SA bibber binnekort weer

Die weerdiens voorspel koue weer vir later vandeesweek. (Foto: Christel de Vos)

Moet nog nie die warm klere en komberse wegpak nie – dis nog te vroeg om te sê die winter is agter die rug.

Dít volgens Vanetia Phakula, ʼn weervoorspeller by die SA Weerdiens, wat sê ʼn kouefront gaan die Wes-Kaap, Oos-Kaap en suidelike dele van die Noord-Kaap na verwagting teen Donderdag tref.

In hierdie gebiede gaan temperature na verwagting tot onder 10 °C daal en ligte reën kan plek-plek uitsak.

Ligte sneeu kan oor die Oos-Kaapse berge verwag word, maar nie tot so ʼn mate dat enige groot ontwrigting verwag word nie, het Phakula gesê.

“Die koue gaan teen Vrydag en Saterdag na die sentrale gedeeltes van die binneland versprei, met normale temperature wat weer teen Sondag verwag kan word.”

Temperature gaan na verwagting tot onder 20 °C daal en dit gaan veral koud oor die hoogliggende gedeeltes van Lesotho en die Drakensberge wees.

Volgens Phakula beweeg die meeste koue fronte in hierdie stadium reeds suid van die land verby en beweeg dit nie so diep die binneland in nie. “Dis egter nog te vroeg om te sê die winter is verby.”

Volgens die weerdiens word ʼn minimumtemperatuur van 5 °C en ʼn maksimum van 19 °C Vrydag in Pretoria voorspel. Saterdag sal die kwik tussen 6 °C en 19 °C wissel en teen Sondag styg dit tot 24 °C. In Johannesburg word ʼn minimum van 3 °C en ʼn maksimum van 18 °C vir Vrydag voorspel. Soortgelyke temperature sal Saterdag heers en teen Sondag sal die kwik in Johannesburg na verwagting tot 22 °C styg.

In Kaapstad is daar Donderdag die vooruitsig op reën. ʼn Minimumtemperatuur van 6 °C en ʼn maksimum van 15 °C word voorspel. Temperature styg oor die naweek effens in die Moederstad – ʼn maksimum van 20 °C word Sondag verwag – terwyl ʼn maksimum van 17 °C weer vir Sondag en Maandag voorspel word.

In Bloemfontein word ʼn minimum van -4 °C Donderdag verwag en ʼn minimum van -5 °C Vrydag. Die temperatuur styg Saterdag tot 21 °C.

Vir Port Elizabeth word ʼn minimum van 7 °C en ʼn maksimum van 15 °C Donderdag verwag. Die verwagte temperatuur styg Vrydag tot 17 °C en Saterdag tot 23 °C.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johannes Stephanus ·

Ek weet die winter is nodig..,maar die jaar se winter kan nou maar regtig einde kry.

Scalla ·

Nog een koue gaan kom en dan kan die wintersklere gebere word, ek het al jare n vrugteboom wat dit bewys, as dit vol in blom is (tans), knyp die koue een keer die bloeisels erg, verwag die week.

HerculesJvV ·

Is daar ‘n korrelasie tussen die koue van die winter, en die natheid van die gepaardgaande reën-seisoen?
Ek is nog altyd onder die indruk dat ‘n koue winter word gevolg deur ‘n goeie reên seisoen.

Wat dink julle?

Paul ·

Die winter, aftrede en inperking is ‘n dodelike kombinasie.

Ben ·

Hoekom haal jy my kommentaar af.
Maak liewer die berig reg.
Kaapstad se maksimum temp. vir Sondag sê jy is 20. En dan sê jy 17 vir Sondag en Maandag.
Kom by asb.????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.