Rusty, die hond van Bloemfontein wat erg vermink is toe hy sy voormalige eienaar teen haar vriend probeer beskerm het, is terug in die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se sorg. Dit volg nadat dié vierpotige aan die begin van die maand sy nuwe lewe by sy aanneemouers begin het.
“Rusty is na ons teruggebring, nie omdat hy nie geliefd of gelukkig was nie, maar omdat hy nie saam met die ander honde by sy nuwe huis aangepas het soos hy moet nie. Inteendeel, hy kon nie vir ʼn beter nuwe huis vra nie,” sê Reinet Meyer, ʼn senior inspekteur by die DBV.
Volgens Meyer was die energieke Rusty té energiek vir sy nuwe maats. “Die ander honde is al heelwat ouer as Rusty en is ook nie meer so spelerig soos hy nie. Hy het soms te rof met hulle gespeel.”
Meyer sê die ander honde se geblaf het Rusty boonop baie angstig gemaak.
“Hy was baie gelukkig by sy nuwe aanneemouers en kon nie vir iemand beter vra om vir hom ʼn gelukkige tuiste te gee nie. Ons besef egter nou dat Rusty ʼn huis kort waar hy ʼn alleenhondjie kan wees of waar hy ʼn afsonderlike ruimte het om in te woon.”
Maroela Media het vroeër berig die DBV in Bloemfontein het in Desember ʼn oproep van Rusty se voormalige eienaar ontvang. Tydens die inspekteurs se besoek aan haar huis in die Bloemfonteinse voorstad Batho het hulle Rusty in ʼn baie slegte toestand aangetref. Sy linkeroog het heeltemal uit die oogkas gehang.
Afgesien van sy verminkte oog het Rusty ook ʼn skeur onder sy bek en talle kneusplekke aan sy lyf opgedoen. Hy kon ook skaars loop en is in die DBV se sorg geplaas.
Die operasies wat hy sedertdien ondergaan het, was suksesvol en Rusty het die afgelope ruk die wêreld vol gehardloop terwyl hy op sy aanneemouers gewag het.
Hy het onder meer fisioterapie ondergaan en het weer geleer om normaal te loop.
Die DBV het almal bedank wat bydraes gelewer het om vir Rusty se behandeling te betaal.
ʼn Nuwe aanneemhuis word nou vir hom gesoek.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
Ag siestog, hoop van harte die handekind kry baie gou n gepaste en liefdevolle tuiste
Rusty, jy sal jou happy home kry, ek glo dit. Baie liefde en voorspoed vir jou ou honne.
Ek bid vir jou vir ‘n liefdevolle huis Rusty, jys soooo mooi
Dankie vir mense wat omgee. Hoop hy kry gou n nuwe tuiste