Rwandese hoë se moord in SA: ‘Ons sal toesien dat geregtigheid geskied’

Adv. Gerrie Nel. Foto: Reint Dykema

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se geregtelike doodsondersoek na die dood van kol. Patrick Karegeya, die voormalige intelligensiehoof van Rwanda, moet gestaak word.

Landdros Mashiane Mathopa het Maandag in die Randburgse landdroshof die beslissing gemaak nadat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, ’n aansoek namens Karegeya se familie in hierdie verband gebring het.

Karegeya, wat asiel in Suid-Afrika gesoek het nadat hy uit Rwanda gevlug het, is in 2013 verwurg in ’n hotelkamer in Johannesburg aangetref. Ná vyf jaar se versuim om te vervolg het die NVG besluit om dié saak voor die landdros in te dien vir ’n geregtelike ondersoek na Karegeya se dood nadat AfriForum se private vervolgingseenheid namens Karegeya se familie en ander partye genader is om vas te stel waarom sy dood nie behoorlik ondersoek is nie.

Nel het gesê die uitspraak is ’n oorwinning vir AfriForum en die regstelsel, want dit stuur ’n boodskap aan die polisie en die NVG dat hulle nie regsprosesse kan gebruik om vervolgingsake te vertraag of toe te smeer nie.

In sy uitspraak het landdros Mathopa gesê dat die polisie en NVG glad nie aangedui het watter stappe hulle gedoen het om die verdagtes voor die hof te kry nie. Die landdros sê verder dat dit duidelik is dat die NVG weet wie die verdagtes in hierdie saak is en as geregtigheid vertraag word, dit beteken dat geregtigheid ontken word.

Die ondersoekbeampte in hierdie saak moet verder binne 14 dae van die uitspraak onder meer aandui watter stappe hulle gedoen het om die Rwandese verdagtes te arresteer, aangesien dié persone se identiteit en ligging bekend is.

“Dit is ’n baie positiewe uitspraak. Die NVG se instel van ’n geregtelike doodsondersoek was in hierdie geval ’n misbruik van regsprosesse, wat gebruik is om ’n onverklaarbare vertraging in die saak te probeer toesmeer. Ons sal die proses en die verloop daarvan noukeurig moniteer om toe te sien dat geregtigheid geskied,” het Nel gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Vra maar net ·

Hoeveel gaan afriforum uit hierdie een maak? Ek dink heelwat.

Zumie ·

Mens kry nie kostebevele uit strafsake en geregtelike doodsondersoeke nie so ek twyfel of daar geld in is …wel advertensie

Dirk Breytenbach ·

Sien Afriforum se webblad: hulle is ‘n menseregte organisasie en maak nie wins uit hul aktiwiteite nie. Waarom altyd die skeptisisme, waardeer hulle eerder anders was daar niemand wat vir ons regte opstaan nie. Dankie Kallie Kriel en jou span wat onvermoeid veg teen ‘n oormag van duisternis.

Abe ·

Vra maar net en zumie,
Dit is uiters belangrik dat Afriforum en sy vervolgingsgesag n mag word om mee gereken te word, ook in Afrika.

T. Van Wyk ·

Ek is self ‘n lid van AfriForum. Hulle doen baie goeie werk maar ek verstaan nie hoekom ons geld gebruik word om sake van burgers van Rwanda en Zimbabwe en nie-lede van AfriForum te finansier nie. Dit is nie waarvoor ons geld bydrae nie.

Dirk Breytenbach ·

Ongeag of dit ‘n buitelandse burger was, deur nie hul werk te doen nie, skep die SAPD en NVG gevaarlike presedente wat ook uitkring na SA burgers se regte wat daagliks vertrap word.

Abe ·

T van Wyk,
Dit is baie belangrik dat Afriforum en sy vervolgingseenheid bekend sal raak as n mag om mee te reken ook buite ons plaaslike grense. Sien ook Dirk Breytenbach se 2 kommentare hier.

Thys Muller ·

Stem saam of hulle was getroue lojale lede wat ledegeld stiptelik betaal het

Werner ·

Alweer n hoe profiel saak wat niks met ons te doen het nie weet nie eers hoekom dit nuuswaardig is nie

Abe ·

Werner,
Lees ander kommentare hier vir n antwoord. 2 kommentare van Dirk Breytenbach vat dit mooi saam. Dink bietjie daaroor .

Veritas ·

Afriforum speel hulle kaarte reg. Dit is duidelik dat die staat, deur hul nie-optrede, iemand probeer beskerm. Deur die saak op te neem, is Afriforum besig om vriendskapsbande met Afrikalande te smee wat hulle anders na Afrikaners sal laat kyk. Dieselfde met die meisie wat deur Grace Mugabe aangerand is.

PJC ·

Dit gaan oor die korrupsie binne die regering en die NVG. Iewers moet iemand dit aan die groot klok hang en dit is presies wat nou gebeur.

Eentweedrieblufjouself ·

Die berig maak nie sin nie. Die eerste paragraaf vertel die geregtelike doodsondersoek moet gestaak word??

Ben ·

Veritas is in die kol!
Die doel v Gerrie Nel hulle is om diegene wat deur politieke konneksies die reg probeer vryspring, aan die kaak te stel.
Onafhanklik v velkleur. RSA is n beter plek met hulle hier

Regskundige ·

123blufjouself, die berig is heeltemal korrek. Indien reeds voldoende getuienis bestaan dat iemand krimineel aanspreeklik is, moet direkte vervolging deur die NVG ingestel word. ‘n Geregtelike Doodsondersoek word slegs gehou om die identiteit van die oorledene, oorsaak van dood en of iemand krimineel aanspreeklik is, te bepaal. In hierdie geval is hierdie feite reeds bekend en moet VERVOLGING voortgaan. Die GO was dus heeltemal oorbodig en moes gestaak word – Gerrie Nel se afdeling het dus heeltemal korrek opgetree.
Lesers moet asb kennis neem dat die doel van hierdie inisiatief deur Afriforum is nie om SLEGS in belang van lede op te tree nie, maar in belang van ALMAL in ons land. Hulle sorg dat die NVG nie met swak werk, wat regspleging én die land benadeel, wegkom nie. Baie dankie aan Afriforum, Gerrie Nel en sy span, asook lesers vir positiewe begrip en ondersteuning!

Thys Muller ·

Almal betaal nie ledegeld nie, ek het lidmaatskap gekant toe ek agterkom wat hulle streke is

Abe ·

Thys Muller,
Jy verstaan die doel en waarde van Afriforum en sy vervolgingseenheid heeltemal verkeerd. Hulle is nie daar om nou en dan n onbenullige sakie plaaslik vir sy lede te help beveg nie. Miskien moet jy die kommentare van Dirk Breytenbach, Regskundige en Veritas hier sorgvuldig lees om n beter begrip te kry. Afriforum doen reuse belangrike werk.

Msp ·

Wonderlik AfriForm. Ek sal vir AfriForm en Solidariteit bly ondersteun. Ek is ń pensionaris en het nie ń unie nodig nie, maar vir die goeie werk wat die 2 Organisasies doen sal ek julle finansineel bly ondersteun. Baie dankie vir julle goeie werk.

jaco ·

Hoe help Afriforum se betrokkenheid in dié saak dat wit mense minder ly onder die gevolge van plaasaanvalle en regstellende aksie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.