Die polisie is op soek na twee verdagtes wat glo ʼn vragmotorbestuurder op die N12 naby Warrenton in die Noord-Kaap doodgeskiet het.
Volgens kol. Priscilla Naidu, ʼn polisiewoordvoerder, het die bestuurder van die vragmotor Maandag omstreeks 20:00 gestop om aan twee rylopers ʼn rygeleentheid te gee. Die vragmotor het in die rigting van Kimberley gery.
“Ooggetuies het gesien hoe die twee mans uit die vragmotor spring en weggehardloop het,” het Naidu gesê.
Die polisie het die 49-jarige bestuurder in die vragmotor aangetref met ʼn geweerskoot aan die agterkant van sy kop. “Die oorledene se beursie en sleutels van die vragmotor word vermis. Die mans het vermoedelik in die rigting van Warrenton gevlug,” het sy bygevoeg.
Naidu het gesê die slagoffer se naam word weerhou totdat sy naasbestaandes van sy dood in kennis gestel is. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Die polisie versoek enigiemand wat hulle met die ondersoek kan bystaan, om sers. Thys Mokoroane by 083 422 255 te skakel.