SA bestel 20 miljoen dosisse Pfizer-entstof

Suid-Afrika hoop om binne die volgende paar weke meer as 40 miljoen dosisse entstof aan te koop. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Suid-Afrika, die Afrika-land wat tot dusver die swaarste deur die Covid-19-pandemie getref is, het 20 miljoen dosisse van die Pfizer/BioNTech-koronavirus-entstof bestel.

Die eerste besending AstraZeneca/Oxford-entstowwe wat in Indië vervaardig is, word Maandag in die land verwag, met die eerste inentings wat na verwagting binne twee weke sal begin.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het aan Sunday Times gesê die 20 miljoen bykomende dosisse entstof is van die Amerikaanse medisynevervaardiger Pfizer bestel.

“Die aflewering van die entstof is vasgemaak en daar word gewag op vervaardigers om finale ooreenkomste met afleweringsdatums en presiese bedrae in te dien,” het Mkhize aan die Sondagkoerant gesê.

Lwazi Manzi, woordvoerder van die departement, het die inligting later bevestig.

Die nuwe Pfizer-bestelling is bykomend tot die 12 miljoen dosisse van die Covax-fasiliteit wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gerugsteun word, naamlik nege miljoen dosisse van Johnson & Johnson en 1,5 miljoen dosisse van AstraZeneca/Oxford. Dit bring die algehele besending dosisse wat volgens die regering tot dusver verseker is, op meer as 40 miljoen te staan.

Volgens Manzi moet verdere toewysings deur die Afrika-unie (AU) nog gedoen word.

Suid-Afrika beoog om 67% van sy bevolking, oftewel sowat 40 miljoen mense, teen die einde van die jaar teen Covid-19 in te ent.

Sommige besendings van die entstof word voorsien deur Covax en die AU, terwyl ander regstreeks van vervaardigers aangekoop word.

“Ons is betreklik seker dat dit waarvoor ons betaal en onderteken het en waaroor ons onderhandel, die beoogde inentingsgetalle sal dek,” het Mkhize verseker.

Die minister sê die berging van die Pfizer/BioNTech-entstof, wat by -70°C gehou moet word, is nie ʼn probleem nie.

“Ons het ʼn mate van kapasiteit, grootliks by akademiese instellings. Daar is nou maatskappye wat na vore kom met berg- en vervoeroplossings.”

Suid-Afrika se koronavirusuitbreking is versnel deur ʼn nuwe variant wat oënskynlik aansteekliker as vorige vorms van die virus én meer weerstandig teen bestaande entstowwe is.

Suid-Afrika het tot dusver meer as 1,4 miljoen infeksies en byna 45 000 sterftes weens Covid-19 bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

40miljoen mense teen einde 2021… hahahaha. Ek wil nou nie weer so negatief klink nie, maar verstaan hulle dat as hulle vandag sou begin dat hulle amper 120 000 mense elke dag vir die res van die jaar sal moet ent, sonder om te rus… Dis 5000 mense elke uur, vir 24/7 vir die res van die jaar… En soos ek hier tik, raak die tyd minder…
Miskien moet dit nie beoog word nie. Dis maklik om net idees te spoeg en te beoog… Mense se lewens is nie iets waarmee jy beoog nie…
Miskien moet hulle ‘n bietjie gemeet word aan hierdie nommers wat hulle so beoog. Sal hulle bedank as hulle nie hulle eie tykens kan haal nie… Put one’s money where one’s mouth is…

Tino ·

Jy is bevoordeeld en kan somme doen.

Dis jammer dat jy nou die een moet wees wat die waarheid met logika uit redeneer en verkondig, dit pas nie in by die droom van die wat nie somme kan doen nie maar darem 25% gekry het en geslaag het

Die Wolf ·

Politici moet iets se wat goed klink en geglo word deur die oningeligtes.

Misky ·

Hulle het nie mooi gedink nie en hulle kan niks reg doen of aanwend nie. Kyk nou maar by die weermag en daai onwettige ingevoerde medisyne is meer as helfte al af en iemand het die deur oopgelos……. Hierdie Pfizer entstof is 10x erger en berging vereistes. Nog geld in die drein af!!!!

Tipper ·

Laat hulle maar eerste die comrades inspuit, hoe gouer kan ons weer in die Colonial chair klim.

Persheks Adri ·

Betreklik seker? Mate van kapasiteit? Nou eers reëlings tref vir berging en maatskappye wat na vore kom met vervoer en berging? Eish hierdie is klein goedjies wat klaar hare laat rys! Hou verby dankie hoor julle deur mekaar klomp wat NIKS kan beplan nie gggmmmfff

Piet ·

Doen baar, ons kry dit reg om 40mil mense op een dag te laat stem. Vir almal se beswil hoop ek hulle kry dit gedoen

Die Wolf ·

Nie moontlik nie met Pfizer wat twee dosisse moet wees. Kan nie sien dat die twee dosisse gelyktydig toegedien word nie.

Irma ·

Jy is heeltemal reg want volgens my inligting moet daar +- 3 weke tot ‘n maand verloop voordat die volgende dosis ingeent kan word.

Kokerboom ·

Goeie nuus maar laat dit eers gebeur…met ANC rekord!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.