‘Ryk plaasboer’ gesoek vir bedrog

Malmesbury in die Wes-Kaap. (Foto: Facebook)

Die Valke het die publiek gevra om te help soek na ʼn man wat mense glo uit miljoene bedrieg het met die aankoop van plaastoerusting en voer.

Gerhard Niewoudt Olivier (34) het glo sedert 2010 R18,4 miljoen uit niksvermoedende kliënte in die Malmesbury-omgewing in die Wes-Kaap geswendel. “Sy slagoffers sou geld betaal in ruil vir plaashulpbronne en -toerusting, maar dan verdwyn hy sonder om die goedere te lewer,” sê Katlego Mogale, Valke-woordvoerder. Olivier het hom glo ook voorgedoen as ʼn ryk plaasboer. Dit word beweer dat daar by tye tot soveel as R600 000 in sy rekening oorbetaal is vir dié goedere.

“Die landdroshof in Malmesbury het reeds op 6 Junie 2019 ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik nadat hy versuim het om in die hof te verskyn op aanklagte van bedrog. Die polisie vermoed hy bevind hom tans in Johannesburg,” sê Mogale.

Enigiemand met inligting wat kan lei tot Olivier se inhegtenisname kan die ondersoekbeampte, kol. Schiltz, kontak by 082 471 6756 of ao. Olivier by 071 481 3326 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

VannieBaai ·

Dit is so jammer om te hoor van mense wat so blatant uitgebuit word. Mens kan vandag niemand meer vertrou nie……….ek hoop die swernoot word spoediglik opgespoor.

Brakenjan ·

Haha hy’t gesien dit werk so mooi in die Parlement. Hy’t geleer by die beste voorbeeld van van die Nasie. Behalwe vir die ‘Johannesburg’ gedeelte. Hy moet homself bevind in Dubai of Singapoer vir mediese behandeling. Siekbrief kos net R100 inelkgeval …

Louise ·

Sulke goed maak mens woedend…
En dan gaan hy as hy gevang word miskien 5jaar tronk toe.
Dis belaglik, hy moet sommer lewenslank kry.
Party mens is gewetenloos.

Scalla ·

Hoe kom die sogenaamde ryk plaasboer al soveel jaar jaar weg met sy streke???

Chris ·

Ons (ek) is geneig om te gou te praat oor bedrog en swendelary ens en blameer soms ‘n sekere bevolkingsgroep te vinnig. Ek persoonlik is al deur “ons mense” met ‘n aansienlike bedrag geld ingeloop. Ek het al my aardse besittings daardeur verloor. Sodra iemand jou op die rug klop en sê, “ons is mos vriende en ons mense moet saamstaan” . Onthou wat jy hier lees, sê vir daardie persoon daardie stofstrepie wat oor die horison verdwyn, moet jy wees. Wakker slaap. Ek het ‘n duur les geleer.

Gato ·

Hoop hy ry aan die pen en kry ‘n gepaste vonnis, maar goeiste hoe betaal mens iemand R600k voordat enige iets gelewer is. Mense is oor die algemeen heeltemal te goed gelowig.
In die besigheidswereld betaal jy eers nadat die goedere of dienste gelewer is. Meeste van die tyd eers 30 tot 60 dae na lewering en as dit die staat is baie langer of nooit.

twaalfboor ·

Moet die opskrif nie eerder lees “skelm plaasboer gesoek vir bedrog nie”?

Kaptein67 ·

Stem saam, plaas ‘n foto sodat ons netwerk op skoensool vlak kan help soek.

Niklaas ·

Ek glo daar is ‘n hele aantal boere naby Malmesbury wat bitter graag private vaderlike gesprekkies sal wil voer met hierdie indiwidu oor delikate dinge soos geld . Daarvan is ek doodseker

Hannelie ·

Nou as die Valke wil hê die publiek moet help soek…..het ons geen ‘clue’ na wie ons moet soek nie. Wys ‘n foto, dit gaan ons ‘n idee gee, hy loop dalk lekker hier rond sonder dat ons weet hoe hy lyk.

Dries ·

Ek kan net my kop skud vir van die beskrywings wat vir party mense gegee word in sommige nuusberigte, en nie net op hierdie blad nie. En dan word dit in aanhalingstekens gesit, so asof dit dan die outeur verontskuldig. Maar as dit dan nou is hoe die wereld draai, sal ek graag meer sulke beskrywings wil sien, soos ‘skelm politikus’, en ‘brandstigtende studente’, of ‘vals predikant.’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.