Rybewys-krisis: ‘Laat lisensies 10 jaar geldig wees’

(Foto: Maroela Media)

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het opnuut ʼn beroep op die minister van vervoer gedoen om ’n langtermynoplossing vir die bestuurslisensieprobleme te kry.

Fikile Mbalula het Vrydag aangekondig die grasietydperk om rybewyse te hernu wat voor 31 Maart verstryk het, is tot 15 April verleng.

Mbalula het aan die begin van Maart duidelik gemaak dat hy nie weer die sperdatum gaan verleng nie. Dié datum is die afgelope twee jaar reeds twee keer verleng.

Wayne Duvenage, hoof van Outa, meen egter die uitstel is nie genoeg nie en dat Mbalula dié tydperk moet gebruik om regulasies te wysig om dit moontlik te maak dat bestuurslisensies eers na 10 jaar verstryk.

“Aangesien daar nou sowat een miljoen motoriste kan wees met lisensiekaarte wat verval het, lyk dit onwaarskynlik dat die verlenging van twee weke voldoende sal wees. Ons glo dat twee weke dalk nie genoeg is nie, maar dit sal help om druk te verlig en die aantal aansoeke om lisensiehernuwings in die stelsel te verminder.

“Ons doen ’n beroep op die minister om met die burgerlike samelewing en ander belanghebbendes in gesprek te tree om die struikelblokke en ontwerpfoute wat steeds in die aanlyn besprekingstelsel bestaan, op te los.

“Ons doen ook ’n beroep op die minister om ’n besluit te neem oor die verlenging van die geldigheidstydperk van bestuurslisensies van vyf tot 10 jaar, wat algemene internasionale praktyk is en sal help om doeltreffendheid binne die regering te verbeter. Die publiek behoort nie elke vyf jaar deur hierdie hernuwingsproses te gaan nie.”

Mbalula het Vrydag sy kommer uitgespreek oor die tempo waarteen lisensies hernu word, veral met die ramptoestand se einde wat naderkruip en wat die verlenging van die grasietydperk kan beïnvloed.

“Die aanwysing wat die hernuwing van die rybewyse betref – ingevolge die Wet op Rampbestuur – sal met die opskorting van die ramptoestand ook wegval. Dit sal dan ʼn nuwe uitdaging bied wat betref hoe lank ons enige grasietydperk kan verleng,” het Mbalula gesê.

Volgens Mbalula is sowat 1,4 miljoen uit 2,8 miljoen rybewyse wat verval het, nog nie hernu nie. Teen Augustus het dié getal op 1,2 miljoen gestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.