SA akteur sterf ná kapingsdrama

Dumi Masilela (Foto: Twitter)

Die Suid-Afrikaanse akteur Dumi Masilela (29), veral bekend vir sy rol in die e.tv-sepie Rhythm City, is Donderdagoggend dood nadat hy Woensdagaand in Tembisa in Gauteng tydens ʼn kaping geskiet is.

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het die nuus Donderdag bevestig.

Volgens Makhubele het Masilela en ʼn vriend wat saam met hom in die voertuig was, daarin geslaag om tydens die kaping weg te jaag, waarna die kapers met vuurwapens op die voertuig losgebrand het.

Masilela is in die voorval gewond, en die vriend het daarna die stuur oorgeneem en na ʼn hospitaal in Gauteng gejaag.

Mbongeni Masilela, die akteur se broer, het gesê hy het Woensdagaand in die hoësorgeenheid van die hospitaal deurgebring, maar is Donderdagoggend vroeg dood verklaar.

Volgens ʼn familievriend is Masilela se tannie ook dood ná die nuus van sy afsterwe. Niemand in die familie kon egter onmiddellik dié nuus bevestig nie. Masilela se pa is verlede jaar oorlede.

Intussen het e.tv en Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, hul medelye aan sy familie en vriende betuig.

“Dit is met absolute skok en ontsteltenis dat ons die nuus ontvang van Dumi Masilela se skielike en tragiese afsterwe. Ons stuur ons opregte en innige meegevoel aan Masilela se vrou, Simphiwe Ngema, sy familie, vriende en kollegas. Julle is in ons gebede,” het Mthethwa op Twitter gesê.

Masilela, wat al vir vyf jaar die rol van Sifiso Ngema op Rhythm City vertolk, het sy professionele loopbaan in sokker vir onder meer SuperSport United vaarwel geroep ná ʼn besering in ʼn motorongeluk ʼn paar jaar gelede. Hy en Ngema is vroeër vanjaar getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

maryann ·

Innige simpatie jammer dat sulke goed gebeur. dink aan familie

Mvn ·

En volgens News24 het hy in n Golf 7 gery en die kapers in n swart jeep…

Dalene de Vente ·

Dagsê Mvn

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms Maroela Media

J ·

Jammer die geliefdes ook vir die onskuldige maw die meerderheid SA Burgers ..WANT die misdadiger floreer, landswette is vér te MISDAADVRIENDELIK.!

Laetitia ·

Jammerte so jonk.
Tragies dat geweld hierdie mooi land van ons so besoedel.
Innige simpatie aan sy geliefdes en kollegas.

So hartseer en onnodig ·

Werklik so onnodig en so hartseer. Sterkte aan jou vroutjie en die hele familie en die hele nasie, ‘n groot verlies vir almal.

Cherokee ·

Hulle het tog nie die kar gekry wat hulle probeer vat het nie, Rika. Hulle het dit nie gevat nie. Wat egter opvallend is, is die magtelose frustrasie waarmee hulle toe op die insittendes skiet, toe hulle besef hulle kapingspoging het gefaal.

Lucy ·

“medelye” Talk is cheap DOEN iets!! Begin deur raad te vra by afgetredenes met bewese kennis en ervaring (as jul die moed het)

Afrikaanse Knaap ·

So moor hulle ons uit… En ou Fikile en sy vet katte slap rustig met hulle 12 wagte. Dit maak my naar.

Ai ·

Hoekom moet hulle altyd mense doodmaak. Steel is verkeerd maar vat dan die kar en skoert julle skurke. Hoekom mense se lewens verwoes en gesinne uitmekaar skeur?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.