SA diereredder gestrand in Oekraïne

Lionel de Lange (Foto: Warriors of Wildlife/Facebook)

’n Suid-Afrikaanse diereredder van die Oos-Kaap probeer uit Oekraïne vlug nadat hy net vroeër vandeesweek na dié land gevlieg het om ’n mishandelde beer vanaf Oekraïne na Roemenië te skuif.

Lionel de Lange van Gqeberha (Port Elizabeth) het Dinsdag in Oekraïne geland, min wetend dat Rusland net enkele dae daarna dié land sou binneval en volskaalse oorlog verklaar.

Die beer, genaamd Masha, se verskuiwing is nou vir eers gestaak terwyl De Lange spook om by die Moldawië-Roemenië-grens in die suide van Oekraïne uit te kom, in ’n poging om dié grens oor te steek.

De Lange vertel dat dit vir hom baie sleg was om Masha agter te laat, hoewel sy tans in die weste van Oekraïne – ver van waar die oorlog in die noorde woed – versorg word. “Sy is veilig en daar is iemand wat na haar omsien.”

Die permitte vir Masha se verskuiwing is gelukkig tot Mei vanjaar geldig en De Lange hoop sy kan voor dán verskuif word.

“Nou is dit egter beter vir my om net terug te keer huis toe,” het hy vanoggend te midde van opgeskorte vlugte vanuit Oekraïne aan Maroela Media vertel.

Roemenië en Pole sal De Lange in dié stadium waarskynlik inlaat, maar ’n tekort aan brandstof kan hom dalk kelder. De Lange het sy motor met brandstof volgemaak en hoop en bid nou dat dié tenk brandstof hom tot by die grens sal hou.

Hy het aanvanklik probeer om op ’n veerboot vanaf Odessa in Oekraïne na Turkye te vlug. Dié diens is egter 30 minute nadat hy sy kaartjie gekoop het, opgeskort.

“Die mense hier het almal voorraad aangekoop. Ek het dieselfde gedoen en nou soek ek desperaat na ’n grens.”

Op die vraag of hy bang is, antwoord De Lange: “As enigiemand in Oekraïne nou vir jou sê hulle is nie bang nie, sal hulle jok.

“Ek is nie ’n burger nie en kan nie ’n vuurwapen kry nie. Ek voel kaal om te weet dat ek nie iets het waarmee ek myself kan verdedig nie.”

Die beer, genaamd Masha. (Foto: Warriors of Wildlife/Facebook)

De Lange is geen vreemdeling in Oekraïne nie en het vroeër 11 jaar lank daar gewoon. Hy het ook as deel van sy organisasie, Warriors of Wildlife, al verskeie wilde diere uit private sirkusse en private eienaarskap in Oekraïne gered.

Sy vrou kom ook gewoonlik saam wanneer hulle verskuiwings in Oekraïne doen. Sy het egter hierdie keer in Suid-Afrika agterbly. De Lange sê hy is dankbaar daarvoor. “Dit is makliker vir my om op my eie te beweeg, maar dit is ook baie eensaam …”

De Lange word dan vir ’n oomblik deur sy emosies oorweldig.

“Dit is nie ’n lekker gevoel om heeltemal op jou eie te wees nie. Ek was destyds in die grensoorlog in Suid-Afrika, so ek was al in hierdie soort situasie, maar dit is nie dieselfde nie. Ek weet nie wat vir my om die volgende hoek wag nie.

“Ek voel baie alleen op hierdie oomblik.”

Hy het wel vriende wat aan die ander kant van die grens vir hom wag en hom help met reisdokumente. Vir eers moet hy net die grens bereik.

“Die Oekraïners is wonderlike mense. Hulle is oor die jare al ingeloop deur die Duitsers en die Russe. Nou weer die Russe, en ongelukkig spring die Weste nie in om hulle te help beskerm of om die integriteit van hul grense te beskerm nie.”

Reddingswerk in Oekraïne

Warriors of Wildlife het tot op hede reeds 28 leeus en een tier in Oekraïne gered voordat die diere na wildreservate in Suid-Afrika gebring is. Dit sluit in die Simbonga-wildreservaat in die Oos-Kaap wat aan De Lange en sy vrou behoort.

De Lange het ook reeds 13 bere uit haglike omstandighede in Oekraïne gered. Masha – wat hy vier jaar gelede ook gered het – sou sy 14de beer gewees het om na Roemenië geskuif te word.

“Ek wil net huis toe kom. En dan sal ek teruggaan om Masha te skuif.”

Klik hier om meer oor Warriors of Wildlife en hul bewaringswerk te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Irene

Baie sterkte aan jou, na hierdie berig glo ek gaan jy in baie Suid-Afrikaners se gedagtes, harte en gebede wees. Mag jy veilig na jou land terugkeer.

JM

Bid vir jou veilige tuiskoms.

Ansie

Lionel, jy’s in my gebede. Baie sterkte – ek glo en vertrou dat ons Vader jou veilig tuis sal bring. Baie sterkte ook aan die geliefdes.