SA diereredder veilig tuis uit Oekraïne

Lionel de Lange (Foto: Warriors of Wildlife/Facebook)

Lionel de Lange, die Oos-Kaapse diereredder wat hom in Oekraïne bevind het toe Rusland dié land verlede maand binnegeval het, is veilig terug in Suid-Afrika.

Hy gaan egter oor enkele dae weer terug na die oorloggeteisterde Oekraïne. Dít vir die mishandelde beer Masha, wat hy verlede maand noodgedwonge moes agterlaat toe hy te midde van die konflik uit Oekraïne gevlug het.

De Lange sê nou hy tref reëlings sodat hy “oor die volgende paar dae” vir Masha na Roemenië kan skuif soos aanvanklik beplan is.

De Lange het tydens sy vorige telefoniese gesprek met Maroela Media einde verlede maand nog gespook om by die Moldawië-Roemenië-grens in die suide van Oekraïne uit te kom. Hy kon sedertdien die grens oorsteek en van Roemenië na Suid-Afrika terugvlieg.

De Lange het verlede Dinsdag (1 Maart) in Suid-Afrika geland.

“Ek het te voet en per taxi gereis én geryloop om die grens na Roemenië oor te steek waar ek twee nagte in [die hoofstad] Boekarest kon oorslaap voor ek ’n vlug na Suid-Afrika gehaal het.”

’n Barmhartige Roemeense samaritaan het De Lange gehelp om tot in Roemenië te kom aangesien geen voetgangers by die betrokke grens toegelaat word nie. Dié man het De Lange in sy motor gelaai en hy kon só die land binnegaan en by ’n hotel in Boekarest tuisgaan.

Masha, die beer. (Foto: Warriors of Wildlife/Facebook)

De Lange vertel dat hy tydens sy eerste aand in die hotel in Boekarest vir die eerste keer veilig gevoel het. ’n Skuldgevoel het hom egter dieselfde aand beetgepak omdat hy vriende en van sy vrou se familie in Oekraïne agtergelaat het. Hulle kon of wou in daardie stadium nie die land verlaat nie.

Hy onthou dat hy onderweg na die grens talle boodskappe van vriende en familie tuis ontvang het. “Waar is jy? Waar is jy? Waar is jy?” het die boodskappe gelees.

Hy was in daardie stadium bekommerd oor wat “om elke hoek en draai” vir hom sou wag.

Hy is egter hierdie keer voorbereid om die oorlogsgeteisterde Oekraïne aan te durf. Hy beoog om binne die volgende paar dae Oekraïne via Roemenië binne te gaan. Hy gaan daar ’n motor koop waarmee hy by Masha in die weste van Oekraïne wil uitkom.

Die motor gaan egter vol humanitêre voorraad vir Oekraïners gelaai word.

“Hopelik help dit ’n paar mense. Dit gaan ongelukkig nie die hele nasie help nie …”

De Lange beoog om oor die volgende paar weke na Suid-Afrika terug te keer nadat hy Masha na ’n plek van veiligheid in Roemenië verskuif het.

Maroela Media het vroeër berig De Lange is geen vreemdeling in Oekraïne nie en het vroeër 11 jaar lank daar gewoon. Hy het ook as deel van sy organisasie, Warriors of Wildlife, al verskeie wilde diere uit private sirkusse en private eienaarskap in Oekraïne gered.

Warriors of Wildlife het reeds 28 leeus en een tier in Oekraïne gered, waarna die diere na wildreservate in Suid-Afrika gebring is. Dit sluit in die Simbonga-wildreservaat in die Oos-Kaap wat aan De Lange en sy vrou behoort.

De Lange het ook reeds 13 bere uit haglike omstandighede in Oekraïne gered. Masha – wat hy vier jaar gelede ook gered het – sal sy 14de beer wees om na Roemenië geskuif te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.