SA diplomaat in ongeluk in Oslo: Noorweë se versoek

Die Noorweegse vlag. Foto: http://aremobility.com/

Die Noorweegse vlag. Foto: http://aremobility.com/

Noorweë het Suid-Afrika versoek om amptelik afstand te doen van die diplomatieke immuniteit van een van sy diplomate ná ʼn motorongeluk in Oslo.

Die diplomaat, in sy 50’s, het glo Sondag kort ná middernag onder die invloed van alkohol bestuur toe hy teen ʼn ander motor gebots het. ʼn Paramedikus (29) is ernstig beseer in die botsing. Volgens die polisie in Oslo was hulle onderweg om die diplomaat se motor van die pad af te trek weens die manier waarop hy bestuur het. Die diplomaat het toe glo skielik weggejaag waarna hy teen die paramedikus se motor gebots het.

’n Polisiewoordvoerder het gesê die bestuurder van die motor het gelyk of hy onder die invloed van alkohol was. Beamptes van die ambassade wat by die ongelukstoneel opgedaag het, het egter geweier dat ’n blaastoets gedoen word, met verwysing na diplomatieke immuniteit.

Hilde Steinfeld, die Noorweegse departement van buitelandse sake se woordvoerder, het aan ANA gesê dat die departement Suid-Afrika se ambassadeur, Queen Anne Zondo, gedaag het om voor hulle te verskyn. ʼn Amptelike versoek is ook aan Suid-Afrika gerig om afstand te doen van die diplomaat se diplomatieke immuniteit sodat hy ondervra kan word en die saak wettig in Noorweë afgehandel kan word.

Ane Lunde, ook ʼn woordvoerder van die departement, het vroeër aan Oslo se Aftenposten-koerant gesê: “Ons beskou die voorval in ʼn ernstige lig. Daar word van buitelandse diplomate verwag om Noorweegse wette te gehoorsaam al het hulle diplomatieke immuniteit. Bestuur onder die invloed van alkohol is ʼn baie ernstige oortreding.”

Nelson Kgwete, woordvoerder van Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het Woensdag gesê die departement se regskenners oorweeg Noorweë se versoek.

Dit is egter nie duidelik of die diplomaat in Noorweë aangekla sal word nie. Tom Wheeler, ʼn voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur en diplomatieke kommentator, het gesê hy dink nie die diplomaat sal in Noorweë vervolg word nie. Hy het gesê dit is moontlik dat die diplomaat na Suid-Afrika herroep en hier gestraf sal word, moontlik deur van diplomatieke diens verwyder te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Tammy ·

Weereens word Suid Afrika in die skande gesteek. As daar nie wangedrag in die parlement is nie dan word daar moleste in ander lande gemaak. Dit is omdat die mense nie weet hoe om hulle te gedra nie. Wangedrag word dan in hulle eie land aanvaar, so hoekom sal hulle by die reels hou wanneer hulle buite die land se grense is?

Peet Schabort ·

Noorweë sal versigtig moet wees dat daar nie nou iewers ‘n greintjie van RASSISME insluip in hierdie aangeleentheid. Rassisme is veel erger as dronkbestuur . . .

MCS ·

Ha,ha! Die Diplomaat hier straf, wat n grap! Hier gaan dit telekker, sekere mense in die land is bowe die reg! Hoop hulle wil hom daar toesluit en die sleutel verloor!

Hennie ·

Jy het reg Peet!! En ons is nie eers geskok dat ‘n diplomaat homself nie kan gedra nie. Stadig maar seker besef die hele wereld dat Suid Afrika se mense ondergemiddeld en onopgevoed is. Geen wonder dat ons randwaarde elke dag tuimel nie!

GES ·

‘n Mens besef nie hoe belangrik integriteit en sober gedrag is nie. Noorweë was in die verlede baie vyandiggesind maar huidige gebeure het waarskynlik die oë laat oopgaan.

Sou die diplomaat herroep word en hier “gestraf” word gaan dit seker maar net ‘n waarskuwing wees. Na die waarskuwing sal cANCer die kader herontplooi sodat hy sy vernietingswerk elders kan voortsit.

Atas ·

Hierdie probleem is epidemies in die staatsdiens. Ek wonder wat die rusultate sal wees indien ongeskeduleerde blaastoetse op die parlement en munisipaliteite toe gepas word.

Nonnie ·

Dit behoort op nasionale TV gesit te word die dag as blaastoetse op staatsamptenare gedoen word, ons gaan ‘n chaotiese riller sien…….. he he he

Nonnie ·

Snaaks dat GEEN naam gepubliseer word nie…….he he he. Tipiese nuwe Suid Afrika, kastig ‘n diplomaat….. Geen wonder die rand tuimel in sy peetjie in nie. Gmf!!!

Willie Brits ·

Queen Anne Zondo is ons diplomat daar volgens my rekords… Ek se liewer niks verder nie….

Sarie ·

Dit help niks om te sê wat èk dink nie. Netnou is mý naam ook op die swartlys.. Ek vertrou maar dat mý rasgenote sal wèèt hoè om hulle te gedra, so-doende verdere negatiewiteit jeens “ons” ou volkie te bekamp… Èk is deur mý moeder geleer, om trots te wees op wiè ek is en wààr ek vandaan kom…. Deur mense van ander rasse te hààt op grond van hul velkleur, is sinneloos & belaglik!!! Ek verkies om met diegene te meng, wie dieselfde beginsels het as ek.. Indien ek superieur geag wil word, moet ek diè agting verdien!!!!

Sarel Strydom ·

Die ou gaan terug geroep en bevorder word. Dit is hoe dinge in SA gedoen word.

Jip ·

Sarel Strydom ek dink jy is reg.
Ek wonder nou net as ‘n diplomaat in ‘n ander land moord pleeg of steel, wat dan? Word alles ook onder ‘n kussing ingestoot?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.