SA belê in Covid-19-navorsing

Dr. Tasnim Suliman, ‘n navorser in Covid-19 aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Die departement hoër onderwys, wetenskap en innovering fokus tans sterk op die bekamping van die koronavirus en het R380 miljoen aan navorsing daaroor toegewys.

Dit was die boodskap van dr. Phil Mjwara, direkteur-generaal van wetenskap en innovering, Vrydagoggend tydens ʼn virtuele vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys, opleiding, wetenskap en innovering.

Spesifiek die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR), die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), die Nasionale Navorsingstigting (NNS, ook bekend as NRF) en die Ruimte-agentskap werk hard om navorsing te doen oor die uitwerking en aard van die koronavirus, die poging om ʼn teenmiddel te help vind en gereedheid om ʼn uiteindelike teenmiddel te kan vervaardig.

Een van die groot punte van kommer die afgelope 25 jaar oor die onderwysstelsel, naamlik die gebrek aan jong navorsers asook veral swart navorsers, toon blykbaar stadigaan verbetering.

Luidens die voorlegging het swart navorsers in Suid-Afrika se navorsingsuitsette in publikasies in geakkrediteerde wetenskapjoernale die afgelope 15 jaar van 16% tot 30% van die nasionale uitset toegeneem.

Daar is ook al hoe meer uitsette deur jong wetenskaplikes van alle rasse, het Mjwara gesê.

Hy sê die verandering van die departement se naam vanaf wetenskap en tegnologie na wetenskap en innovering het juis ten doel om toepaslike en prakties bruikbare navorsing te stimuleer, onder meer sodat dit kommersieel lonend kan wees.

Die regering finansier tans 13 000 navorsers ten volle of gedeeltelik in geïdentifiseerde studievelde, maar Mjwara het gesê die land het te min voltydse navorsers.

Die gebiede waarop Suid-Afrika die stewigste bydraes tot innovering lewer, is die landbou en landbouverwerking, energie (byvoorbeeld sonkrag), die groen ekonomie, gesondheid, vervaardiging, mynbou, ruimte-navorsing en watersuiwering.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

Waarom vra hulle nie vir die mense waar die ding vandaan kom vir raad nie ? Hulle is op so goeie voet dat dit sekerlik verniet sal wees . Die wiel moet duisend keer in die land uitgevind word , ten koste van die wat krepeer.

Deon ·

Daar is baie ander lande wat navorsing oor die Corona ding doen, waarom spandeer/mors ons nog geld daarop ook? Voer die honger mense, bou n skool, help die armes, help die oues… En as die geld klaar is en n kuur is nog nie gevind nie?

Anel ·

13000. En hoeveel is wit? En wat het hulle al reggekry? Regverdig dit wat hulle tot dusvêr gedoen het die geld wat hulle kry? Ek dink nie so nie. Hulle gaan ook nie teenmiddel vir die virus kry in hierdie leef tyd nie. Môre, oormôre is daar ander een, en so sal dit aan gaan. Wonder of hulle ooit idee het wat hulle daar maak? Vertrou hulle niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.