SA burgers is ‘uitgelewer aan misdadigers’

Fikile Mbalula, minister van polisie (25 April 2017) Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Die voorval waarin Thabang Makwetla, adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, en sy twee veiligheidswagte gekaap is, behoort aan Fikile Mbalula, minister van polisie, ʼn aanduiding te wees van hoe uitgelewer gewone burgers van Suid-Afrika aan die hande van misdadigers is.

Só het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, Dinsdag tydens die debat oor die polisie se begroting van R87 miljard vir die boekjaar 2017-’18 gesê.

Maroela Media het vroeër berig Makwetla en twee veiligheidswagte is Sondagaand deur vier gewapende mans buite die Life Riverfield-hospitaal in Fourways gekaap nadat die kapers ure lank met hulle rondgery het voordat hulle uiteindelik in ʼn bos naby Brits in Noordwes afgelaai is.

Groenewald het Dinsdag ʼn verklaring uitgereik waarin hy daarop wys dat die moordsyfer teen die jaar 2015-’16 vir ʼn vierde agtereenvolgende jaar gestyg het. Hy het gesê hy verwag dat hierdie tendens sal voortduur. “Daar moet ook ernstige vrae gevra word oor misdaad en moord op vroue en kinders in die land. Die wyse waarop die polisie sake van huishoudelike geweld hanteer, is nie volgens standaard nie,” het hy gesê.

Pieter Groenewald tydens ‘n vorige toespraak in die parlement. Foto: Twitter

“Dit is duidelik dat daar nie daadwerklike vervolging plaasvind nie en dit is ʼn teelaarde vir die wrede moorde op vroue en kinders wat ons tans sien. Die rede hiervoor is dat die misdadigers dink daar sal niks met hulle gebeur nie.

“Oor die minister se uitlatings dat hy die land wil ontwapen, wil ek hom daarop wys dat so ʼn uitspraak van onkunde spreek. As hy Suid-Afrika ontwapen, sal dit daarop neerkom dat hy misdadigers alleen sal bewapen wat gewone burgers totaal weerloos sal laat en misdaad skerp sal laat toeneem.”

Groenewald het aangevoer die polisie se eie statistieke toon dat meer mense in Suid-Afrika sterf weens steekwonde as skietwonde. “Net 0,007% van alle moorde word met ʼn wettige vuurwapen gepleeg. Dit wys dat wettige vuurwapens nie die probleem is nie. ʼn Probleem is wel dat die minister populistiese uitsprake maak wat verwagtinge skep wat nie nagekom kan word nie,” het hy gesê.

“Die minister het self gesê daar is ʼn toename van 87,5% wat protesoptogte betref. Dit is omdat die regering beloftes maak wat hy nie kan nakom nie en dan verwag hy die polisie moet die mense tot bedaring bring en orde handhaaf. Sulke ministers wat valse beloftes maak, is die oorsaak van daardie optogte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann Marx ·

Wanneer begin ware demokrasie in hierdie land? Balanseer die konstitusionele Reg tot Lewe met die Reg om NIE te lewe NIE, onderhewig aan vier basiese voorwaardes. As jy ‘n kind verkrag, dwelms smokkel, gewapende aksie pleeg of iemand vermoor behoort dit vir die konstitusie ‘n duidelike teken te wees dat jy die “Reg om NIE te lewe NIE” wil uitoefen, en voorsien ons jou van NOG vyf demokratiese keuses, nl. Galg, Inspuiting, Gaskamer, Elektriese stoel of Vuurpeleton. Niemand het dan niemand “veroordeel” of tot die dood “gestraf” nie….Jy het self die uitkoms van jou lewe gekies aan die hand van jou dade teenoor die gemeenskap. Komaan, Suid Afrika, waar is ons konstitusionele eksperts? Moenie aanhoudend kerm oor dit wat nooit weer sal wees nie, werk met wat julle het om ‘n doel te bereik. Hierdie volk gaan ten gronde wees ‘n gebrek aan nuwe denke….

Johann ·

Ek glo steeds nie die wolhaar storie nie! Waars die CCTV rekords van die hospitaal? En die man sonder petrol langs die pad? En TOTAAL ongedeerd daarvan afgekom?

Js ·

Jip, die probleem is hier om te bly. En as jy nog nie het nie kry maar ‘n skietding vir selfverdediging, niemand gaan na ons omsien behalwe onsself nie.

Willie ·

Ek glo ook nie die wolhaar storie nie… Ek dink dis n rook skerm… Kyk wat het die liewe minister met sport gedoen… Wat nou van die polisie, hulle dag sport is awesigheid en onkundigheid… En die paar blankes wat iets beteken word onderdruk

Magda ·

Hoekom NOU iets se – omdat dit n Adjunk Minister is wat deur geloop het???? -wat van al die ander “Crime” in SA – wat gelees word en NIKS aangedoen word nie????

Steve ·

2IB met twee wagte wat seker ook der duisende rande n maand kos is gejack? Se weer? Ek hoop daai twee van die VIP squad word gefire…

JoeV ·

Naturlik sal almal met onwettige wapens dit eerste gaan ingee, probleem net daar opgelos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.