Rylopers prop glo man (60) in kattebak, ry vir ure met hom rond

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

Ses vermeende kapers is die naweek in hegtenis geneem nadat hulle ʼn 60-jarige man wat vir hulle ʼn rygeleentheid aangebied het, gekaap, in sy kattebak geprop en met hom rondgery het.

Kapt. André Beetge, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Saterdagaand in Johnsonweg in Port Elizabeth plaasgevind.

“Die man het twee mans ʼn saamrygeleentheid in sy Honda Ballade aangebied in Kwazekele,” het Beetge gesê.

“Een van die mans het ʼn vuurwapen op die slagoffer gerig en hom opdrag gegee om in Qeqestraat stil te hou. Hy is toe in sy kattebak toegesluit en hulle het met hom rondgery. Daar het later nog mense in die voertuig geklim.”

Volgens Beetge het patrollielede van die Motherwell-polisiëringsgebied omstreeks 00:30, sowat vyf uur later, ʼn verdagte motor gewaar in Mayastraat in Soweto on Sea.

“Toe die verdagtes die polisie gewaar, het hul vinnig weggejaag. ʼn Jaagtog het plaasgevind en die voertuig het in Kaundastraat in Soweto on Sea stilgehou en een van die gewapende verdagtes het uit die voertuig gespring en op die polisie losgebrand,” het Beetge gesê.

Die polisie het teruggeskiet en kon daarin slaag om al ses verdagtes, onder wie die 18-jarige verdagte wat op die polisie losgebrand het, in hegtenis te neem.

“Die verligte 60-jarige slagoffer is uit die kattebak gered. Hy was ongedeerd.”

Die polisie het beslag gelê op ʼn pistool met ammunisie wat die verdagte laat val het toe die polisie begin terugskiet het. Niemand is tydens die skietgeveg beseer nie.

Die verdagtes, tussen 18 en 24 jaar oud, sal Dinsdag in die New Brighton-landdroshof verskyn op aanklagte van kaping, die besit van ʼn gesteelde voertuig, poging tot moord, ontvoering en die onwettige besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hasie ·

Ek is seker daarvan dat die kapers en plaas moordenaars almal vir of die anc, of die eeff stem.

ES ·

Dis hoekom ek nooit rylopers ‘n saamrygeleentheid sal aanbied nie. Dis hartseer, mens kan nie eers ‘n pap band ruil langs die pad sonder om vir jou veiligheid of lewe te vrees nie.

Sê net ·

Wanneer gaan mense besef dat jy NIEMAND MAAR NIEMAND oplaai vir n saamry geleentheid nie. Word wakker die mense daar buite is boos, hulle voel n veer vir jou.

Bridget ·

Dis eintlik so tragies dat mens jou kop weg draai en nie ander wil help nie dit is net eenvoudig te gevaarlik

alida ·

Mens wil so graag iemand help maar dit is nou wat gebeur as jy die doen. Ignoreer liefs die rylopers want hulle maters wag vir jou agter ‘n bos.

Huh! ·

Ses teikens, 15 rondtes per polisieman, niemand is beseer nie?? Wat het die Polisie gedoen, waarskuwingskote geskiet?

Johann ·

Baie dom om mense te vertrou, veral in die klimaat waarin ons nou beweeg

Chris Ws ·

Dis uiters betreurenswaardig dat die SAP lede nie eers EEN van die kapers gekwes het nie.Ai ,hulle sal hulle skietoefeninge moet begin bywoon.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.