Rustenburg-munisipaliteit versoek inwoners om te betaal; groot konvensiesentrum beplan

Argieffoto (via Wikimedia Commons)

Argieffoto (via Wikimedia Commons)

Inwoners van Rustenburg in Noordwes moet vir hul munisipale dienste betaal, het die burgemeester Mpho Khunou Dinsdag gesê.

“Rustenburg se plaaslike munisipaliteit benodig ʼn inkomste om voort te gaan om die gehalte van dienste te verbeter wat hy aan sy inwoners lewer,” het Khunou tydens ʼn begrotingstoespraak voor die raad gesê. “Sterk finansiële bestuur is noodsaaklik vir die finansiële volhoubaarheid in elke munisipaliteit. Ons doen ʼn beroep aan elke inwoner om vir dienste te betaal.”

Die munisipaliteit het R70 miljoen opsy gesit om arm huishoudings te help of huishoudings wat onder omstandighede gebuk gaan wat hul vermoë beperk om vir dienste te betaal. Huishoudings moet kragtens die munisipaliteit se beleid hiervoor registreer.

Khunou het gesê die munisipaliteit het ʼn nuwe valuasierol in die 2014/15 finansiële jaar in werking gestel en die impak op gebruikers word in ag geneem wanneer eiendomskoerse bereken word. Die munisipaliteit het eiendomskoerse met 3% verhoog. Water is met 6% na 10% verhoog, elektrisiteit is met 12.2% verhoog, riool het met 4% na 10% gestyg en vullisverwydering is met 5.57% verhoog.

Khunou het ʼn algehele begroting van R3.5 miljard vir 2015/16 voorgehou en R4.1 miljard en R4.4 miljard vir die daaropvolgende twee jaar in die bedryfsbegroting. Kapitale begrotingspandering beloop R1 miljard vir die 2015/16 finansiële jaar en R528 miljoen en R462 miljoen in die twee oorblywende jare van die begroting.

Groot konvensiesentrum beplan

Intussen het Khunou gesê ʼn internasionale konvensiesentrum ten bedrae van R683 miljoen sal in Rustenburg opgerig word. “Daar sal ook twee aangrensende hotelle wees en winkels en moontlik ook ʼn residensiële ontwikkeling. Die koste sluit slegs die bou van die konvensiesentrum in.”

Die munisipaliteit sal ook R20 miljoen gebruik vir ʼn vlooimark en vermaaklikheidspark. Die vlooimark in die middestad is gerig om marktoegang vir boere en kunsverkopers te bied. “Kleinskaalse boere sal direk vars vrugte en groente aan gebruikers kan verkoop,” het Khunou bygevoeg. “Spysenieringsmaatskappye sal plaaslike inwoners en toeriste ʼn smakie van Rustenburg kan gee en die kunsprodukte kan jou binnehuisversierings opkikker.”

Die vermaaklikheidspark beoog om toerisme in die gebied te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet Schabort ·

Miskien moet die burgemeester meer spesifiek wees oor wie nie betaal.
Ek was daar in Maart 2014 en nie beïndruk met Rustenburg. Toegegee dit is nou al 14 Maande gelede en ‘n towerstaf in Afrika kan (dalk) wondere verrig?
Ek wil egter gaan na ‘n klein gedeeltetjie van TOERISME wat sy edele wil bevorder en dit is die Anglikaanse kerk (een van die oudstes in die ou Tvl.) in die ou begraafplaas wat ‘n provinsiale monument is met nommer 9/2/263/0014. Die kerk is by GPS: S25 40.562 E27 14.700 en is al vir ‘n geruime tyd ‘n ruïne nadat dit afgebrand het. Gaan kyk ook by Google se ‘street view’ na die kerk en by “Genza.org.za” onder “projects” na foto’s van die kerk. ‘n Poging van my per e-pos aan die munisipaliteit asook die Noordwes-provinsie het nie eers ‘n antwoord opgelewer. Sekerlik moes daar ‘n assuransie gewees het op die kerk? Sou die geld dan vir iets anders gebruik gewees het of was daar nie ‘n versekering? Ook die begraafplaas was nie in ‘n watwonderse toestand waar daar o. a. ook oorlogsgrafte is van soldate.
Is daar persone in Rustenburg wat meer weet van die kerkie?
Nee-wat burgemeester, daar is toeristeaantreklikhede waarvoor julle nie ‘n flenter omgee maar sterkte met jou poging om die kultuur van wanbetaling te probeer breek.

Cecilia van Rooyen ·

Peet, ek kan jou verseker dat dit geensins verbeter het nie. Die diens van RLM is power en word net erger. Elke dag is daar ‘n krisis met krag en water en dit sluit nie loadshedding in nie. Hulle wil al hierdie duur geboue oprig, maar hulle kan nie eers die huidige geboue, soos ons Burgersentrum onderhou nie. Die ding val uitmekaar binne en niks werk meer nie. Hulle onderhou niks in hierdie dorp nie.

CHRISTA ·

Maak vrede daarmee – hulle onderhou NIKS in ons LAND nie!!!

Pretorius ·

Daar word miljarde rande aan belastings betaal deur die Rustenburgse gemeenskap en al die platina myne in die omgewing. Die pad tussen Rustenburg en Magalies val uitmekaar uit. Dit is meer n sinkplaat teerpad en die pad is al flenters gery maar daar word niks gedoen om die pad te herstel nie. Honderde chroom vragmotors gebruik die pad en ry die pad stukkend. Die vraag is hoekom maak hulle nie die pad reg nie en waarheen gaan al die miljarde wat die regering uit Rustenburg uit genereer. Ek is seker iemand steel dit.

Theresa ·

Kry eerder iemand in die regte poste en wat weet hoe om met staatsgeld te werk en nie net iemand wat sy/haar sakke vol stop nie – dan sal dit orals beter gaan.

Richard ·

Munwatch is n instansie wat hier in RTB aan ons voorgestel is na een van ons kerkdienste.Hulle versoek meer belangstelling asook teenwoordigheid met vergaderings.Ek glo ons kan n verskil maak as ons hulle net ondersteun ook!!!!

CHRISTA ·

Waar gaan al die toerisme vandaan kom? Hulle het dit reeds as ekskuus gebruik toe hulle die bod vir die 2010 wêreldbeker sokkertoernooi gewen het. Wat het van al die toeriste geword? Is hulle ook ge-hijack? (ongelukkig net voordat hulle SA bereik het). Ek dink iemand in die munisipaliteit vry weer na ‘n lekker VET tender!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.