Rustenburg-inwoners vrees glo vir hul lewe

Rustenburg. Foto: SunCity.hotel.co.za

Rustenburg. Foto: SunCity.hotel.co.za

Die voortslepende Amcu-staking het, ondanks ʼn negatiewe uitwerking op besighede in Rustenburg, glo ook veroorsaak dat misdaad in die omgewing ernstig toegeneem het.

Mirna van Wyk Scheepers, ʼn inwoner, het Maandag aan Maroela Media gesê haar 16-jarige tienerseun is deur ʼn erge traumatiese ervaring nadat drie mans hom verlede week in die dorp aangeval en met ʼn mes gesteek het om hom van sy splinternuwe Adidas-drafskoene en selfoon te beroof.

“Skaars twee weke gelede het ʼn man ʼn selfoon uit my man se hande geruk, terwyl hy op die telefoon gepraat het,” het Van Wyk Scheepers gesê.

Haar seun, Reyno Pienaar, het verlede Dinsdag na die Virgin Active-gimnasium gestap toe die mans hom in ʼn klein veldjie oorval het. “Hulle het gesê hy moet sy selfoon vir hulle gee en het hom op die grond vasgedruk. Hulle het ook gedreig om hom met ʼn baksteen oor die kop te slaan. Reyno het gesukkel om sy selfoon uit sy broeksak te kry, waarna die mans hom in sy rug en hande met ʼn mes gesteek het,” het sy bygevoeg.

Pienaar moes 16 steke in sy hand kry en agt op sy rug. Sy long is ook raakgesteek. Twee vrouens het ʼn bebloede Pienaar na sy ma gehaas, waarna hy na ʼn dokter geneem is vir behandeling. Hy sterk by die huis aan en waar sy ma hom versorg.

“Dit help nie eens ons gaan meld dit by die polisie aan nie,” het Van Wyk Scheepers gesê. “Die polisiekantoor is stampvol met mense wat sake aanmeld. Ons het nie vertroue dat die polisie iets aan die voorval gaan doen nie.”

Intussen het ʼn Maroela Media-leser gesê ʼn vrou en haar man is verlede week in hul huis in die dorp met ʼn byl en mes aangeval. “Die man en vrou het ernstige beserings opgedoen. Die kinders is nie tydens die voorval beseer nie. Die vrou het Vrydag aan haar beserings beswyk en die man is nog in die hospitaal,” het die leser gesê.

Maroela Media het vroeër berig laerskole in die omgewing het met voedingskemas begin en banke het in een week nagenoeg 300 voertuie teruggeneem weens die invloed van die voortslepende Amcu-staking.

Mynbase het in Maart aangekondig dat die staking reeds tot ʼn verlies van R10 miljard gelei het.

Amcu-lede staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Anglo American Platinum (Amplats) en Impala Platinum (Implats). Hulle dring aan op ʼn intreevlaksalaris van R12 500. Amcu het die loonaanbod van 9% verwerp. Die maatskappye het Amcu se gewysigde eis, dat die R12 500 oor vier jaar behaal kan word, verwerp.

Intussen het ʼn groep inwoners ook met ʼn aanlynpetisie begin in ʼn poging om die staking te beëindig. Die groep bekommerde inwoners doen dit saam met ʼn prokureur van die dorp. Aldus die prokureur kort hulle nagenoeg dieselfde hoeveelheid handtekeninge op die petisie as die hoeveelheid stakende mynwerkers, dus 80 000. Hulle het verlede week met die petisie begin en teen Maandag het meer as 5 000 persone die petisie onderteken. Klik hier om die petisie te onderteken.

Lees ook:
Amcu-staking: “Stakers hou inwoners gyselaar”
Nuuskommentaar: Rustenburg word Rampstenburg
Amcu-staking: Rustenburg-besighede sluit; voedingskemas in skole begin

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PURE BOER ·

En so breek hulle n mooi SA af, deur geld gierig te wees. Gee eerder daai werk vir die mense wat nie werk het nie, hulle behoort dit baie te waardeur. Stakings moet op n ent kom, dit rig net skade en misdaad skiet die hoogte in. Ek hoor ook dat meeste van die werkers terug wil gaan werk toe, maar vrees vir hulle lewe deur somige wat sekerlik betaal word om die stakings voort te sit.
Word groot en gaan aan, wees dankbaar dat julle n werk het.

Louise ·

Daar is wetteloosheid in die land en die ekonomie is sleg. Hoe kan hulle verwag om verhogings te kry as dinge so sleg lyk. Hulle kan eerder dankbaar wees hulle het nog ‘n werk. Daar is baie werkloses daarbuite!!!!!!!!! Dit is tyd dat produktiwiteit aandag geniet want werkloosheid gaan styg!!!!! EN MISDAAD OOK!!!!!!!!!!!!!!!

jeanetha campbell ·

Suid-Afrika keer terug na Jesus. Ons het dien by little margate Vrydag oggend 9uur kom rustenburgers staan saam vir Jesus Rustenburg vir Jesus dankie julle Un Sy naam sal ons oorwinning smaak waak en bid want ons krag le in gebed

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.