SA-boeties in plek van veiligheid geplaas

Argieffoto

Argieffoto

Die twee Suid-Afrikaanse boeties wat op straat in Sao Paulo, Brasilië gebly het nadat hulle ma vir dwelmhandel in hegtenis geneem is, word in ʼn plek van veiligheid gehou nadat hulle benoemde pleegouers geweier het om hulle in te neem.

“Die twee kinders wat van Brasilië af gerepatrieer is, is tydelik in ʼn plek van veiligheid geplaas,” het Ncumisa Fandesi, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, gesê.

“Die familie wat deur die ma versoek is om die kinders te versorg, het geweier om hulle in te neem weens ander verpligtinge. Maatskaplike werkers kyk nou na ander familielede wat moontlik as pleegouers kan dien,” volgens Fandesi.

Weziwe Thusi, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, het gesê die seuns het vlugtig met van hul familielede ontmoet maar sal in die plek van veiligheid gehou word tot daar pleegouers vir hulle gevind is. “Ons het ons maatskaplike werkers opdrag gegee om die saak so gou as moontlik af te handel, aangesien die kinders reeds deur ʼn swaar beproewing is,” het Thusi gesê.

Die twee boeties, sewe en 13 jaar oud, het Donderdag in Suid-Afrika aangekom. Hulle ma is in hegtenis geneem nadat sy glo tussen Brasilië en Portugal met dwelms handel gedryf het. Die seuns het hulle ma in Desember die laaste keer gesien.

Lumka Oliphant, nasionale woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, het gesê die seuns het verskillende pa’s en dat hulle pa’s nie Suid-Afrikaanse burgers is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.