SA-aktivis nuwe hoof van Amnestie Internasionaal

Kumi Naidoo. Foto: Wikipedia via die World Economic Forum/Sebastian Derungs.

Kumi Naidoo, ʼn Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing- leier, anti-apartheidsveldtogvoerder en lewenslange aktivis, is as die nuwe sekretaris-generaal van Amnestie Internasionaal (AI), die internasionale menseregteorganisasie, aangestel.

“Ons is verheug om Kumi as ons nuwe sekretaris-generaal aan te wys. Sy visie en passie vir ʼn regverdige en vreedsame wêreld maak hom ʼn uitstekende leier vir ons wêreldwye beweging waarin ons saam werk vir ʼn wêreld waarin menseregte deur almal gedeel kan word,” het Mwikali Muthiani, voorsitter van die AI-raad, gesê.

Die sekretaris-generaal is die leier en hoofwoordvoerder vir AI en ook die uitvoerende hoof van dié liggaam se internasionale sekretariaat.

AI is die grootste wêreldwye menseregtebeweging met kantore in meer as 70 lande, sowat 2 600 personeellede en sewe miljoen lede, vrywilligers en ondersteuners wêreldwyd.

Naidoo sal in Augustus 2018 by die huidige sekretaris-generaal, Salil Shetty, oorneem.

Naidoo was voorheen die uitvoerende direkteur van Greenpeace Internasionaal, voorsitter van die Global Call for Climate Action, stigtersvoorsitter van die Global Call to Action against Poverty en die sekretaris-generaal en uitvoerende hoof van Civicus, die wêreldalliansie vir burgerlike deelname.

Hy is tans ook aan die stuur van drie nuwe, vinniggroeiende maatskappye in Suid-Afrika: Africans Rising for Justice, Peace and Dignity; die Campaign for a Just Energy Future en die Global Climate Finance Campaign.

Naidoo het ʼn BA-graad in regte en politieke wetenskappe aan die universiteit van KwaZulu-Natal behaal en ʼn DPhil in politiek aan die universiteit van Oxford.

“Ek is my lewe lank al ʼn aktivis, so ek is baie opgewonde om aan te sluit by die wêreld se grootste beweging vir menseregte in ʼn tyd ons die toenemende aanvalle op basiese vryhede wêreldwyd moet teenstaan. Dit sal beteken om by ʼn buigbare, vinnig-veranderende globale omgewing aan te pas met dringendheid, passie en moed,” het Naidoo gesê.

Die sekretaris-generaal word deur die internasionale raad van AI aangestel vir ʼn aanvanklike tydperk van vier jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Klink vir my maar na n liberale klomp.
Sal my mening verander indien hy vir my vlugtelingstatus in die VSA of Europa kan bewerkstellig.

Besem ·

Hopelik vee hy eers voor sy eie deur soos byv. plaasmoorde, teregstellende aksie, werksreservering ens. Wensdenkery?? Natuurlik!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.