Free housing for all?
3. Free Quality Education for all?
4. Medial for all for free?
5. A better life for all?
6. Corruption budget or peoples budget?
7. Jobs, Peace and Freedom?

Dis was op honderde lamppale oor die land deur die ANC, as plakkaarte, aan gebring voor die 1994 algemene verkiesing.

Scalla

Die EEF moet verantwoordelik gehou word, dis hul bevel.

Michael 1

Hulle doen net wat hulle toegelaat word om te doen