SA dalk hef in hand teen Indië

Kagiso Rabada het David Warner laat bontstaan tydens Australië se vorige toetskrieket-toer na Suid-Afrika. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Tuisveldvoordeel was nog altyd ʼn krieketspan se grootste bondgenoot in toetskrieket.

Die harde kolfblaaie met wip gee aan Suid-Afrika se boulers normaalweg ʼn houvas en ʼn groot sielkundige voorsprong.

Dit is hoekom die komende toetsreeks van drie toetse teen Indië weer in die Proteas se guns kan wees.

Dis nie Kingsmead in Durban of St. Georges-park in Gqeberha se kolfblaaie wat die besoekers sal pas nie. Dit gaan hard, vinnig en vol wip en boonop hoog bo seevlak in die eerste twee toetse in Centurion en Johannesburg wees.

Wanneer jy in Indië, Sri Lanka of in Bangladesj speel, kan jy jou in ʼn magdom draaiers op kolfblaaie vasloop wat reeds op die eerste of tweede dag begin verkrummel.

Maar wanneer jy in Suid-Afrika speel, moet jy vinnig kan aanpas teen ʼn arsenaal van snelbouers.
Die Indiërs, ongeag wêreldsterre soos Sachin Tendulkar, Mohammad Azharuddin, Virender Sehwag, Rahul Dravid, Sourav Ganguly, MS Dhoni, VVS Laxman en Virat Kohli het in die verlede teen die Suid-Afrikaanse snellers, soos Allan Donald, Shaun Pollock, Dale Steyn, Vernon Philander en Morné Morkel gesukkel.

Kraigg Brathwaite (R) van Wes Indië word uitgeboul deur Anrich Nortjé (L) (Foto: Randy Brooks /AFP)

Nou kan Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Duanne Olivier daarop voortbou en weer die grondslag lê.

Groot druk gaan op Kohli geplaas word. Hy sal swaar op KL Rahul, Mayank Agarwal, Cheteshwar Pujara en Ajinkya Rahane steun. Maar sal hulle die mas kan opkom?

Kohli het laas in 2019 ʼn honderdtal aangeteken en sy kolfgemiddeld vanjaar is slegs 28,4.

Pujara het in die afgelope 42 toetse nog nie ʼn honderdtal aangeteken nie en Rahane se kolfgemiddeld in sy laaste 16 toetse is slegs 24,39.

Ja, gebeure van die veld af kan ʼn rol by die Suid-Afrikaners speel, maar wees verseker dat die spelers se aandag op die veld net op ʼn reeksoorwinning sal wees.

Indië kon sedert 1992 toe hy die eerste keer in Suid-Afrika getoer het, nog net twee toetse in Suid-Afrika wen.

Dit was in 2006‑’07 op die Wanderers en in 2010‑’11 in Durban, toe Indië die Internasionale Krieketraad se beste toetsspan was.

Die Indiërs kon nog nooit ʼn reeks in Suid-Afrika wen nie en van hul 14 oorwinnings in 39 toetse teen Suid-Afrika, was 12 daarvan in Indië, op draaiersvriendelike blaaie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anton ·

Sal die klomp jammer balle maar mis. Die Feesgety is mos daar om gelukkig te wees

Philip ·

Afrikaans en behoudende Afrikaners en andere word gereeld in die bek geskop en moet op die agtergrond om die gunste van die vyandiggesinde base probeer meeding.Die vordering van EX Afrikaners in oorsese spanne is n EYE OPENER so daarom stel duisende mense nie meer regtig in BOL /BOL in SA. belang nie veral as daar verwag word om te kniel met n vuisie in die lug dit is belaglik.

Eden ·

Nodeloos om te sê ek ondersteun die Indiërs teen die rasbehebte Protea klug.

Pieter ·

Boikot ons nie die proteas nie? Maar almal hier weet wat daar aangaan.

Jr ·

India is GOING TO RUN CIRCLES AROUND YOU. JULLE KAN ALLES VERLOOR SO VER DIT MY AANGAAN. MOENIE VERGEET OM TE KNIEL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.