Rustenburg-inwoners al 9 dae sonder water

‘n Watertrok word aan inwoners voorsien (Foto: Rise Up Rustenburg/Facebook)

“Die waterkrisis wat die stad tans ervaar, dui op die diepliggende katastrofiese mislukking van die stad se waterstelsel.”

Só meen Cheryl Phillips, DA-LP in Rustenburg, met verwysing na die waternood wat al die afgelope 9 dae in die stad woed.

Inwoners in Geelhoupark en Thlabane-Wes sit sedert verlede Woensdag sonder water nadat twee waterpompe en ’n pompmotor gebreek het.

Volgens Phillip vorm hierdie egter deel van ’n krisis wat al twee jaar in die stad ten opsigte van sy waterstelsel woed weens swak voorsieningskettingbeheer.

“Die munisipaliteit moes in sy vorige boekjaar 82% van sy infrastruktuurtoelae aan die nasionale tesourie teruggee, wat nie aan die waterstelsel bestee is nie.”

Vyf nuwe waterpompe is sowat ses maande gelede bestel en volgens Phillips is splinternuwe pompe veronderstel om tot 15 jaar te hou.

Sy het aan Maroela Media gesê dit is kommerwekkend dat die pomp so vinnig die gees gegee het.

Een van die stukkende waterpompe (Foto: Rise Up Rustenburg/Facebook)

Die Rustenburg- plaaslike munisipaliteit het Dinsdag in ’n verklaring gesê die Geelhoutpark-pomp is vir herstel gestuur en ’n tydelike pomp sou Woensdag geïnstalleer word. Dieselfde is beloof oor die Thlabane-pomp, wat volgens die munisipaliteit reeds Dinsdag herstel sou wees.

Inwoners het die verwagting gehad dat hulle op die laatste teen Woensdag weer water sou hê, maar daar het dadels van gekom.

Inwoners stuur watertenkwaens na die buurte en diegene met boorgate stel ook water vir gebruik vry.

“Die inwoners staan saam om mekaar te help,” sê Phillips.

Volgens die stigterslid van Rise Up Rustenburg, ’n organisasie sonder winsoogmerk, net bekend as Sandy, probeer die organisasie ook inwoners help waar hulle kan.

“Ons probeer almal bereik wat nie water het nie. Ons is heeltyd in kontak met die inwoners om hulle in kennis te stel waar die watertenkwaens is en seker te maak hulle kry water,” vertel Sandy.

Volgens Sandy kan hulle inwoners tydelik bystaan, maar lê die langtermynoplossing in die munisipaliteit se hande.

“Ons hande is afgekap.”

Sandy vertel inwoners is gefrustreerd omdat hulle nou al ’n tweede naweek moet binnegaan sonder enige vooruitsigte van water. Naas die feit dat dit onhigiënies is, ly van die inwoners se gesondheid daaronder.

“Siek mense, klinieke en bejaardes wat op suurstof is kort water vir oorlewing.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Papsak ·

Stem reg en die probleem sal reg wees hulle net moedswillig met water en krag lieg oor alles

Sobymykoolkop ·

Daai is maar ń druppeltjie in die emmer. Hier by ons is ons oppad na 4 maande.

Danie ·

Wel ons dorp het geen water vir 30 dae en onskuldige mense moet boet met klippe en beskadigings aan hul voeruie vir n useless regering.Die ondergang is hier ons moet planne op die tafel begin sit ons mekaar te ondersteun vorentoe of gaan ons wag tot dit te laat is.Hoop jy het n vriend met water en vleis.

Harley Davidson ·

Dit is weereens ‘n bewys van wat gebeur as jy ‘n onbevoegde regering het ,en kom 24 verkiesing wen die anc weer met ‘n meerderheid.

Vrystaat2109 ·

Hoekom stem die mense steeds en weer vir die nuttelose anc? Nou begin hulle met hulle imbizo’s maak allerhande beloftes begin om erwe toe te ken waar huise gebou gaan word, erwe word geskraap dan stem die nasie anc!!! Na die verkiesing verdwyn al daardie beloftes en alles in die land gaan tot niet, ala Zimbabwe.

Gert ·

Die waterpomp in die foto is veronderstel om n 8 duim pomp te wees. Nou sit hul n 3 duim pomp met reducers in wat baie goedkoper is maar net die normale voer druk sal daardie pakking seel laat ingee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.