SA broers vas wat renosterjagtogte in VSA verkoop

Argieffoto

Dawie en Janneman Groenewald, die twee Suid-Afrikaanse broers wat in 2014 in die VSA aangekla is nadat hulle renosterjagtogte aan Amerikaanse jagters verkoop het, is in hegtenis geneem.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het aan Maroela Media bevestig die broers is Donderdagoggend in Polokwane in Limpopo vasgetrek. “Albei van hulle is by hul huise in hegtenis geneem. Dawie het homself egter aan die polisie oorgegee en ons was deurentyd met hom in kontak,” het Mulaudzi gesê.

Volgens Mulaudzi is die twee vasgetrek deur ʼn taakspan van Interpol. “Die Valke het saam met hulle gewerk tydens die ondersoek van die saak,” het Mulaudzi gesê. Die lasbrief vir hul inhegtenisname is in die VSA uitgereik deur hulle departement van justisie.

Daar word verwag dat die twee Vrydag in die Polokwane-landdroshof sal verskyn onder meer op aanklagte van bedrog, geldwassery, die oortreding van die Wet op In- en Uitvoere, asook die oortreding van die Wet op Bedreigde Spesies.

Maroela Media het vroeër berig Dawie en Janneman het glo tussen 2005 en 2010 jagters by Amerikaanse jagkonferensies en wapenskoue gewerf. Janneman het in dié tyd in Alabama in die VSA gewoon. Hulle het glo aan die jagters gesê dat die renosters van kant gemaak moet word aangesien dit “probleem-renosters” was. Daar is ook aan die jagters gesê dat hulle om regsredes nie die horings mag hou nie, waarna die broers dit glo op die swartmark verkoop het.

Dit het aan die lig gekom dat Dawie voorheen beboet is nadat hy onwettig ʼn luiperdkarkas ingevoer het. Volgens ʼn verklaring op die Amerikaanse departement van justisie se webwerf is Groenewald in April 2010 met $30 000 (destyds sowat R220 000) beboet. Hy het agt dae agter tralies deurgebring en was vir twee en ʼn half maande onder huisarres.

Dawie en sy vrou, Sariette, is in September 2010 saam met nog nege mense in Suid-Afrika in hegtenis geneem in verband met renosterstropery. Dawie is op borgtog van R1 miljoen vrygelaat en sy vrou op borgtog van R100 000. Hulle het verlede week weer in die hof verskyn. Die saak is vir die soveelste keer uitgestel.

Daar word na 11 onwettige jagtogte verwys in die stukke wat by die Amerikaanse federale hof ingedien is, insluitend een waartydens ʼn renoster doodgeskiet moes word nadat hy herhaaldelik gewond is met ʼn boog, en ook ʼn ander jagtog waartydens Dawie Groenewald ʼn kettingsaag gebruik het om ʼn die horing van ʼn verdoofde renoster te verwyder nadat dit met ʼn verdowingsgeweer gejag is.

Volgens Mulaudzi lê die besluit nou by die plaaslike howe of hulle hier met Dawie en Janneman wil afreken en hulle dan uitlewer aan die VSA en of hulle dit direk so wil doen. “Ons sal moet wag en sien, dinge is nog bietjie onduidelik,” het Mulaudzi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

marous ·

Hoe kan dinge nou “nog bietjie onduidelik” wees? Daar is uitvoering gegee aan die VSA lasbrief en die proses moet deurgevoer word.

Corne ·

Tweede laaste paragraaf en vyfde reel van onder af-

Is dit dalk ‘n fout dat die twee lidwoorde ‘n en die reg langs mekaar staan in daardie sin?

Magda ·

Tronk toe met julle klomp – hoop dit gaan sommer vir lank ook wees.

CT Botha ·

My renosters op my plaas is my renosters. Horings en al.!!

Ashlee ·

Ja CT Botha, kan wel so wees. Egter, my vrou in my huis is my vrou. Mag ek haar aanrand, nee!!

Eish ·

Dat twee boerseuns nou wragtig die tronkbevolking gaan verhoog.

Onnie ·

Ek hoop da is n spesiale plekkie ini Hel vir mense wt wreed is teenoor diere

Haan ·

Ek weet nie wat my die meeste verbaas nie, die Amerikaners se naïwiteit of die broers se slinksheid ?

Sonia Scheepers ·

Hoelom julle ? Is die broers ook van daai siek mense wat alles om hulle moet vernietig vir geld ?
Ai tog sit hulle weg en gooi die sleutel weg.

Johannes van Staden ·

Interpol ….wys jou net die Amerikaners laat niks verbygaan nie …hulle is streng en pas die wette toe …anders as in SA waar jy gevang word dan uit aanhouding ontsnap of doodeenvoudig gebeur daar net niks …SA is n JOKE !

Wanda ·

Klink amper soos die hugo ras sage..
Wonder wat het met hom en sy vrou trudie en boetie gebeur?

Koos ·

Ja Wanda.

Ek wonder ook. Veral oor daai “edele” wildvangveearts. Douw Grobler hy was mos ook betrokke. Maar hy het hom self seker daaruit gepraat. Ewe skielik is hy nie meer aan die karfoefel met vrouens voor die kameras in natuurprogramme nie. Ek sien NIKS geregtigheid geskied nie. Kruip seker op sy plaas in Namibië weg na al sy skandes.

Marita ·

Uiteindelik! Hoop die veeartse wat betrokke was word ook nou vervolg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.