Rybewyse: Verleng periode; staak boetes

Argieffoto (Foto: Arrive Alive)

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het die minister van vervoer skriftelik versoek om die hernuwingsperiode vir rybewyse van vyf na 10 jaar te verleng en die Outomobiel Assosiasie (AA) het intussen gesê ʼn moratorium moet dringend geplaas word op die uitreik van boetes aan motoriste wie se rybewyse of voertuiglisensies verval het.

Dit volg ná Outa navorsing gedoen het oor die kwessie.

“Ons glo dat die regering en sy burgers voordeel sal trek uit ʼn formele verlenging van die geldigheidsperiode van vyf jaar na 10 jaar,” het Dominique Msibi, portefeuljebestuurder by Outa se staatsbestuur-afdeling, gesê. “Dit sal tyd en geld spaar vir die Suid-Afrikaanse gebruiker en die regering en die administrasie en bestuur van die hernuwingsproses verbeter.”

Outa stel voor dat die verlenging van toepassing sal wees op persone tussen 18 en 65 jaar oud.

Die organisasie versoek ook dat die aanlyn prosesse meer doeltreffend moet wees om beter dienslewering te verseker tussen afspraak, oogtoetse en aflewering van die rybewys.

Outa beveel ook aan dat huidige beperkings op professionele bestuurspermitte dieselfde bly of ook moontlik verleng moet word. “Hierdie besluit moet egter geneem word ná verdere navorsing en insette deur die bus- en toerismerolspelers.”

Die organisasie sê die staat beleef ʼn al groter krisis van wetlikheid weens sy onvermoë om die agterstand van rybewyshernuwings te takel. “Dit lyk of dit erger word, nie beter nie. Dit spoel dan oor in administratiewe uitdagings waar burgers moontlik beskou kan word dat hulle ‘buite die wet’ optree wanneer hulle sonder ʼn lisensie bestuur, weens die staat se ondoeltreffendheid. Die verlenging van die grasieperiode vir rybewyse wat verval het, word die norm. Ons glo daar sal nie enige negatiewe impak wees op die lewens van Suid-Afrikaners indien die hernuwingsperiode na 10 jaar verleng word nie.”

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) ondersteun ook Outa se versoek om die hernuwingsperiode te verleng, mits motoriste minstens elke vyf jaar hul oë deur geregistreerde professionele persone laat toets om seker te maak hul sig is goed genoeg om veilig op die pad te bly. Die organisasie beveel ook aan dat motoriste ook deurgaans die uitslag van die oogtoetse by hulle sal hou, sodat dit aan owerhede gewys kan word indien dit versoek word.

Die AA sê indien die geldigheidsperiode verleng word, moet dit parallel gedoen word, om seker te maak die huidige stelsel word verbeter en hernu.

Die organisasie het ook gesê ʼn moratorium moet dringend geplaas word op boetes aan motoriste wat nie hul rybewyse hernu het nie en onmiddellike stappe moet gedoen word om die bestaande hernuwingsproses te hersien.

“Die huidige stelsel was al stukkend nog voor die afsonderingsperiode begin het,” het die AA gesê. “Nou dat daar duisende angstige motoriste is wat sukkel om hul rybewyse te hernu, word die gebrekkighede van die stelsel selfs nog meer ontbloot. Wat nog meer kommerwekkend is, is dat dit wil voorkom of die owerhede hoegenaamd nie erkenning gee hieraan nie en ook nie enige poging aan te wend om die publiek by te staan nie. Ons moet eerlik wees en erken dat die huidige prosesse, bloot ʼn gemors is.”

Die AA het gesê dit is veral kommerwekkend dat wetstoepassers padblokkades oprig om motoriste voor te keer wie se rybewyse en motorvoertuiglisensies verval het, selfs al is hulle bewus daarvan dat daar min moontlikhede vir motoriste bestaan om dié dokumente te hernu. “Intussen word daar nie aandag gegee aan ernstiger oortredings nie, want die verkeersbeamptes fokus op sagte teiken. Verkeerspolisiëring moet fokus op padveiligheid, nie inkomstestrome nie.”

Die AA sê dit is ʼn absurde situasie waar motoriste nie hul motorvoertuiglisensies of rybewyse kan hernu nie, en dan beboet word omdat hulle dit nie gedoen het nie. Dit is nie vir enigiemand ʼn verrassing dat die aanlyn besprekingstelsel nie funksioneel is nie, dat toetssentrums te min personeel het of nie gereeld oop is nie en dat die aanlyn netwerk ook gereeld van lyn is. Dit alles lei daartoe dat motoriste nie hul rybewyse kan hernu nie. Die enigste mense wat blyk dat hulle nie dié kwessies erken nie, is die owerhede en die motoriste ly daaronder.”

Die AA het gesê die grootste meerderheid van motoriste in die land wil wettig op die pad bly en doen baie moeite om hul rybewyse te hernu. “Maar wat moet motoriste, wat op hul voertuie staat maak om ʼn inkomste te verdien, doen as hulle nie die voertuiglisensies of rybewyse kan hernu nie?”

Die organisasie sê wetsgehoorsame burgers, wat nie enige alternatief het nie, moet steeds hul voertuie gebruik om werk toe te gaan en word dan gestraf oor ʼn probleem wat hulle nie self veroorsaak het nie.

Buiten die moratorium op boetes, sê die AA dit is nou ook meer belangrik as ooit te vore om die stelsels te hersien en alternatiewe metodes ingestel word.

“Derdeparty-agente soos die AA moet ook toegelaat word om rybewyse te hernu. Die huidige stelsel moet baie dringend oorgedoen word. Daar bestaan geen twyfel nie dat die huidige manier van dinge doen moet verander, en dit moet nou verander. Motoriste moet maklik hul voertuiglisensies en rybewyse kan hernu deur ʼn stelsel wat reaktief en beskikbaar is en regtig werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Tanja ·

Is daar enige iets wat hierdie regeering ń sukses van gemaak het? Hulle kan nie eers basiese administratiewe take uitvoer nie

JohnnyS ·

Wanneer is die wet gewysig ? ‘n Bestuurderslisensie verval nooit, en kan slegs onder bepaalde omstandighede gekanseleer word. Die kaart verval, maar daar is GEEN klagte in die Padverkeerswet wat dit onwettig maak om met ‘n vervalde kaart te ry. Inteendeel maak artikel 78(1) dit baie duidelik dat die vervalde kaart as prima facie bewys aanvaar MOET word dat die houer daarvan wel ‘n geldige lisensie op rekord het. Ek kan nie glo dat die AA en OUTA dit nie weet.

Nico ·

Die verlenging sal van toepassing wees tussen 18 – 65 word die persone ouer as 65 uitgesluit?

Moedeloos ·

Wonder ek ook. Baie mense werk nog op daardie ouderdom hoekom word ons uitgesluit. Kyk eerder na taxi’s wat nie een padwaardig is nie wat nog te sê of die betuurder n lisensie het. Hul moet sommer elke jaar getoets word.

Tjiekietor ·

Virdeker n blink idee en almal sal baat vind daarby en nog skelmstreke uitsny ook!

Oom Hennie Pennie ·

Net die Wes Kaap is administrasie doeltrefend. Hierdie ou oom het sy bestuurders lisensie op 31 Julie 2020 hernu by ‘n kantoor in die Wes kaap en op 31 Augustus 2020 het ek my nuwe kaart ontvang.

QueenB ·

Wat ek ook nie verstaan nie jy kon nie afspraak kry vir uitpasseer vir jou bestuurslisensie maar hul wil jou nie ektra tyd gee om dit te doen nie nou moet ek wragtig weer die toets gaan skryf vir learners

Lizzy ·

Mens sukkel geweldig om n afspraak te kry om die lisensie kaart te hernu

Hannes ·

65 word uit gesluit hoekom? Wie sal bestuur as jy nie kan sien nie

Bernard ·

Dit Sal Shabir Shaik en Nkobi Holdings se skelm inkomste halveer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.