SA broers in VSA aangekla oor renosterjagtogte

Argieffoto

Argieffoto

Twee Suid-Afrikaanse broers word in Amerika van sameswering aangekla oor die verkoop van renosterjagtogte aan Amerikaanse jagters.

Volgens die klagstaat het Dawie Groenewald en sy broer, Janneman, glo tussen 2005 en 2010 jagters by Amerikaanse jagkonferensies en wapenskoue gewerf. Janneman het in dié tyd in Alabama in Amerika gewoon. Hulle het glo aan die jagters gesê dat die renosters doodgemaak moet word, aangesien dit “probleem-renosters” was. Daar is ook aan die jagters gesê dat hulle om regsredes nie die horings mag hou nie, waarna die broers dit glo op die swartmark verkoop het.

Dit het intussen aan die lig gekom dat Dawie voorheen beboet is nadat hy onwettiglik ʼn luiperdkarkas ingevoer het. Volgens ʼn verklaring op die Amerikaanse departement van justisie se webwerf is Groenewald in April 2010 met $30 000 (destyds sowat R220 000) beboet. Hy het agt dae agter tralies spandeer en was vir twee en ʼn half maande onder huisarres.

Dawie en sy vrou, Sariette, is in September 2010 saam met nog nege mense in Suid-Afrika in hegtenis geneem in verband met renosterstropery. Dawie is op borgtog van R1 miljoen vrygelaat en sy vrou op borgtog van R100 000. Hulle moet weer op 4 Augustus 2015 in die hof verskyn.

Volgens die departement staan Dawie en Janneman ook tereg op aanklagte van geldwassery en dat hulle renosterhoring gesmokkel het.

“Daar word na 11 onwettige jagtogte verwys in die stukke wat by die federale hof ingedien is, insluitend een waar ʼn renoster doodgeskiet moes word nadat hy herhaaldelik gewond is met ʼn boog, en ook ʼn ander jagtog waar Dawie Groenewald ʼn kettingsaag gebruik het om ‘n die horing van ‘n verdoofde renoster te verwyder nadat hy met ʼn verdowingsgeweer gejag is.”

Lt.genl. Solomon Makgale, nasionale polisiewoordvoerder, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie terwyl Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, navrae na die departement van omgewingsake verwys het. Albi Modise, woordvoerder van die departement van omgewingsake, het gesê hy sal later Vrydag meer besonderhede bekend maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elfie ·

Vieslike, vieslike VIESLIKE spul!! Hoop hul ry GOED aan die pen! Ons arme renosters en hulle dink net heeltyd aan die geld wat hul kan maak.

Gideon Erasmus ·

Dat ‘n burger van SA, en dan nog blankes daarby so optree gaan my verstand te bowe. Straf hulle swaar en sluit hulle saam met die groot kriminele toe- hulle verdien geen simpatie nie- alles het vir hulle gegaan oor geld! Laat hulle swaar kry soos die arme weerlose diere! Sies man.

snel ·

Ek stem, dis vreeslik dat wit SA burgers hul eie diere so uitmoor. Mag hul lank sit, gooi die sleutel weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.