SA boer ernstig beseer in fratsongeluk in VSA

Marthinus Boshoff (Foto: Verskaf)

ʼn Egpaar van Limpopo is inderhaas besig om alles in orde te kry sodat hulle so gou moontlik na Amerika kan vlieg waar hul seun vandeesweek in ʼn fratsongeluk ernstig beseer is.

Marthinus Boshoff (27) van Thabazimbi het slegs ses maande gelede sy tuisland verlaat om vir ʼn Amerikaanse boer in die staat Alabama te gaan boer. Dit is hiér waar hy egter Woensdag onder ʼn slootgrawer beland en ernstige beserings opgedoen het.

Anmarie Boshoff, Marthinus se sussie, het aan Maroela Media verduidelik dat dié masjien aan ʼn trekker gekoppel en dan gebruik word om pypleidings in die grond te grawe. Die slootgrawer grou sowat een meter diep.

Volgens Anmarie het haar boetie op die een of ander manier gegly en onder dié masjien beland waarna die bestuurder van die trekker hom te hulp gesnel het.

Die plaas waarop Marthinus boer, is egter drie uur van ʼn hospitaal geleë en hy is inderhaas met ʼn helikopter na ʼn hospitaal in die stad Birmingham gevlieg waar sy linkerbeen bo die knie geamputeer moes word.

Marthinus het ook sy bekken in die fratsongeluk gebreek en het ʼn diep sny op sy maag opgedoen wat grond in die voorval ingekry het. Dié wond moet nou gereeld skoongemaak word sodat hy nie ʼn infeksie opdoen nie, verduidelik Anmarie.

Die Boshoff-gesin. (Foto: Verskaf)

Hoewel Marthinus ná die voorval nog grappies gemaak het, het hy later sy bewussyn verloor weens bloedverlies en het die hospitaal hom aanvanklik vir pynbehandeling onder verdowing geplaas.

Marthinus se familie in Suid-Afrika het eers Woensdagaand die oproep ontvang oor hul seun se fratsongeluk.

“Dit is ʼn vreemde land en ʼn mens weet nie wat om te doen wanneer so iets gebeur nie,” vertel Anmarie. Die gesin se behoud in dié stadium is dat Marthinus ʼn baie goeie werkgewer aan daardie kant het wat hom as sy eie kind ag.

Sy werkgewer se ouers woon in Birmingham en ʼn Suid-Afrikaanse vriend slegs ʼn uur van daar af wat hom sedertdien in die hospitaal besoek.

Marthinus is intussen uit verdowing gebring en sy ouers het vanoggend 04:00 Suid-Afrikaanse tyd vir die eerste keer met hom gepraat sedert die ongeluk.

“Hy klink soos sy ou self,” vertel Anmarie. Die ouerpaar beoog om op die vroegste volgende naweek te vlieg om by Marthinus te wees. Daar was egter eers ʼn gesukkel om ʼn afspraak te kry om aansoek te doen vir visums, maar Marthinus en Anmari se ma is ʼn onderwyseres en een van haar oudleerders kon plan maak sodat hulle vroeër aansoek kon doen.

Marthinus Boshoff (Foto: Verskaf)

Daar is ook inderhaas geld ingesamel om vir die egpaar se vliegkaartjies te betaal. “Die Here stuur engele wat ons hier help. Daar is ook soveel mense wat Marthinus besoek en vriende wat vriende stuur om vir hom te gaan kuier.”

Anmarie vertel hoewel verskeie operasies en rehabilitasie vir haar boetie in Amerika voorlê, is hy darem weer sy “grapperige self” en het reeds gesê hy is lus vir ʼn “barbeque”.

Om Marthinus se vordering te volg of ʼn bydrae te lewer tot sy mediese koste vorentoe, besoek gerus Anmarie se Facebookblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Rina Kotze ·

Baie sterkte vir die herstel, bly dat die hy goeie gesindheid handhaaf!

Sterkte ook aan die familie wat hom nou moet bystaan!!!

Cherokee ·

Ek wonder altyd wanneer ek jou naam sien, of jy in Welverdiend in die selfde straat as ek gewoon het.

leser ·

waar gaan jy in suid afrika kry dat jy as ‘n vreemdeling, ken 6 maande, jou sal aanvaar as jou eie kind ?

susan ·

Die boere hier behandel al die mense wat vir hulle werk baie goed en met respek daar mag uitsondering wees maar ek ken hulle gelukkig nie.

Cherokee ·

Dom vraag leser, mense is nie anders weens lokaliteit maar weens geaardheid. Geaardheid is nie lands-gebonde maar karakter-gebonde.
Karakter wissel weens persoonlikhede
en persoonlikhede vertoon wisselend.

Tiger ·

Sterkte aan die Boshoff gesin .Die mediese kostes gaan astronomies wees ongelukkig.Maar die belangrikste is hul seun leef.Hier sou hy waarskynlik dit nie gemaak het nie.

Hendrik ·

Dit was ‘n besing aan diens, dus moet die wergewer daarvoor aanspreeklik gehou word. Hy sal waarskynlik versekering vir “personal liability” hê.

Cherokee ·

Hendrik, daardie is nie Suid Afrika, maar Amerika. Dit wat jy “personal liability” noem word heel waarskynlik “persoonlike aanspreeklikheid” genoem daar waar hy is.

bosluis ·

Dis nou al die hoeveelste jong boer van SA wat relatief kort na aankoms in Amerika iets oorkom – ongeluk of siekte. In al die gevalle lees mens van hoe wonderlik die werkgewers is en omsien na die eintlike vreemdeling. Versker iets wat ons nie ken nie, ek stem saam met Leser

Netso ·

Gee dit nie vir jou die Idee dat daar dan ñ magdom van SA daar moet wees nie? Boer is nie vir sussies nie daar is so baie dinge wat kan skeefloop. Sterkte boerseun, jy is in goeie hande!

Lali ·

Baie sterkte! As ouer self kan ek dink dit moet baie erg vir julle en vir seun wees. Daar le ‘n lang pad voor vir hom en julle maar met ‘n houding soos syne gaan julle ver kom!
Sterkte!

INA ·

Dit moet ñ geweldige skok vir iemand se geliefdes wees as hy/sy sò-iets oorsee oorkom… Ek kan my net hul angs ens voorstel…

Daar was mos onlangs ñ ànder Suid Afrikaanse man, in ñ byna soortgelyke ongeluk of iets. Ek kannie die detail onthou nie, maar onthou wel die voorval… Sover èk kan onthou is dit 2 afsonderlikke voorvalle… Ek hoop & bid dat die maagwond nie septies sal word nie. STERKTE aan sy ouers & al sy geliefdes…. Èk glò dat hy sal herstel deur die genade van God… AMEN…

Hendrik ·

Naas Meksikane, is Suid-Afrikaners die grootste groep buitelandse werkers in die VSA landbou. Ek sien die jongmanne elkers as ek tussen die VSA en RSA reis. Baie van hulle soek maniere om permanente verblyf en uiteindelik burgerskap in die VSA te kry, maar min slaag daarin.

Mariska ·

Hulle het fondse nodig om vlieg kaartjies te betaal? Paar weke gelede het die dame ń splinternuwe motor gekoop. Ek kan nie help om dit raak te sien nie. Die beter af gesinne is altyd die wat fondse nodig het. So baie mense is dan bereid om te help. Maar die armste smeek vir fondse en mense is nie so maklik bereid om te help nie? Dit is vreeslik.

Anoniem ·

Hierdie is ongevraagd. As jy hierdie mense ken sal jy nie sulke dinge kwytraak nie… Sout van die aarde tipe mense…

Cornelia ·

Jinne Mariskia, dis darem nou ‘n ongevraagde aanmerking. Miskien het die mense lank gespaar om die motor toe koop of ‘n lening aangegaan. Hulle het mos nie geweet hulle gaan geld nodig he vir ‘n dringende vliegkaartjie nie! Ag nee regtig, ek kan nie glo jy is so ongevoelig nie!!

JSG ·

Hoop hulle kry hulp van iewers. Ek dink die SA ambassade moet hier hulp verskaf. Sit self in ‘n posisie waar ek my lewe lank deur mense verneuk is omrede ek eerder ander mense help as om geld uit hulle te maak. Daardeur het ek in ‘n finansiële gemors beland deurdat ek 15 jaar voor aftrede afgelê is. Nou moet ek ontdek dat fondse wat vir ons moes gebêre moes wees en waarmee ek my huis kon klaar betaal, deur my familie uitgemors is en dat ek dalk my huis wat ek letterlik met my eie hande opgebou het, gaan verloor. Niemand kry my jammer en ek het nie eens gevra om in die posisie te wees. Alles agv skelm mense. Hulle het ook nie gevra vir die voorval en dalk was dit nalatigheid of agv onkunde, wat maak dit saak? Help mense waar dit rerig nodig is.

Sê maar net ·

Sjoe Mariska, ek was nou nuuskierig en het gaan kyk… die sussie Anmarie het nuwe motor gekry paar maande terug… en die ouers moet vlieg kaartjies kry… so jou aantuiging is nie eers op die regte mense gemik nie! Jy moet ook maar in toekoms nooit nuwe motor of iets koop nie, net dalk het jy die fondse vir iets anders nodig!

Linda ·

Mariska, JY IS DOIDREG !!! Hulle kinders wat niks van boerdery af weet nie, hardloop Amerika toe agter die geld aan. Nie lank nie is daar n ongeluk of n fratsongeluk dan soek hulle bevondsing !!! Maroela Media het n regte welsynorganisasie geword, skrap die befondsing deel asb of maak jul nuus bulletin permanent toe, ons het dit nie nodig nie, NetNuus is beter en hou nie bak handjies vir befondsing nie !!!!!

Hannelie ·

So jammer dat ons mekaar niks gun nie. Groot hartseer en baie beproewing en dit is jou beste: sê ander sleg om jouself te laat beter voel. Jou arme ongelukkige mens.

Geskok ·

Linda & Mariska. Sjoe julle het seker nie kinders van hierdie ouderdom nie. Ons kinders, nie myne nie, maar ek beskou jongmense wat buiteland toe gaan, ook as my kinders, is bereid om hard te gaan werk en vir hulself ‘n toekoms te gaan bou. Dikwels help hierdie kinders hul ouers wat op plase sukkel om kop bo water te hou en dalk hul plase te red. Hul het ook dikwels nie die finansiële vermoë om verder te gaan studeer nie. Ek ken hele paar van my kinders se maats wat gegaan het en hulle asse afwerk, harder as wat jy kan dink en dan ontbeer hulle familie geleenthede soos verjaarsdae, troues begrafnisse, Saterdae se gesinsbraai, kerk toe gaan saam met geliefdes, so weet julle hulle verdien elke liewe sent wat hul daar kry. Ek is ‘n positiewe mens en ek gun my medemens en hul kinders om vooruit te gaan in die lewe. My eie kind het gaan Au Pair as ‘n gap jaar en dit was hel! Nie almal kry goeie host parents nie, maar ons kinders wys dat hul murg in hul bene het en kan uithou wat ookal en kom sterker terug. So ek haal my hoed af vir elke jongmens wat die ‘guts’ het om op ‘n vliegtuig te klim en die wêreld te gaan verken. Sterkte aan hierdie ouerpaar en dankbaar saam met hulle vir goeie werkgewers wat omgee vir hul kind!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.