SA amptelik in resessie

(Argieffoto: ANA)

Suid-Afrika se ekonomie is amptelik in ʼn resessie gedompel.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag gesê die ekonomie het in die vierde kwartaal van 2019 met 1,4% gekrimp, nadat dit in die derde kwartaal met ʼn aangepaste 0,8% gekrimp het.

Suid-Afrika het die laaste keer in 2018 ʼn resessie beleef. Dit vind plaas wanneer die bruto binnelandse produk (BBP) twee agtereenvolgende kwartale verminder. Volgens StatsSA is hierdie Suid-Afrika se derde resessie sedert 1994.

Afrika se mees geïndustrialiseerde, maar toenemend sukkelende ekonomie, het verlede jaar met net 0,2% gegroei, die laagste aanwysing sedert 2009 toe dit tydens ʼn wêreldwye finansiële krisis met 1,5% gekrimp het.

Tito Mboweni, minister van finansies, het verlede week tydens sy begrotingsrede groei van 0,3% vir 2019 voorspel. Die werklikheid is effens erger.

ʼn Afname in vrag- en spoorvervoer in die vierde kwartaal van 2019 het ʼn demper op groei in die vervoer- en kommunikasiesektor geplaas. Dit het met 7,2% teruggesak en bygedra tot die negatiewe groei van 0,6% – wat weer bygedra het tot die daling van 1,4% in die BBP.

Restaurante se verkope en kleinhandelverkope het verbeter, maar dit was nie genoeg om die daling in motorverkope, groothandel en akkommodasie teen te werk nie. Dit het die handelsektor met 3,8% laat daal, die grootste remskoen vir die BBP.

“Die land het minder voertuie en vervoertoerusting in die vierde kwartaal geproduseer, wat bygedra het tot ʼn daling van 1,8% in die vervaardigingsbedryf. Hout-, papier- en publikasieproduksie het ook gedaal, wat die bedryf verder skade berokken het,” het StatsSA gesê.

Petroleumproduksie het gestyg ná ʼn insinking in die vorige kwartaal weens aanleginstandhouding, maar kon steeds nie die algehele vervaardigingsbedryf uit die rooi hou nie.

(Foto: Lorenzo Cafaro/pixabay)

Die langste insinking is in die konstruksiebedryf opgeteken – dit het die sesde agtereenvolgende kwartaal gedaal. Die beleërde bedryf het sedert die begin van 2017 nog net in een kwartaal groei getoon.

Landbou het sy vierde agtereenvolgende kwartaal van negatiewe groei gesien en het met 7,6% gedaal.

“Reën wat laat geval het en hittegolftoestande oor die land, maar veral in die Oos-Kaap en Vrystaat, het die produksie van veldgewasse geraak. Die land het ook minder landbouprodukte in die vierde kwartaal geproduseer,” het StatsSA gesê.

Terwyl die droogte een bedryf geraak het, het swaar reën ʼn ander skade berokken. Sommige kragsentrales het oorstroom en steenkoolaflewering is ontwrig. Dit het bygedra tot die elektrisiteit-, gas- en watervoorsieningsbedryf se swak vertoning in die vierde kwartaal.

Die mynbedryf was wel ʼn ligpunt. Die sektor het positiewe groei in die laaste drie maande van 2019 gesien. Dit was wel net 1,8%, maar het 0,1% tot die algehele BBP-beweging bygedra.

Die finansiële bedryf het met 2,7% gestyg en het 0,6% bygedra tot die algehele BBP-beweging.

Die VF Plus het in reaksie op die syfers gesê die inkrimping voorspel niks goed vir die komende finansiële jaar nie, veral nie omdat die begroting gegrond is op ʼn groeikoers van minstens 0,9% nie.

“Indien daar dus nie ekonomiese groei van 0,9% is nie, gaan die staat se inkomste veel minder wees as waarvoor begroot is en die begrotingstekort soveel meer. Die staat sal veel meer geld moet leen om sy verpligtinge na te kom, wat skuldvlakke en finansieringskoste selfs verder gaan verhoog,” het Wouter Wessels, die VF Plus-woordvoerder oor finansies, gesê.

Die VF Plus sê die staat sal sy uitgawes dringend en beduidend moet begin besnoei.

“Veral beleidsekerheid moet geskep word om beleggingsekerheid te bewerkstellig. Een van die groot negatiewe faktore hier is die onsekerheid wat onteiening sonder vergoeding vir moontlike beleggers inhou.

“Verdere negatiewe aandrywers is die minimum loon en wetgewing wat die private sektor verhinder om werk te skep. Burokrasie veroorsaak dat die hele waardeketting buitensporig hoog is, wat insetkoste met vervaardiging en produksie en uiteindelik pryse onnatuurlik verhoog. Die publiek het eindelik minder om te bestee en pryse is te hoog om ʼn gesonde ekonomiese groei-situasie te skep,” het Wessels gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

WLM ·

Voel eerder vir my of ons nog nooit uit ‘n resessie uit was vanaf 2018 nie.

Nie Verbaas ·

Glad nie verbaas nie. Rand alreeds so swak teen dollar en dit doen staat se skuld geensins goed nie. Dinge vererger net.

Johan Venter ·

Ek het ‘n idee Tito Mboweni moet hierdie week weer ‘n begrotingsrede lewer, nog ‘n keer probeer, maar DAN moet hy die bogemelde syfers in ag neem. Cyril moet ook nou net nie die 2008 wêreld ekonomie daarvoor blameer nie, hy moet die ekonome se pakslae wat na sy kant toe gaan kom nie afskuif nie, maar dit soos ‘n man vat.

En dan moet Cyril nou ook ‘n slag loer wat daar by Kusile krasentrale aan die gang is en wat hulle buite rekening gelaat het, dit mag ook nog ‘n verdere skok wees, nog 10 jaar se drama?

Paul ·

Sien ou ramapromise sè hy het die resessie verwag dit is hom die hervormings moet begin ek neem aan dis grond hervorming nou wonder ek wat dit sal help om die resessie om te keer wou die Zimbabwiers nie ok grond gehad het nie ?

Johan Venter ·

Ek kyk die woorde ‘verleë’ op, ‘in verleentheid bring’, ‘op jou neus staan en kyk, ens. Nou ja mens moet maar seker maak van jou syfers, vra ook eerder daardie by die kundige statistici vroegtydig aan, daar is nou nie eens ‘n week verby na die begroting nie, maar dit kon darem gekeer het dat hy die tesourie se naam met ‘n plank slaan. Dit kom nou van kaders in diens.

Wat gaan hulle nou maak, vir als is dan nou verkeerd begroot!

EN genadiglik kan daar niks aan die belastingkoers, die brandstof heffing, sondebelasting en BTW gedoen word nie, dalk kom daar volgende jaar pêre.

Maar nouja, eintlik maak dit nie saak wat die begroting sê nie, die graderingsagentskappe het klaar voor die tyd gepraat, …. …. al die pad die steil bult uit.

Lettie ·

Die lewe bly duur maar ek dink met goeie beplanning en bietjie meer kyk waar jy kan spaar kan ons dit maak werk. Ons leer nou maar net om te dink voor ons koop en spandeer aan onodige items. MAW maak ‘n cuppacino besluit…het jy iets nodig of nie

Naas ·

Is daar ‘n kans dat die ANC ooit sal besef dat sosialisme noodwendig tot finansiële ondergang lei?

Jaco ·

Mense wat praat van resessie, was nie verlede Saterdag by Canal Walk winkelsentrum in Kaapstad nie: hordes mense, ver stap vanaf parkeerplek, baie lang rye by betaalpumte. So waars die resessie dan?

Dries ·

Maar die ‘leiers’ stoom voort met besluite en aggressiewe dreigemente om die land net nog verder die afgrond te laat in tuimel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.