Rustenburg-raadsvergadering ontaard in chaos

Rustenburg. Foto: SunCity.hotel.co.za

ʼn Spesiale raadsvergadering in Rustenburg het Maandag in chaos ontaard toe ʼn hewige woordewisseling tussen raadslede ontstaan en van die onderlinge rusies byna in vuisgevegte ontaard het.

Dié vergadering is onder meer gereël om Obed Moleele as die nuwe waarnemende direkteur vir Rustenburg Rapid Transport (RRT) aan te stel.

Napoleon Webster, sweep van Forum 4-dienslewering (F4SD), het Mpho Khunou, burgemeester, daarvan beskuldig dat hy persoonlike belange in die RRT-projek het.

“Hierdie seun het te min ervaring. Hy het net ervaring as ʼn kassier en nou wil ons die verantwoordelikheid van ons padnetwerke vir hom gee. Die burgemeester het persoonlike belang by hierdie aanstelling. Die publiek is ook ontsteld omdat die burgemeester persoonlike belang by die RRT-projekte het,” het Webster gesê.

ANC-raadslede het onmiddellik beswaar gemaak teen Webster se uitsprake. “Sal jy dat hierdie moeilikheidmakers ophou op my skree?” het Webster van die speaker gevra.

Lucky Kgaladi van die ANC het op ʼn punt van orde gesê dat Webster elke keer wanneer hy ʼn spreukbeurt in raadsvergaderings kry die geleentheid gebruik om raadslede te beledig. “Raadslid Webster ondermyn die raad, in elke vergadering tot dusver gebruik hy onvanpaste taal. Hy moet sy nonsens staak.”

Abinaar Matlhoko en Johannes Motshwane, van die EFF, wou hê Kgaladi moet die woord “nonsens” terugtrek. Hulle het aangevoer Matlhoko was vroeër gedwing om dié woord terug te trek omdat dit as onvanpas bestempel is.

ʼn Woedende Kgaladi het opgestaan en na buite gegaan terwyl die opposisie-raadslede aangedring het hy moet sy woorde terugtrek.

Lekgotla Mataboge, sweep in die raad, het orde probeer herstel en speaker Sheila Mabale-Huma het gesê Webster gebruik voortdurend onaanvaarbare woorde in die raad. Sy het hom gewaarsku dat hy getugtig sal word as hy aanhou om te oortree.

Webster het geweier om sy bewering dat Khunou persoonlike belang by die RRT-projek het terug te trek. “Hierdie is openbare opinie, ek kan dit nie terugtrek nie,” het hy gesê.

Pogiso Bothomane, van die F4SD, het versoek dat raadslede insae kry in Moleele se CV sodat hulle kan bevestig of hy gekwalifiseerd is vir die pos. Moleele is as die waarnemende direkteur van die RRT-projek aangestel vir drie maande. Hy het ʼn BCom-graad in vervoerekonomie aan die Noordwes-Universiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris Ws ·

Oppas ”gekoop” jy mag nie onvanpaste woorde gebruik nie jong.Al is jou stelling geldig!ha-ha!

snoefie ·

from a jack to a king. seker ook n “one of a kind” tipe outjie nes n rooi oog mens van wie ons weet. as die aanstelling op gronde van bekwaamheid toegeken was, hoekom raak die toekenners kwaad.

Justice ·

Dit lyk vir my asof Moleele heel moontlik oorgekwalifiseerd is vir die pos – hulle soek `n bestuurder met taxi ondevinding op die roetes in en om Rustenburg.

B-man ·

Hierdie pos is meer geskik vir ‘n ingenieur… daar is seker net nie Kubane in Rustenburg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.