Ryloper bedwelm, beroof

Argieffoto: Kent Williamson

Twee verdagtes het Dinsdag in die Nelspruit-landdroshof in Mpumalanga verskyn nadat hulle na bewering die afgelope naweek ʼn ryloper bedwelm, beroof en langs die pad gelos het.

Sers. Gerald Sedibe, provinsiale woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is Saterdag in kennis gestel dat ooggetuies gesien het hoe twee mans glo ʼn man naby Sudwala buite Nelspruit uit hul voertuig haal en hom in ʼn plantasie langs die pad los. Die polisie is ontbied en het op pad na die toneel op die betrokke voertuig afgekom.

Die polisiebeamptes het die voertuig, met twee insittendes, voorgekeer. “Die polisie het hulle teruggeneem na die toneel waar hulle die bedwelmde man, wat van sy besittings beroof is, aangetref het,” het Sedibe gesê. Die polisie het die voertuig deursoek en van die ryloper se besittings gevind.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 63 en 70 jaar oud, is gevolglik in hegtenis geneem. Hulle het Maandag vir die eerste keer in die Nelspruit-landdroshof verskyn waarna die saak tot vandag uitgestel is.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die publiek gemaan om nie te ryloop nie. Zuma het gesê verskeie sake is al by die polisie aangemeld van rylopers wat bedwelm en langs verskillende paaie in die provinsie afgelaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Coen Hattingh ·

Wonder wát laat my glo dis weer “insypelaars” ?

PJC ·

Lyk vir my sommige kalante raak ook nooit te oud om nog kwaad te doen nie. Hopelik sal hulle sommer hulle laaste dae agter tralies deurbring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.