Rybewysmasjien werk weer!

(Foto: Maroela Media)

Die masjien wat gebruik word om Suid-Afrikaners se rybewyse te druk, is ná vyf weke weer in bedryf.

Die masjien het vroeg in Mei die gees gegee minder as ʼn jaar nadat dit ʼn vorige keer ook ingekonk het.

Collen Msibi, woordvoerder van die nasionale departement van vervoer, het Saterdag gesê ’n stukkende onderdeel is vervang. Die masjien moes egter oor die afgelope paar weke getoets word voordat dit die groen lig gekry het en weer in diens gestel kon word.

Die departement sit nou met ’n agterstand van 350 000 rybewyskaarte wat inderhaas gedruk moet word.

Die departement het Saterdag gesê daar is ’n inhaalplan om die agterstand te takel en indien alles volgens plan verloop, sal die agterstand teen einde Augustus vanjaar opgeklaar wees.

Ongeveer 120 000 rybewyse sal na verwagting weekliks gedruk kan word noudat die masjien weer in bedryf is.

Msibi sê die nuwe bestuurslisensiekaart sal voor die einde van die huidige finansiële jaar nog bekend gestel word. Die departement sal dan ook nuwe masjiene in ontvangs neem om die huidige masjien te vervang.

Dié masjien het sedert sy ingebruikneming in 1998 meer as 60 miljoen bestuurslisensiekaarte en gemiddeld 2 850 000 kaarte per jaar oor die afgelope twee boekjare gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Herman ·

Nee, klaar weer gehoor dit is weer buite werking. Op Jakaranda nuus gehoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.