Ryloper deur ‘polisie’ beroof, verwurg

Foto: Elzona Meyer / Heidelberg Medic Volunteers

Foto: Elzona Meyer / Heidelberg Medic Volunteers

ʼn Onbekende man in sy 40’s is glo Vrydag deur ʼn groep mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, ontvoer, beroof en verwurg toe hy in ʼn Sasol-oorpak van Evander in Mpumalanga na Lesley geryloop het.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, woordvoerder van die Heidelberg-polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die man het saam met ʼn ander man geryloop toe die “polisiebeamptes” in ʼn silwer Nissan Sentra langs hulle gestop en hulle aangehou het.

“Die slagoffers is in die motor ingedwing en van hul besittings beroof,” het Tshilate gesê. “Die verdagtes het ʼn lang ruk met die slagoffers gery waartydens een van die rylopers glo verwurg is. Sy liggaam en die ander man is in die Glenroy-plaasgebied naby Heidelberg in Gauteng afgelaai.”

Omliggende boere het op die slagoffers afgekom en hulp ontbied.

Elzona Meyer, direkteur van Heidelberg Medic Volunteers, het aan Maroela Media gesê die ouer man was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. “Die man wat saam met hom was, is 33 jaar oud. Hy het bedwelmd voorgekom en beweer hulle is gedwing om Tropica wat met ʼn onbekende middel gemeng was te drink voordat  ʼn worsteling tussen die ouer man en die verdagtes uitgebreek het.” het sy gesê.

Die 33-jarige man is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling. Sy toestand kon nie teen Dinsdag bevestig word nie.

Die Heidelberg-polisie ondersoek die saak.

Tshilate het gesê die polisie kort hulp om die ouer man te eien. “Die man is donker van gelaat, matig gebou en het ʼn Sasol-oorpak aangehad. ʼn Swart ZCC-hoed het langs hom gelê.” het Tshilate gesê.

Mense met inligting oor die voorval of wat die man kan eien, word versoek om kapt. Tamara Booi by 016 341 5175 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Ek neem aan dat ‘Lesley’ seker moet wees ‘Leslie’ in Mpumalanga.
Eintlik is die twee dorpe Leslie en Eendracht al jare gelede saamgevoeg onder die naam Leandra.
Dis seker die enigste dorp in ons land wat sowat 3km verwyder is van mekaar, m.a.w. daar lê ‘n stuk veld van 3km tussen die twee dorpe Eendracht en Leslie genaamd Leandra.
Eendracht is ook die dorpie met die drie susterskerke NG, NH en Geref.

A Pretorius ·

Enige verdere nuus, die persoon wat saam met hom was kan hom sekerlik identifiseer?

A Pretorius ·

Help ook nie mens vra vrae nie jy word nie beantwoord nie. Wens die Media mense wil opvolg berigte oor gebeurtenisse ook insit. Veral oor misdaad sodat mens darem weet of die misdadigers aan die pen ry!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.