SA banke verduidelik oor sluiting van Gupta-rekeninge

Regter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (20 Augustus 2018). Foto: Karen Sandison/ANA

Suid-Afrika se kommersiële banke sal vandag voor die kommissie van staatskaping getuig oor die redes waarom hulle besluit het om sakerekeninge wat met die omstrede Gupta-familie verband hou te sluit.

Soos verdoemende bewerings al meer aan die lig gekom het rakende die familie en hul sakevennote, het die land se vier grootste banke – Absa, FNB, Standard Bank en Nedbank – bande met die familie gesny en aangevoer verbintenisse met die familie hou ʼn risiko vir hul reputasie en moontlik oortreding van bankreëls in.

Absa was in Desember 2015 die eerste om die familie se rekeninge te sluit. Indië se Bank of Baroda het in Januarie vanjaar in sy voetspore gevolg nadat bewerings aan die lig gekom het dat die bank se Suid-Afrikaanse tak geldwassery namens die voortvlugtende familie gedoen het.

Die besluit van die banke het ondersteuners wat voormalige pres. Jacob Zuma, wat noue bande met die Guptas het, warm om die kraag gelaat en hulle het die banke daarvan beskuldig dat hulle probeer om wettige ondernemings in swart besit te laat sink.

Vroeër vanjaar het die Organised Crime and Corruption Project ʼn verslag bekendgestel waarin bevind is dat beamptes van die Bank of Baroda onder meer met opset werknemers se verslae toegesmeer het oor twyfelagtige transaksies wat met die Guptas verband hou, sodat reguleerders nie van hulle bewus sal word nie.

Pravin Gordhan, destydse minister van finansies, is by die sage betrek en het die hooggeregshof genader om ʼn verklarende bevel te kry om te bevestig dat hy wettiglik nie kan ingryp in die dispuut tussen die Guptas en die banke nie.

Gordhan se termyn by die nasionale tesourie was na bewering ʼn struikelblok vir die mense aan bewind wat beheer van die openbare beursie wou neem.

Gordhan se verklaring aan die hof het ʼn sertifikaat van die Finansiële Intelligensiesentrum ingesluit waarin 72 verdagte transaksies ter waarde van R7 miljard deur Gupta-familie-ondernemings geïdentifiseer is.

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Standard Bank het ʼn ondersteunende verklaring tot Gordhan se saak ingedien waarin die bank gevra het vir beskerming van lede van Zuma se kabinet wat druk op die banke plaas om die rekeninge te heropen.

Die hof het Gordhan se aansoek met koste van die hand gewys en bygevoeg dat die aangevraagde bevel onnodig was en dat dit onvanpas was van Gordhan, as ʼn lid van die uitvoerende gesag, om die regbank by die uitvoer van sy magte te betrek.

Die Guptas het daarna vinnig hul Suid-Afrikaanse mediamaatskappye verkoop. Die nuwe eienaars het ingesluit Mzwanele Jimmy Manyi, voormalige regeringswoordvoerder, wat die televisienuuskanaal ANN7 en The New Age-koerant oorgeneem het vir R450 miljoen deur middel van verkoperfinansiering. Die koerant het sedertdien gesneuwel en die televisiekanaal is gelikwideer.

Die Gupta-familie en Zuma en sy seun, Duduzane, staan sentraal in die voortgesette ondersoek na staatskaping. Sommige van Zuma se kabinetsministers en leiers van instansies in staatsbesit word ook by die bewerings betrek.

Die Gupta-broers en hul sakevennote het na bewering miljarde rande verdien deur onwettige kontrakte en het glo soveel mag gehad dat hulle selfs ANC-leiers na hul Saxonwold-herehuis ontbied het om hulle opdragte te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marous ·

Komissie om wat mee te bereik ? Daar is geen gevolge nie , want die vet katte sit almal steeds in hul posisies en plunder …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.