S-leer stel eerste blits-leervideo bekend

s-leer-blitsleer-video-dr-annemarie

‘n Skermskoot uit die video waar Dr. Annemarie Oberholzer praktiese raad vir ouers gee oor hoe om hulself en hul kinders vir ‘n besoek aan die hospitaal voor te berei.

S-Leer, Solidariteit se Sentrum vir Voortgesette Leer, het vandag sy eerste blits-leervideo tydens ’n regstreekse uitsending op Facebook bekend gestel.

Dié eerste aanlyn video word deur dr. Annemarie Oberholzer aangebied met die tema: Hospitaal Gereed: Ek en my kind. Hierin gee sy praktiese raad aan ouers oor hoe om hulself en hul kinders voor te berei vir ’n besoek aan ’n hospitaal of kliniek.

Blits-leer is S-Leer se gratis aanlyn videoreeks vir kennisverspreiding en die eerste van sy soort in Afrikaans. Leana Leonard, S-Leer se besturende direkteur, verduidelik dat Blits-leer ontwikkel is om kreatiewe idees, inhoud en kennis in die vorm van kort en kragtige 10-minute-video’s aanlyn aan kykers beskikbaar te stel. “Ons lewe in ’n samelewing waar mense min tyd het en op soek is na kompakte kykstof van hoë gehalte. Blits-leer bied presies dit: blitsvinnige, aanlyn, gratis leerstof – in Afrikaans.”

Daar gaan elke twee weke ʼn nuwe video beskikbaar wees en kykers kan na ’n wye verskeidenheid van temas oor onder meer ouerskap, fopnuus, praktiese noodhulp, slange en reptiele as troeteldiere en nog vele meer uitsien. Sprekers sluit bekendes soos Jannie Putter, Susan Lombaard en Jaco Strydom in. Die video’s gaan twee maal per maand op Maroela Media, die Solidariteit Wêreld en op S-Leer se Facebook-blad, webwerf en YouTube-kanaal versprei word.

“Ons wil die Afrikaanse gemeenskap graag nooi om saam met ons aan hierdie opwindende projek deel te neem. Indien jy spesialiskennis met ander wil deel, of meen dat jy ’n goeie voorstel vir ’n tema het, laat ons gerus weet. So kan ons saam ’n aanlyn tuiste skep waar mense lekker saam kan leer, kuier en netwerke bou,” sê Leonard.

Om na die eerste video te kyk, klik hier.

Meer oor S-Leer:

S-Leer is ʼn gehalte- Afrikaanse opleidingsentrum van die Solidariteit Beweging wat begin is om aan professionele persone die geleentheid te bied om voortgesette opleiding van hoë gehalte in Afrikaans te kan ondergaan. So word professionele persone met voortgesette professionele ontwikkelingspunte (VPO–punte; Engels: “CPD points”) bemagtig en bied S-Leer die geleentheid vir persoonlike ontwikkeling wat hulle in staat stel om suksesvol in hul werkplekke te funksioneer en goeie loopbaanvooruitsigte te kan hê.  S-Leer fokus nie net op voortgesette professionele ontwikkeling nie, maar ook op individuele, persoonlike en loopbaanontwikkeling deur seminare, kort kursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waar relevante temas bespreek en aangebied word. So bou ons saam aan ’n seker toekoms in ’n onseker werkplek.

Meer oor ons eerste spreker:

Dr. Annemarie Oberholzer het ’n meesters- en ʼn doktorsgraad aan die Universiteit van Johannesburg verwerf en haar loopbaan is op ondersteuning en bemagtiging van kinders in gesondheidsorg gefokus. Sy het in 2015 ’n pediatriese bemagtigingsprogram begin wat fokus op die bemagtiging van ouers en professionele diensverskaffers van gesondheidsorg ten einde kinders in gesondheidsorg optimaal te ondersteun. Sy doen tans interdissiplinêre postdoktorale navorsing by Unisa oor die geestelike ondersteuning van kinders in gesondheidsorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MCH ·

Die goeie nuus vanuit die kamp hou net nie op nie. Dankie Solidariteit.

jaco ·

ek weet nie waarom daar hoegenaamd leer hulpmiddels is nie. Skoolstandaarde is nou so laag, want dis n miskenning van menseregte as dom kinders gedruip word. Ek het onlangs gesien waste soort vrae word gevra in geskiedenis hoer grad matriek eksamen. Ek kon, 32 jaar na ek in matriek was, amper alles uit my kop beantwoord. Dis baie baie maklik.

Michael ·

Solidariteit het nou Soltek en Akademia waaneer open die eerste laerskool en hoërskool of gekombineerde afrikaanse skool ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.