Rustenburg-onnie glo deur man doodgeskiet

Juf. Aletta Khunou. Foto: Verskaf

Juf. Aletta Khunou. Foto: Verskaf

Die vrou van Rustenburg wat glo Dinsdagoggend deur haar man doodgeskiet is, was ʼn geliefde onderwyseres van dié Noordwes-dorp en was “soos ʼn ma vir haar leerlinge”.

Maroela Media het Woensdag berig die polisie in Rustenburg ondersoek ʼn saak van moord en doen ʼn geregtelike doodsondersoek nadat ʼn man glo eers sy vrou doodgeskiet het voordat hy homself geskiet het.

Sers. Kealeboga Molale, provinsiale polisiewoordvoerder, het intussen die name van die oorledenes aan Maroela Media bevestig en gesê die vrou is Puleng Khunou (39) en haar man is Morris Khunou (43).

Hul liggame is Dinsdagoggend aangetref nadat hul 14-jarige seun na sy ouers se slaapkamer gegaan, aan die deur geklop het en geen reaksie gekry het nie. Die polisie is na die toneel in Geelhoutpark ontbied waar hulle die liggame aangetref het. Daar was ʼn vuurwapen langs hulle op die bed. Die polisie vermoed nie gemene spel nie. Die oorsaak van die skietery is nog nie bekend nie en word ondersoek.

Molale het gesê die seun is in veilige sorg.

Terry Nicholenas, skoolhoof van Bergsig Akademie waar Khunou skool gegee het, het aan Maroela Media bevestig sy het lewensoriëntasie vir graad 8 tot 12 aangebied, asook sosiale wetenskappe vir graad 8 en 9. Sy was die graad 8-klas se registeronderwyser.

“Sy was ten alle tye ʼn volwaardige dame,” het Nicholenas gesê. “Sy was ʼn absolute aanwins tot die skool en is deur haar leerlinge en kollegas gerespekteer en lief gehad. Sy was soos ʼn ma vir die leerlinge.”

Nicholenas het gesê Khunou was ʼn bedrywige onderwyser wat altyd net haar beste gegee het. “Sy was veral betrokke by die dogtershokkiespan en hulle gaan haar verskriklik mis.”

Die hoof het namens die skool sy medelye teenoor haar familie, kollegas en vriende uitgespreek.

Argieffoto

Argieffoto

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amanda ·

Hierdie is erg hartseer. Hoekom het die lafaard nie net homself doodgemaak en die ma van sy kind gelos nie! Hierdie gesinsmoorde gebeur nou meer gereeld en dit is tragies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.