Rykes ‘vererger Kaapstad se waterprobleme’

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Deur Steve Kretzmann, GroundUp

Welgestelde huishoudings maak slegs 14% van Kaapstad se bevolking uit, maar verbruik nogtans meer as die helfte van sy beskikbare water. Die pas waarteen water deur hierdie inwoners verbruik word, hou daarom ʼn groter bedreiging vir volhoubare waterverbruik in as klimaatsverandering of bevolkingsgroei.

Dít is van die bevindinge in ʼn onlangse studie oor Kaapstad se waterverbruik. Die studie het onder meer bevind dat die sogenaamde dagzerokrisis van 2018 grotendeels toegeskryf kon word aan hoë waterverbruik deur welgestelde huishoudings.

Die studie genaamd Urban water crises driven by elites’ unsustainable consumption is vandeesweek in die vaktydskrif Nature Sustainability gepubliseer. Die skrywers is van die Uppsala-universiteit in Swede, Vrije-universiteit in Amsterdam in Nederland, die Universiteit van Reading en die Universiteit van Manchester in die Verenigde Koninkryk.

Die navorsers het Kaapstad gebruik as ʼn model om “verskillende verbruikerspatrone oor ʼn ongelyke stedelike ruimte te simuleer”.

Kaapstad is een van meer as 80 stede wêreldwyd wat die afgelope 20 jaar ernstige watertekorte ondervind weens droogtes en onvolhoubare waterverbruik.

Watertekorte in stede sal na verwagting meer algemeen word, met meer as ʼn miljard mense in stede wat “in die nabye toekoms” hiermee gaan sukkel.

Die navorsers voer in die studie aan dat waterkrisisse in stede nie net die gevolg van droogtes is nie, maar ook van maatskaplike ongelykheid. Welgestelde huishoudings in stede gebruik drinkwater vir byvoorbeeld swembaddens en tuine, terwyl diegene wat maatskaplik, ekonomies en polities benadeel is, nie eens aan hul basiese waterbehoeftes kan voldoen nie.

Ongelykheid in waterverbruik weerspieël

(Argieffoto: pixabay)

In plaas daarvan om na die algehele gemiddelde waterverbruik tussen 2008 en 2019 in die stad te kyk – wat ook verskeie droogtes insluit – het die navorsers na waterverbruik op huishoudelike vlak gekyk en die huishoudings daarvolgens gekategoriseer.

Huisgesinne is in vyf maatskaplike groepe geplaas, soos gedefinieer deur die Wes-Kaapse regering. Dit sluit in diegene in die elite, hoër-middelinkomstegroep, laer-middelinkomstegroep, laerinkomstegroep en informele gebiede.

Die navorsers het bevind hoewel die elite en hoër-middelinkomstegroep onderskeidelik slegs 1,4% en 12,3% van die stad se bevolking uitmaak, hulle 51% van die stad se water verbruik.

Voor dag zero het elite-huishoudings meer as 2 500 liter water per dag verbruik en dit eindelik verminder tot net meer as 1 100 liter. Die hoër-middelinkomstegroep het hul waterverbruik afgeskaal van 1 600 liter per dag tot 700 liter per dag. Dít, net omdat daar afgeskaal is op waterverbruik vir sogenaamde luukshede soos die opvul van swembaddens en die natlei van tuine.

Huishoudings wat gekategoriseer is as laerinkomstegroepe en dié in informele gebiede, is onderskeidelik net meer as 40% en 21% van die bevolking en verbruik skaars 30% van die stad se water.

Voor dag zero het hierdie groepe hulwaterverbruik van ʼn skamele 200 liter per dag verminder tot 100 liter per dag en selfs toe slegs vir drinkwater.

Laer-middelinkomste-huishoudings, wat 24,8% van die stad se bevolking uitmaak, het 21,3% van die water verbruik.

Die drastiese waterbeperkings wat teen die einde van die 2015-’17-droogte ingestel is, het boonop nie welgestelde huishoudings se vermoë om in hul basiese waterbehoeftes te voorsien beïnvloed nie, terwyl armer huishoudings gespook het om genoeg drinkwater te bekom.

Luidens die navorsing het welgestelde huishoudings alternatiewe bronne vir munisipale water gevind, soos gebottelde water op kort termyn, en die sink van boorgate en die installering van reënwateropvangstelsels op lang termyn.

“Laerinkomstegebiede kon bloot net nie toegang tot private waterbronne verkry nie.”

Die verhoogde watertariewe en boetes wat opgelê is aan diegene wat meer water verbruik as ander was boonop “slegs gedeeltelik suksesvol om in die behoeftes van die armste bevolking te voorsien”.

“Die laerinkomsteverbruikers kon nie die hersiene tarief bekostig nie,” sê die skrywers.

Mense wat in oorvol eenhede woon waar meer as agt mense ʼn kraan gedeel het, het dikwels onbekostigbare waterrekeninge gekry en is boetes opgelê.

Bedreiging vir volhoubaarheid

Die navorsers waarsku dat hoë waterverbruik deur die elite en die hoër-middelinkomstegroepe die grootste bedreiging vir die volhoubaarheid van die stedelike waterstelsel is.

“Daar is niks natuurlik daaraan vir die elite om waterbronne oormatig te benut en te verbruik, terwyl ander maatskaplike groepe se waterverbruik gemarginaliseer word nie,” sê die navorsers.

“Wat nodig is, is ʼn samelewing waarin elitistiese oorverbruik ten koste van ander burgers nie geduld word nie.”

Koni Benson, geskiedenisdosent aan die Universiteit van die Wes-Kaap, het ook navorsing oor waterkartering in die Kaapstadse metro saam met die African Water Commons Collective gedoen.

Sy sê die studie weerspieël hul eie bevindinge.

“Ons moet beweeg na ʼn bespreking van waterherverdeling – ʼn plan van aksie wat historiese onteiening in ag neem, waar mense die afgelope 300 jaar onder dagzerotoestande leef.”

Sy sê een van die belangrikste elemente van die studie is dat dit die idee van gemiddelde waterverbruik geskrap het. Kaapstad se statistieke voeg alle huishoudings in een gemiddeld wat beteken dat diegene wat die minste verdien en die minste water verbruik, steeds deel van diegene uitmaak wat die meeste water verbruik.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carl ·

En die armes het nie water nie. Op ‘n dag raak hulle moeg en vernietig ons land oor die rykes wat gierig is oor water.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.